SPAANSE GRIEP EIS BRILJANTE TOBIE MULLER SE LEWE
“Die dood het in ons land rondgewandel en op dié wandeling het hy duisende frisse, veelbelowende lewens afgemaai. Die gevolg is dat Oktobermaand, in ander jare ons mooiste lentemaand, in 1918 ’n maand van droefheid en angs vir die meeste van ons geword het.”
Dit skryf Die Huisgenoot in sy hoofartikel van Oktober 1918 oor die Spaanse griep, wat in 1918 oor die hele wêreld 25 miljoen lewens geëis het. Die blad haal ’n paar reëls uit C Louis Leipoldt se gedig “Oktobermaand” aan:
Ek dink die mense vier
Vir eeuwig in die hemel
Oktobermaand soos hier”
Die tweede strofe van die gedig begin met die bekende woorde: “Dit is die maand Oktober/ die mooiste, mooiste maand”. Maar Oktober 1918 was beslis nie Suid-Afrika se mooiste, mooiste maand nie.
Die siekte staan bekend as “Spaanse griep” omdat die koerante in Spanje aanvanklik die enigste was wat oor die siekte berig het. Elders in Europa het streng sensuur bestaan weens die oorlog. Daar was twee golwe in 1918 en een in 1919. Die eerste golf is vroeg in September 1918 die land by Durban ingebring deur soldate uit die Midde-Ooste en Duits-Oos-Afrika. Dit het versprei na die binneland van Natal en die Witwatersrand, waar duisende mynwerkers platgetrek is. Mense het gou herstel en min siekes is dood.
’n Paar weke later het die siekte kwaadaardiger geraak. ’n Nuwe mutasie (wat virus-longontsteking veroorsaak) is die land binnegebring deur soldate uit Frankryk en België, wat onderweg na Suid-Afrika by Freetown in Sierra Leone aangedoen het. Daar het die siekte reeds gewoed, en die kort en swak beheerde kwarantyn van 72 uur in Kaapstad kon nie keer dat siekes op die trein kom en die nuwe variant versprei na veral die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, die Suid-Vrystaat en Noord- en Wes-Transvaal nie. Suid-Transvaal, die Noord-Vrystaat en Natal is minder erg geraak.
In Kaapstad is in ’n stadium 400 per dag dood. Die meeste winkels was toe. Nou en dan het ’n trem gery. Die grootste deel van die verkeer was begrafnisstoete dag en nag. Mense het met rate na koerante gestroom. Een man wat geglo het aan “vars lug en diep asemhaal” het by die Burger-kantoor dood neergeval. Heelparty berekenings is gemaak van die aantal slagoffers, maar dis onmoontlik om dit met sekerheid te bepaal. Prof. Howard Phillips, ’n historikus wat ’n deeglike studie gemaak het, meen daar is tot 300 000 mense dood. Slegs in Wes-Samoa (25%) en Indië (6,2%) was dit hoër.,
Ds. JD Kestell van die NG gemeente Bloemfontein vertel: “Nooit sal ek die toneel vergeet toe ek die naweek van 4 Oktober ’n diens elders waargeneem het en by my terugkeer die Maandagmôre agterkom daar is geen verkeer op straat nie. Orals was mense meteens siek. Die hospitale was oorvol en ander geboue en skole is as verpleegplekke ingerig. Die talle mense wat ek te ruste moes lê, het by die dag toegeneem – eers ses, toe tien en uiteindelik meer as twintig per dag. Omdat talle tot sterwens toe siek was, kon ek moeilik met woorde uit die Skrif of met ’n gebed vertroosting of selfs sieleredding bring. Om nie soseer kinders of ou mense nie, maar veral manne in die fleur van hul lewe dag na dag tientalle te sien sterf en by die graf van soveel geliefde gemeentelede afskeid te neem, het my aangegryp en bevrees gemaak of daar ooit ’n keerpunt in die epidemie sou intree.”
Die Huisgenoot maak in Oktober 1918 melding van verskeie gestorwenes. Daar was Fred Dormehl, die “wakker en ijwerige” bestuurder van die Nasionale Pers (uitgewer van Die Huisgenoot). Ook Ruysch van Dugteren, wat twee jaar lank mederedakteur van Die Huisgenoot was.
“En wie kan vir Tobie Muller ooit vergeet – die voorbeeldige jonge predikant en knappe geleerde, die ernstige volksman en onbedugte kampvegter vir die Afrikaanse taal en die Afrikaanse volksaak, een van die oprigters en redakteurs van ‘Ons Moedertaal’, die tijdskrif wat nou verenig is met Die Huisgenoot? Die feit dat Tobie Muller vergoed van ons weg is en sij plek onder ons leegstaan, is ongelooflik en onbegrijplik.”
In Desember 1918 plaas Die Huisgenoot ’n artikel van Gordon Tomlinson, een van Muller se mede-aktiviste in die taalstryd op Stellenbosch. Hy noem dat Muller en ander taalaktiviste met ’n deel van die kerkraad en gemeente van die NG kerk op Stellenbosch gebots het oor die gebruik van Afrikaans as kerktaal. Muller het toe liewer as hulpprediker bedank as om sy beginsel prys te gee en van Afrikaans af te sien. Gelukkig kom ’n skikking bereik word.
In 1916 was hy ’n ruk lank waarnemende professor in wysbegeerte aan die Victoria-kollege, voorloper van die Universiteit van Stellenbosch. Byna gelyktydig met ’n aanbod om permanent as professor aan te bly, kry hy ’n beroep na die NG gemeente Philippolis in die Vrystaat. Volgens Tomlinson was dit moeilik om ’n keuse te maak. Aanvanklik het hy die beroep van die hand gewys, maar “na ’n bange dog stille worsteling” het hy dit aangeneem en vertrek na die Vrystaat tot groot spyt van sy studente.
Soos ’n mens kon verwag, het hy dadelik Afrikaans in die kerkdienste gebruik in plaas van “amper-Nederlands” waaraan hy so ’n hekel gehad het. Hy was volgens Tomlinson die eerste NG predikant wat Afrikaans in ’n huweliksplegtigheid gebruik het. Dit was by die huwelik van Tomlinson en sy vrou in 1916.
Oor Muller se laaste week op aarde skryf Tomlinson: “Plotseling verskijn die griep in Philippolis. Albei die geneeshere in die bed. ’n Paniek onder vele. Wie anders dan hij in die bresse? Twee dae siek en nog steeds die werk van sy Meester verrigtende. Swak tot die dood in bed. Longontsteking, hoë koors, min hoop.”
Hy was al siek toe hy op Sondag 13 Oktober 1918 die diens waargeneem het, en is die namiddag per motor na ’n plaas waar die hele gesin siek was. Op 25 Oktober is hy oorlede en die volgende dag begrawe. Net ’n paar mense, hoofsaaklik ou mense en kinders, kon die begrafnis bywoon.
Nog ’n kultuurman wat oorlede is, was dr. Guillaume Marais, ’n Oos-Transvaalse veearts. Ná die griep het ds. MTR Smit ’n weeshuis vir verwaarloosde kinders op Ugie begin wat deur die jare duisende kinders vir die kerk – en die taal – gered het.
Onregstreeks het die griep gelei tot die totstandkoming van AVBOB in Bloemfontein. ’n Aantal klein begrafnisfondsies het weens die baie griepsterfgevalle in duie gestort. ’n Nuwe onderneming is toe begin wat weens wanbestuur misluk het. Op grond van ’n verslag van HH van Rooijen, gebore Nederlander wat hom volkome met die Afrikaners vereenselwig het, het die Afrikaanse Verbond Spaar- en Voorskotkas Bpk dit ter wille van die Afrikanersaak oorgeneem en dié het die Afrikaanse Verbond Begrafnis Onderneming Bpk, AVBOB, opgerig. Van Rooijen was jare lank bestuurder. In 1938 het AVBOB 89 takke in die land gehad, veral op oorwegend Afrikaanse plekke.