BERTIE REED (1943-2016)
Bertie Reed was die eerste Suid-Afrikaanse seiljagvaarder wat drie keer alleen om die wêreld gevaar het.
Stanley John Reed is op 19 Januarie 1943 in Port Elizabeth gebore en het in 1961 by die Suid-Afrikaanse Vloot aangesluit. Hy het begin seil terwyl hy in die vloot was, en het altesaam 21 jaar lank in die vloot gedien. Hy was ’n adjudant-offisier in die vloot, en dis hier waat hy sy bynaam, Bertie, gekry het. Sy alleenvaartloopaan het in 1982 in alle erns begin toe hy die eerste BOC-alleenvaart op voorgee gewen het. In die 1982/83 BOC-uitdaagwedvaart het Reed tweede met sy sieljag Voortrekker, wat in Knysna gebou is, geëindig, ten spyte van die feit dat dié seiljag veertien jaar oud was en as verouderd beskou is. Dit het Reed, wat toe al 39 jaar oud en die pa van vier kinders was, in die kollig geplaas. In die 1986/87-BOC-wedvaart het hy sewende met sy seiljag Stabilo Boss geëindig.
Hy het die hoogste toekenning vir dapperheid, die Wolraad Woltemade-dekorasie, verwerf vir sy suksesvolle poging om ’n mede-seiljagvaarder, John Martin, te red. Tydens die 1990/91 BOC-wedvaart het Martin se seiljag gesink nadat dit ’n ysberg getref het. Martin het op daardie stadium voorgeloop. Oud-president FW de Klerk het hom vereer vir sy uitsonderlike seemanskap, dapperheid en sportmanskap. In 2006 is hy opgeneem in die heldesaal in Newport in die Amerikaanse staat Rhode Island, vir seiljagvaarders wat alleen om die wêreld geseil het. Hy het vyf keer Springbok-kleure vir seiljagvaart verwerf. Gedurende sy leeftyd het hy 170 000 seemyl op ’n mededingende vlak gevaar; dit het 100 000 seemyl alleen om die wêreld ingesluit.
“Biltong Bertie”, soos hy alombekend was, het ’n voorbeeld en inspirasie vir jong seiljagvaarders geword, en het sy kennis oor seiljagvaart met mense van alle agtergronde gedeel. Hy is op 18 Desember 2016 in die ouderdom van 63 jaar aan kanker oorlede.
deur Daantjie Badenhorst