ENA MURRAY (1936-2015)
Ena Murray was ’n bekende Afrikaanse romanskrywer wat as “die mees gelese Afrikaanse skrywer ooit” beskou is en deur ’n opname deur Radio Sonder Grense en Tafelberg-uitgewers as die gewildste Afrikaanse skrywer tot nog toe aangewys is.
Ena Mans is op 27 Desember 1936 in die Karoodorp Loxton gebore; sy was die middelste van drie dogters van die plaaslike geneesheer dr. Andries Mans en sy vrou Anna. Nadat sy haar laerskoolloopbaan op Loxton voltooi het, het sy aan die Hoërskool Victoria-Wes gematrikuleer. Hierna was sy twee jaar lank ’n verpleegster in Bloemfontein en in 1959 is sy getroud met Boet Murray, ’n boorkontrakteur wat van haar geboortedorp afkomstig was. Hulle het hulle op Loxton gaan vestig, en nadat sy twee miskrame gehad het, het sy ’n histerektomie ondergaan, met die gevolg dat sy nooit haar eie kinders gehad het nie. In 1979 is hulle geskei en in dieselfde jaar het sy haar op Wildernis naby George gaan vestig. Sy het haar huis “Plekkie in die son” genoem, na aanleiding van haar roman wat ’n trefferrolprent geword het.
Op laerskool is sy reeds beskou as die beste opstelskrywer in haar klas, en sy was toe al bewus van haar begeerte om stories te skryf. Reeds op veertienjarige ouderdom het sy die kort novelle “Minnaars van die glimmende simitar” geskryf, en in 1960 is dit as vervolgverhaal in die tydskrif Rooi Rose gepubliseer. Dit het so gewild geword dat sy dit met “Die rowerprins van El Marco” opgevolg het. Haar eerste roman, Lise het in 1960 verskyn, en daarna het nog 130 boeke gevolg. Twee van haar romans is verfilm. Die Christelike rolprentmaatskappy Carfo het “Vrou uit die nag” verfilm, met Wilna Snyman, Louis van Niekerk, Francois Stemmet en Wena Naudé in die rolverdeling. Dit handel oor ’n vrou wat in die nag op die klein dorpie Saailaagte in die Vrystaat aankom en almal aan die skinder het weens haar dwelmgebruik. “Plekkie in die son” het in 1979 gevolg. Jana Cilliers het die rol vertolk van ’n melaatse vrou wat in ’n inrigting gewoon het. Vir haar navorsing het Murray saam met melaatses in die inrigting Weskoppies naby Danville in Pretoria gaan woon. Onder die ander bekende akteurs in die rolverdeling van die rolprent was Regardt van den Bergh, sy ewe bekende ma Dulcie van den Bergh, Eckard Rabe, Magda Beukes en Elma Potgieter.
Haar verhale is altyd vooraf fyn beplan met ’n raamwerk wat die intriges uiteengesit het en sy het met verloop van tyd al hoe meer aktueel begin skryf. Sê vir Pappa handel byvoorbeeld oor ’n pedofiel en die kleurkwessie kom ook hierin ter sprake. Haar mediese kennis het in verskeie verhale tot uiting gekom. In Dae van ons nietigheid het Kongokoors ter sprake gekom. Kort nadat die boek vrygestel is, het Murray ’n brief van ’n verpleegster af gekry. Die verpleegster het gesê sy kon ’n pasiënt in ’n kritieke toestand korrek diagnoseer na aanleiding van Murray se beskrywing van die siekte. In 1993 het Murray ophou skryf nadat sy artritis opgedoen het, maar baie van haar boeke is herdruk en heelwat omnibusse van haar werk is vrygestel. Daarby is haar boeke ook in grootdruk en in braille gedruk en deur Bandhulp vir Blindes op band opgeneem. Benewens romans het sy ook geestelike boeke geskryf, onder meer Daaglikse gesprek met Ena Murray en ’n Stil oomblik saam met Ena Murray. Haar digbundel Roosknop vir ’n engel het die gedig “Aan ’n fetus in ’n bottel” bevat; hierin het sy die hartseer oor haar twee miskrame beskryf. Die sukses van haar werk het gemaak dat sy haar eie uitgewery, Ena Murray Boeke, in vennootskap met Johnny Bonen van Pinetown in KwaZulu-Natal gestig het. Hierdie uitgewery, wat in Durban geleë was, het sommige van haar romans gepubliseer. In 2012 het sy R 10 000 aan die Erfenisstigting geskenk, ter ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein.
Twee jaar na haar egskeiding is Murray getroud met Jacques Mostert, wat sy tydens ’n toe-oë-afspraak ontmoet het. Hy was ’n landboukundige en hulle is in Hoekwil se kerkie getroud. Hulle het hulle aanvanklik in haar huis gevestig maar tien jaar later het hulle na die aftreeoord Santos Haven in Mosselbaai verhuis. Hulle het ook ’n huis by Kanonpunt naby Mosselbaai besit waar hulle hul naweke deurgebring het. Hoewel sy nie haar eie kinders kon hê nie, het sy wel drie stiefkinders as gevolg van haar tweede huwelik gehad. Toe Alzheimer in 2007 by Jacques gediagnoseer is, het hulle na die versorgingseenheid van die aftreeoord verskuif. Toe longkanker by haar gediagnoseer is, het sy besluit om nie daarvoor behandel te word nie.
Sy is op 4 Junie 2015 in die ouderdom van 78 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst