JN BOSHOF(F) (1808-1881)
Jacobus Nicolaas Boshof was die tweede president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Dit is opvallend dat hy sy van met een “f” spel. Hierdie verandering in spelling het hy self aangebring terwyl hy president was. Wanneer hy staatsdokumente moes teken, het die ink geklad waar die “ff” se strepies so na aan mekaar was. Daarom het hy een “f” weggelaat en vir die res van sy lewe sy van so gespel. Almal wat dié spelling gebruik, is sy nageslag.
Biografiese gegewens
JN Boshoff is in 1808 in die Swellendam-distrik, naby die huidige Montagu, gebore. Formele skole was op daardie stadium nog skaars in die Kaapkolonie, maar Boshoff was gelukkig om onder ds. W Robertson skool te gaan. Hy het ’n deeglike opleiding gekry, sodat hy daarna in Graaff-Reinet as landdrosklerk aangestel is. In 1827 is hy met Adriana Petronella Gertruida van Aswegen getroud; ’n huwelik wat tot met haar dood in 1878 geduur het.
Na ’n besoek aan die Voortrekkers in 1838 is Boshoff uit sy pos ontslaan. Hy is daarna terug na Natal, waar hy ’n lid van die Volksraad geword het. Hy het in daardie pos gebly tot die Volksraad in 1847 beëindig is. Hy het in die Kliprivier-omgewing naby Pietermaritzburg geboer.
In 1855 is Boshoff tot president van die Oranje-Vrystaat verkies. Sy werksaamhede gedurende die vier jaar wat hy die pos beklee het, word in die volgende afdeling bespreek.
In 1859 het Boshof (soos sy van toe gespel is) as Vrystaatse president bedank en hom weer permanent op sy Natalse plaas gevestig. In 1862 is hy tot die Natalse Wetgewende Raad verkies en het die pos tot 1873 beklee. Daarna het hy permanent uit die openbare lewe getree.
Na Boshof se vrou in 1878 oorlede is, het hy in 1880 met Louisa Perry van der Berg getrou. Die huwelik is egter kortgeknip toe hy in 1881 op 73-jarige leeftyd oorlede is. Vir die tyd waarin hy geleef het, was dit ’n hoë ouderdom.
Openbare lewe
Die meeste Afrikaners in die Kaapkolonie was ongeleerde mense wat net die basiese vaardighede van lees, skryf en reken vir die boerdery en kerklidmaatskap onder die knie gekry het. Amptenare het selde uit die geledere van die boeregemeenskap gekom, omdat die meeste van hulle nie die belangstelling of opleiding daarvoor gehad het nie. Boshoff het ook nie in die regte gestudeer nie, maar het oor genoeg kennis beskik om in die junior posisie van landdrosklerk aangestel te word. Dit sou ’n logiese verloop van sake wees dat hy tot landdros sou vorder.
Die meeste Voortrekkers het uit Graaff-Reinet gekom. Die beweging moes Boshoff se belangstelling geprikkel het, want tydens sy verlof in 1838 het hy besluit om hulle in Natal te besoek. Die owerheid het die Voortrekkers as opstandelinge beskou, wat die binneland ingetrek het om slawerny weer in te stel en ’n wilde, wettelose lewe te lei. Dit is waarskynlik hierdie opvattings wat Boshoff eerstehands wou ondersoek.
Boshoff se indruk van die Voortrekkers was besonder gunstig. Met sy terugkeer na die kolonie het hy ’n aantal verslae geskryf wat in die Grahamstown Journal gepubliseer is – dieselfde koerant waarin die trekleier Piet Retief sy bekende Manifes laat publiseer het. Die owerheid was egter nie met Boshoff se keuse van vakansiebedrywighede beïndruk nie. Met sy terugkeer is hy uit sy pos ontslaan. Vir Boshoff was daar min ander keuse as om hom by die Voortrekkers aan te sluit.
Vroeg in 1838 het die dood van Gerrit Maritz, ’n selfopgeleide regsgeleerde, ’n groot leemte gelaat. Die Voortrekkers wou ’n staat tot stand bring, maar het min mense met die nodige kennis gehad. Boshoff kon daardie leemte vul. Hy is kort na sy aankoms tot die volksraad verkies, waar hy vir die opstel van talle wette en regulasies verantwoordelik was.
Dit word algemeen aanvaar dat hy vir die grondwet van die Republiek Natalia verantwoordelik was. Dié grondwet het nie vir ’n president voorsiening gemaak nie, om te voorkom dat een mens te veel mag kon kry. Die onbedoelde gevolg was dat dit geweldig moeilik was om doeltreffend te regeer.
Boshoff het ook die volksraad se protes teen Britse oorname in 1842 geformuleer. Nie net die Boere self nie, maar ook die Britse owerheid, was daarmee beïndruk. Na Britse oorname het die volksraad tot in 1847 gefunksioneer met Boshoff as prominente lid daarvan.
Intussen is die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier in 1854 deur Brittanje as die Republiek van die Oranje-Vrystaat erken. Tevore was dit die Oranjerivier-soewereiniteit, onder Britse beheer. Voortdurende botsings met die Basotho onder Mosjesj het Brittanje oortuig dat dit te duur sou wees om die gebied te behou. Vir die jong republiek sou dit ook die grootste bedreiging wees. Die eerste president, Josias Hoffman, het volgens sy volksraad die saak besonder swak hanteer. Minder as ’n jaar na sy verkiesing is hy gedwing om te bedank.
Die distrikte Winburg en Potchefstroom was tevore deel van die Republiek van Natalia. Daarom was Boshoff ook aan die Vrystaters bekend. As gevolg van sy bydrae in daardie volksraad, is hy genader om hom in 1855 as Vrystaatse president beskikbaar te stel. Hy het byna 1200 stemme gekry en die tweede kandidaat 180. Daar was altesaam vier kandidate. Drie take het voor Boshof gelê: Hy moes die grondslae van ’n nuwe staat lê, hy moes die kwessie met die Basotho’s oplos en hy moes sy republiek se verhoudings met die ander republiek en die Britse kolonies vestig.
Met die eerste taak was Boshof besonder suksesvol. Met sy vorige ervaring het hy besef dat ’n staat net onafhanklik kon wees as dit doeltreffend regeer kon word. Daarvoor was ’n bekwame staatsdiens noodsaaklik. Al was die Vrystaat ’n arm landjie, kon hy die grondslae daarvoor lê.
Die tweede taak was veel moeiliker. Die Basotho is ’n volk wat tydens die groot uitdelgingsoorloë tot stand gekom het. Hulle hoofman, Mosjesj, het in die Malutiberge gevestig en beskerming aan ander groepe verleen. Hy het hulle tot ’n volk saamgesnoer, maar heeltemal anders as wat Shaka met die Zoeloes gemaak het. Pleks dat dit ’n gesentraliseerde politieke eenheid was waarop die koning sy wil afgedwing het, was dit ’n losse federasie van stamme wat deur diplomasie en wedersydse voordeel bymekaargehou is. Sou die ander stamme voel dat deelname aan Mosjesj se ryk nie tot hulle voordeel was nie, kon hulle maklik besluit om die eenheid te verlaat.
Dit het herhaaldelik gebeur dat Mosjesj ooreenkomste maak, waarvoor sy onderdane nie kans gesien het nie. Dan het hulle die geïgnoreer en Mosjesj was magteloos, sowel as onwillig, om hulle te dwing. Die Boere het min begrip vir hierdie stand van sake gehad.
Mosjesj kon hom doeltreffend teen ekspedisies van die Vrystaatse Boere verdedig, deur in sy bergvesting te skuil. Dié vesting, Thaba Bosigo (Berg van die nag) was net met een voetpad toeganklik. Die paadjie het egter na ’n groot plato gelei, waar dit moontlik was om vee aan te hou en gewasse te plant. Hoewel Basotho’s oor die algemeen nie verkies het om daar te woon nie, was dit ’n gerieflike en veilige skuilplek tydens konflik.
Die nuwe Vrystaatse republiek en die Basotho’s het in sekere dele op dieselfde grond aanspraak gemaak. Dit was veral die Oos-Vrystaatse vlaktes, wes van die Maluti-berge. Met die Groot Trek het die Basotho’s hoofsaaklik in hulle bergskuilings teen die gevaar van Zoeloes, Matabeles en Tlokwas geskuil. Die Voortrekkers het nie besef dat die Basotho’s tradisioneel oor ’n baie groter area versprei was nie en hulle onwetend op Basotho-grond gevestig. Dit was die bron van aanhoudende konflik tussen hierdie twee groepe.
JN Boshoff het president van die Vrystaat geword, nadat sy voorganger na minder as ’n maand gedwing is om te bedank. Dit was juis die gevolg van sy swak hantering van die konflik met Basotho’s. Hy het met Mosjesj onderhandel en by twee geleenthede ooreenkomste bereik. By al twee geleenthede was Mosjesj onwillig of nie in staat nie, om sy onderdane daaraan te hou. Daarom het dit ook elke keer tot oorlog gelei. Dit was die Basotho-oorloë van 1856 en 1859. Tydens albei oorloë is die Basotho gevoelige verliese toegedien, maar kon Thaba Bosigo nie inneem nie. Dit het dus onbeslis geëindig.
Die Vrystaatse geskiedenis van stabiliteit sedert 1860 (veral in vergelyking met die ZAR) maak dat ’n mens maklik miskyk hoe ernstig die krisis voor 1860 was. Min mense, Vrystaters en ander, het gedink dat die jong republiek die mas sou opkom. Die meningsverskil was eerder oor wie se steun gevind moes word. Die sterk republikeine, veral in die noordelike distrikte, was sterk ten gunste van aansluiting by die ZAR. In die suidelike distrikte het trekboere, wat niks teen Britse oorheersing gehad het nie, oorheers. Hulle wou by die Kaapkolonie aansluit.
Hoewel Boshof ’n Voortrekker was, het hy meer vertroue in aansluiting by die Kaapkolonie gehad. Hy het met die Britse owerhede daaroor onderhandel, maar dit was nie die soort besluit wat maklik geneem kon word nie. Die Vrystaat is in die eerste plek onafhanklikheid gegee omdat Brittanje sy verantwoordelikhede in die binneland wou beperk. Boshof is gedwing om met MW Pretorius, president van die ZAR, oor vereniging van die republieke te onderhandel. Weens verdeeldheid in Transvaal het dit ook nie gerealiseer nie.
Uiteindelik het Boshof met goewerneur George Grey van die Kaapkolonie ooreenkoms bereik dat die Vrystaat by die Kaapkolonie sou aansluit. Grey moes net wag vir bevestiging uit Brittanje self, wat toe nooit gekom het nie. Inteendeel, Grey is in sterk taal tereggewys vir sy inisiatief in die verband en na Engeland teruggeroep.
Na die ooreenkoms met Grey het Boshof etlike maande verlof geneem en Natal toe gegaan om uit te rus. Dit is waar hy verneem het dat Grey teruggeroep is en self besluit het om die tuig as Vrystaatse president neer te lê. In sy plek is MW Pretorius verkies. Dit het gelyk of eenwording tussen die republieke net ’n kwessie van tyd was, aangesien Pretorius president van albei was. Tog het die nie so uitgewerk nie en Pretorius moes kort daarna uit albei poste bedank.
Natal het as Britse kolonie verteenwoordigende regering gekry en Boshof is in 1862 as lid van die wetgewende raad verkies. Sy ervaring, deeglikheid, vermoë om juridies te dink en sin vir doeltreffende regering het hom ’n waardevolle lid van die raad gemaak. Hier het hy tot 1873 gedien in die laaste skof van sy openbare loopbaan
Buiten etlike strate in Vrystaatse dorpe wat na Boshof vernoem is, is die dorp tussen Bloemfontein en Kimberley die bekendste verering van sy naam. Hy het nie spesifiek met die stigting van die dorp te doen gehad nie, maar het wel ingestem om as beskermheer daarvan op te tree. Daarom is dit na hom vernoem. Die Universiteit van die Vrystaat het vir meer as twintig jaar ’n jaarlikse JN Boshof-gedenklesing oor Publieke Administrasie aangebied. Dit was ’n vorm van erkenning vir Boshof se deurslaggewende rol om ’n sterk en verantwoordbare staatsdiens vir die Vrystaat tot stand te bring.
Slot
JN Boshof is een van die minder bekende name in die Afrikaner se geskiedenis. Sy rol om die Vrystaat ’n sterk en onafhanklike staat te maak, moet nogtans nie misgekyk word nie. Dit is op ’n manier selfs ironies, omdat hy self ten gunste van samewerking met die Britse owerheid was. In daardie opsig is sy loopbaan ’n vae spieëlbeeld van die veel meer suksesvolle bewind van Jan Brand.