PG DU PLESSIS (1938-2017)

PG du Plessis was ’n bekende Afrikaanse skrywer, dramaturg en akademikus wat ’n groot bydrae in verskeie mediums gelewer het.

Pieter Georg du Plessis is op 14 Julie 1938 op die Vrystaatse dorp Boshof gebore. Hy het sy skoolopleiding by die plaasskool op Kameelpan begin, waarna hy op Cornelia, waar sy pa ’n Engelsonderwyser was, skoolgegaan het. Hy het sy skoolopleiding aan die Hoër Volkskool op Heidelberg in Gauteng voltooi. Op skool het hy tennis, rugby en krieket gespeel en hy was lid van die Christen-studentevereniging (CSV). Toe hy in standerd 9 was, is ’n gedig van hom in Die Huisgenoot gepubliseer. Daarna het hy aan die Universiteit van Pretoria studeer, en sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis as hoofvakke ontvang. Op universiteit het hy aan verskeie studentebedrywighede deelgeneem; hy was onder meer lid van die Afrikaanse Studentebond en assistentveldkornet aan die Christiaan de Wet-Voortrekkerkommando by die Laerskool Pretoria-Oos.

Nadat hy sy graad verwerf het, het hy by die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie as klerk gewerk terwyl hy deeltyds in die onderwys aan die Pretoria Onderwyskollege studeer het. Nadat hy sy Transvaalse Hoër Onderwysdiploma verwerf het, het hy by die Hoërskool Fakkel in Johannesburg skoolgehou. Hier het hy die skoolhoof se dogter, Marie van der Merwe, met wie hy later getroud is, ontmoet. Benewens onderwys was hy betrokke by sportafrigting en terselfdertyd het hy die operette Baron Silvestro, wat deur die skool opgevoer is, saam met Tom Smit geskryf. In 1960 het hy die BA Honneursgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal en die volgende jaar was hy ’n dosent aan die Johannesburg College of Education. In 1962 het NP van Wyk Louw hom as dosent in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel en in 1968 is hy bevorder tot senior lektor, twee jaar nadat hy onder Van Wyk Louw gepromoveer het met ’n verhandeling getiteld “Die literêre verwysing aan die hand van die Afrikaanse poësie”, wat in 1968 as Die verwysing in die literatuur gepubliseer is. In die 1960’s het hy op die redaksie van die literêre tydskrif Kol gedien.

Op 1 Augustus 1978 het sy joernalistieke loopbaan as assistentredakteur van Die Transvaler begin, waarna hy op 15 Augustus 1979 as redakteur van Pretoria se middagkoerant Hoofstad aangestel is. Hoewel hy hierdie pos in Februarie 1983 verlaat het, was hy steeds ’n deeltydse medewerker by Perskor se koerante. Hierna het hy vryskutskrywer, rolprentvervaardiger en deeltydse boer geword. Die eerste televisieprogram wat hy aangebied het, was P.G. gesels met…, waarin hy onderhoude met bekende Suid-Afrikaners gevoer het. Daarby was hy ’n taalstryder wat in die uitgawe van 14 Julie 1964 van die koerant Sondagstem sterk beswaar aangeteken het teen die toekenning van die Hertzogprys aan Etienne Leroux se roman Sewe dae by die Silbersteins. Hy het daarop gewys dat daar ’n groot verskil tussen ’n boek van gehalte en ’n smerige boek was. Hy was ’n pleitbesorger vir ’n meer verantwoorde benadering tot sensuur as wat in die 1970’s in Suid-Afrika die geval was. By die eerste skrywersberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde by Broederstroom naby Brits in Noordwes het hy gewaarsku dat die Afrikaanse letterkunde vir die eerste keer in sy bestaan van staatsweë bedreig is, en dat die gilde die Afrikaanse letterkunde moes bevorder en alles wat die vrye bestaan van verantwoordelike letterkunde bedreig het, moes beveg. Kort daarna het hy en Bartho Smit met die destydse minister, dr. Connie Mulder, samesprekings oor sensuur gehou en in Desember 1975 saam met Chris Barnard aan ’n radio-onderhoud met dr. Mulder oor sensuur gevoer. In die Radio en TV Dagboek van 8 tot 14 Augustus 1977 het hy weer eens sy standpunt oor sensuur bevestig, naamlik dat letterkundige meriete van ’n werk by beoordeling daarvan in berekening gebring moes word, dat letterkundige werk deur kundiges beoordeel moes word en dat die waarskynlike leser die maatstaf moes wees.

Hy word veral onthou vir sy bydrae tot televisie en rolprente. Sy eerste draaiboek wat verfilm is, was Siener in die suburbs, waarin hy kyk na die stryd van arm mense om uit hul omgewing te ontsnap. Die rolprentweergawe is in 1973 vrygestel, met Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Wilna Snyman en Louis van Niekerk in die hoofrolle. Hy het dit opgevolg met ’n Seder val in Waterkloof, waarin hy die spot met aanstellerige en snobistiese professore en hul gades gedryf het. Dit het gehandel oor ’n professor en sy snobistiese suster wat besoek van twee vooraanstaande akademici ontvang het met die hoop dat hulle hom sal help om tot voorsitter van die akademie verkies te word. Terselfdertyd besluit die ongewenste familie van Krugersdorp, wat bestaan het uit ’n bou-inspekteur, sy platvloerse vrou, ongekultiveerde kinders en rowwe oom, om onverwags besoek af te lê. Volgens die rolprentresensent Leon van Nierop het die gehoor hulle in ’n ander bloedgroep in gelag. In 1978 het hy die televisiereeks TJ 7, oor ’n weduwee wat saam met haar “aangenome” familie van leeglêers en kansvatters in die Tramway-hotel in Fordsburg gewoon het, geskryf. Die legendariese aktrise Wena Naudé het die hoofrol vertolk, en sy is oorlede net nadat die reeks verfilm is. Onder die ander televisiedraaiboeke wat hy geskryf het, was Andries plak, Maplotters, Dryfsand en Feast of the uninvited. Laasgenoemde is later as ’n roman in Afrikaans vertaal onder die titel Fees van die ongenooides; dit is as een van sy belangrikste bydraes tot Afrikaanse letterkunde beskou.

Sy bekendste televisiewerk was egter Koöperasiestories met Mietie, Veldsman en Genis as hoofkarakters. Dit is ook in verskeie bundels gepubliseer en die televisiereeks, met Marie Pentz, Emgee Pretorius en Jacques Loots in die hoofrolle, was so gewild dat ’n rolprent, getiteld Liewe hemel, Genis, daaruit voortgespruit het. Hy het dit baie jare later opgevolg met die soortgelyke reeks met Skroef, Han en Toffie, onderskeidelik gespeel deur Deon Lotz, Elize Cawood en Frank Opperman as hoofkarakters. Hierdie reeks is in 2014 op kykNET uitgesaai. Tussenin was hy die mede-aanbieder van die televisiegeselsprogram Spies en Plessié…,met permissie saam met die legendariese Namibiese storieverteller Jan Spies. Onder die ander rolprente waarvoor hy die draaiboek geskryf het, was Weerskant die nag, Nag van die 19de en The devil and the song, die sanger Bles Bridges se lewensverhaal.

Op sy tagtigste verjaardag op 14 Julie 2014 is ’n spesiale konsert ter ere van hom by die Atterbury-teater in Pretoria opgevoer. Onder die deelnemers was Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Elize Cawood, Alexa Strachan en Frank Opperman.

Na sy aftrede het hy op die plasie Sémoér, by Rysmierbult naby Ventersdorp in Noordwes wat hy by sy skoonpa gekoop het, gaan woon. Hy is op 7 Junie 2017 in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst