DIE ROL VAN DIE VROU IN ONS MUSIEKERFENIS

Wes-Kaapse VLV-byeenkoms: Hernus Kriel-Gemeenskapsentrum, Parow, 29 Oktober 2022

Deur Marthinus van Bart

Die invloedryke Chinese filosoof, akademikus en kultuurskrywer dr. Lin Yu-tang (1895-1976) skryf in 1941 in sy boek With Love and Irony, hy het ’n groot geloof in die nugtere, verstandige denke van vroue, en in hul intuïsie of “Sesde Sintuig”, hul lewensinstink. Vroue leef ’n betekenisvoller lewe as mans. Hulle leef veel nader aan die menslike bestaansaktiwiteit. Hulle verstaan mans, terwyl mans vroue nooit kan peil nie. Vroue leef die lewe, terwyl mans daaroor praat. Vroue bring kinders in die wêreld, versorg en voed hulle op totdat hulle as jong volwassenes op hul eie bene kan staan. Deur die toedoen van vroue is daar kulturele kontinuïteit en maatskaplike solidariteit. In ’n wêreld sonder vroue sou daar gewis geen etiket, gebruike, fatsoenlikheid en ordentlikheid wees nie. Vroue is van nature hierop ingestel; hul intuïsie oorskadu die manlike logika by verre.

’n Ou Westerse spreekwoord gee Lin Yu-tang gelyk: “Die hand wat die wieg skommel, regeer die wêreld.”

Toe ek onlangs in ’n radio-onderhoud met die musiekstudent Mia-Lana Hough en die veteraan-musikant Jannie du Toit hoor sy vertel dat sy aan ’n musiekkompetisie van Jannie en die ATKV op aanbeveling van haar moeder deelgeneem het – sy het dan ook met die eerste prys weggestap – was dit soos musiek in my ore:

Ek het dadelik aan die rol van my eie moeder gedink om by my ’n belangstelling in en liefde vir musiek aan te kweek. Sy het my en my twee broers van jongs af klavierlesse laat neem, het Saterdagaande vir ons grammofoonplate met klassieke musiek en volksmusiek gespeel, en so musiekwaardering by ons ingeskerp. Ook het sy graag gedigte, soos dié van C Louis Leipoldt en Eugène Marais, aan ons voorgedra, en uit haar FAK-Sangbundel van 1937 het sy van die pragtige liedere vir ons gesing. Ons het haar Maatjie genoem.

Sedert my aftrede einde 2013 – na veertig jaar in die koerantwese – hou ek my met musiekdinge besig, en doen ek onder meer musieknavorsing: Ek het die nagereg vir laaste gebêre. Hierdeur het ek intens bewus geword van die haas ongelooflike verhaal van Afrikaanse musiekontwikkeling oor die afgelope 370 jaar: ’n Verhaal waaroor nog nooit ’n opvoedkundige dokumentêre rolprent of video gemaak is nie. Ek het my gedagtes hieroor met ’n rolprentvervaardiger bespreek, en hy het entoesiasties aanbeveel dat ons saamwerk aan ’n video-reeks van 13 episodes met die tema Die Wonder van Afrikaanse Volksmusiek.

Begeesterd het ek ‘n trust sonder winsoogmerk, Die Wonder van Afrikaanse Kultuur, gestig en dit by die Meester van die Hooggeregshof laat registreer. Toe begin ek aansoek doen om finansiering. Ek het haas elke kapitaalkragtige sakeonderneming in die land wat daarvoor bekend is dat hulle musiekprojekte en kultuurfeeste finansier, formeel genader. Die uitslag was telkens ’n beleefde NEE! – sonder ’n logiese verduideliking. ’n Prominente Afrikaanse politikus, wat ek in my koerantman-dae leer ken het, het reguit aan my gesê: “Hulle vermy die onderwerp Afrikaanse volksmusiek, want dit is mos politiek inkorrek.”

Dit is ’n besonder manlike, logiese verduideliking, sou die filosoof Lin Yutang kon beaam. Maar wat sê die Afrikaanse vrou – met haar ingeboude intuïtiewe lewensinstink – hiervan?

Uit my navorsing blyk dit duidelik dat vroue deur die eeue nog altyd die voorvatters by elke kultuurfaset was – en nog steeds is. Veral as dit by die bevordering van musiek en die opvoeding van die jeug in musiek, sang en dans kom:

Toe Maria van Riebeeck in 1651 op die punt was om saam met haar man, Jan van Riebeeck, aangewese eerste kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop, aan boord die VOC driemaster-fregat Dromedaris by Texel, ’n eiland naby Amsterdam, te gaan, het sy daarop aangedring dat haar klavesimbel en viool ingeskeep word. As predikantsdogter was sy volgens die Europese gebruik van daardie tyd deeglik onderleg in musiek en sang.

Dromedaris 1652

Die egpaar se pleegdogter Sebastiana van Opdorp (16), ’n dogter van Jan se suster – wat kort tevore in Nederland oorlede is, kon die harp en klavesimbel goed bespeel. Sy kon ook mooi sing. Ongelukkig was daar nie plek in die beknopte seilskip se ruim vir haar harp en klavesimbel toe sy saam Kaap toe gekom het nie. Maria het haar egter getroos met die belofte dat sy aan die Kaap ook op haar klavesimbel sou kon speel. Die vervoerbare snaarinstrument, so groot soos ’n hedendaagse middelslag elektroniese klawerbord, was die voorloper van die klavier, wat eers in 1726 vervaardig is.

So het dit dan ook gekom dat by verskeie handelsamesprekings wat Jan van Riebeeck aan die Kaap die Goeie Hoop met die Koina-opperhoofde in die Fort die Goeie Hoop oor veehandel gevoer het, Maria en Sebastiana, asook die skeepsviolis, vaandrig Jan van Herwaerden, telkens die gaste op die klavesimbel en viool op musiek getrakteer het. Aangesien die eerste samespreking op ’n Sondag was, is gewyde liedere gespeel. Die Koina het die musiek baie waardeer, en het hulle ook aan die instrumente verwonder. Dit het die samesprekings besonder positief laat vlot. Jan vermeld in sy Daghregister dat Krotoa, die Koina-kinderoppaster in diens van Maria, hulle die wenk gegee het dat die Koina baie van musiek hou, en dat musiek by die samesprekings die onderhandelings kon laat vlot.

Van Riebeeck en die Koina

Maria se naasoudste seun, Abraham, wat goewerneur-generaal van Nederlands Indië in Batavia, Indonesië, geword het, was ook ’n opgeleide musikant en musiekkundige (of musikoloog). Gewis was dit te danke aan sy moeder se talente, opvoeding en invloed.

Vyftig jaar later – in die vroeë 1700’s – vertel besoekers in hul nagelate dagboeke die Kaapse dametjies is besonder lief vir musiek, en kan goed dans. Hulle ken die nuutste danse van Frankryk, Duitsland en Engeland, soos boeredanse, wat baie gewild was, asook die Franse contra-dans, quadrille en minuette. Danspartye word dikwels aan die Kaap gehou. Sommige van meisies kan goed klavesimbel speel en ook mooi sing. Dit was inderdaad aan die Kaap ’n statussimbool vir welgestelde gesinne om hul meisiekinders in musiek te laat oplei.

Ook op die platteland onder die boerebevolking het die plaasmeisies uitgeblink in musiek maak en dans, skryf Cornelis de Jongh, ’n besoekende Nederlandse reisiger. Hulle het graag partytjies met musiek en dans gereël. Vir Nagmaal, troues, kind-doop en aanneming het die plattelanders na die Groote Kerk in Kaapstad gekom. Daarna het hulle inkopies gedoen, en hulle dan op die talle huispartytjies van die nuutste danse en musiek vergewis. Die Kaap as internasionale hawestad is druk deur skepe van verskillende lande besoek, en so is die heersende Westerse musiek- en dansstyle van Europa en Engeland hierheen oorgedra.

In 1783, in die era van die Franse Rewolusie, is die Franse Pondicherry Regiment en die Switserse Regiment onder bevel van kol. Charl Daniel de Meuron deur die VOC versoek om die Kaap se vestingwerke te verbeter nadat oorlog tussen Brittanje, enersyds, en Frankryk en Nederland uitgebreek het. Franse musiek, danse en ook kleremodes het eensklaps die sosiale toneel van die Kaap volkome oorheers, sodat dit oornag in ’n Franse Barok-paradys ontpop het met die bynaam Le Petit Paris, die Klein Parys.

Franse musikante, dansmeesters en toneelspelers het ook opgedaag, en die Kaapse nooiens kon gou knap wals, gallop, polka, gigue, lancer, minuette, quadrille, saraband, courante, contra-dans, polonaise en ander gewilde, meestal Franse, dansstyle uitvoer. Francois le Vaillant, natuurkundige, kunstenaar en ook musikant, beskryf in sy dagboeke hoedat die Kaapse nooiens – in die hawestad, maar ook op die platteland – almal goed kan dans. Heelparty sing mooi en verskeie kan die klavesimbel goed bespeel. Hulle het die leiding geneem om danspartye te hou, wat ’n opwindende sosiale lewe aan die Kaap gegee het.

Johanna Duminy van Swellendam skryf in die 1790’s, die laaste jare van die Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), in haar dagboek hoedat sy ’n harp op ’n veiling in die distrik gekoop het. Sy het reeds ’n klavier besit en haar dogter, Sanet, het klavierlesse ontvang. Die vendusie, soos sy die veilingsgeleentheid noem, was ’n belangrike sosiale geleentheid en het twee dae geduur – waartydens lekker geëet en lekker jolyt gehou is. Daar was die tweede aand ’n viool-orkes, wat vrolik musiek gemaak en die jong mense tot laatnag laat dans het. Die Duminy’s het gereeld musiekkonserte op Swellendam en in Kaapstad bygewoon.

             Lady Anne Barnard

In 1795 het die Britte die Kaap met oorlogskepe aangeval en ingeneem. Lady Anne Barnard, die vrou van die Britse koloniale sekretaris aan die Kaap, Andrew Barnard, het dagboeke oor haar verblyf van 1797 tot 1802 aan die Kaap gehou. Sy het graag gedig, en een van haar gedigte, “Auld Roben Gray”, het sy in ’n toneelstuk verwerk, wat onder haar regie in die eerste Kaapse skouburg, African Theatre, opgevoer is. Die Britse goewerneur sir George Yonge het die teater laat bou.

Lady Anne het die leiding geneem om konserte vir die teater te organiseer. Toe dit blyk dat die Kapenaars (“Africanders” of “Dutch”) wegbly omdat hulle nie sosiaal met die Britse besetters, wat hulle as “die vyand” beskou het, wou verkeer nie, het sy as “eerste vrou van die nuwe Britse koloniale regering” die Kaapse vroue met huisbesoeke persoonlik bearbei. Die oorlog was verby, en vrede het nou geheers. Laat ons daarvan ’n goeie saak maak, het sy geglo.

African Theatre, 1802

Die delikate, aristokratiese vrou het ’n innemende geaardheid gehad, was hoogs intelligent, met fyn maniere en boonop mooi. Sy het gou die Kaapse vroue se vertroue gewen. Toe nooi sy hulle persoonlik uit om die teater, konserte en bals – wat sy in oorleg met die goewerneur gereël het – by te woon, want sy het geglo dat musiek en die uitvoerende kunste oor alle grense heen uitreik. Sy was self musikaal en het ’n klavier van Engeland af saamgebring. In die teater is konserte en toneelstukke in Engels, Nederlands en Frans aangebied – veeltalig om die stad se verskeidenheid teatergangers tevrede te hou.

Die Kaapse vroue en hul dogters het positief op lady Anne se uitreik-inisiatief gereageer, en gou was hulle tuis in die sosiale kringe van die Engelse bewindhebbers. Anne het ook deftige goewerneurs-bals by die goewerneurswoning, Tuynhuys, langs die Kompanjiestuin, en ook in die Kasteel georganiseer. Die Kaapse vroue en meisies het dit graag bygewoon, maar die mans en seuns het weens hul politieke “logika” geweier om mee te doen. Toe reël lady Anne dat ’n keur van die jong Engelse offisiere van die Kasteel se garnisoen, en ook dié van besoekende Britse skepe, na die bals kom as dansmaats vir die Kaapse nooiens. Die meestal goed gemanierde offisiere was bekend met die nuutste danse en musiek van Engeland en Europa, en die nooientjies het graag met hulle gedans en die nuutste danse by hulle geleer. Die moeders het die nooiens altyd na die bals vergesel; nie om saam te dans nie, maar om die offisiere dop te hou dat hulle nie vrypostig met die meisiekinders raak nie en dat alles stigtelik verloop. Dus was daar nooit rede vir ’n geskinder nie.

Die Kaapse jonkmans het – uiteraard – dadelik groter belangstelling in die bals begin toon, hoewel lady Anne en ander waarnemers nie juis met hul lompe nabootsings van die danspassies beïndruk was nie.

Sestig jaar later het ’n besoekende Engelse vrou in haar briewe, wat as tydskrif-artikels gepubliseer is, beaam wat lady Anne oor die Kaapse vroue en hul betrokkenheid by musiek en dans geskryf het: “Die Kaapse nooiens het ’n haas ongelooflike stamina vir dans. Hulle dans byna onophoudelik van nege-uur saans tot vieruur in die oggend, sonder dat hul haarkapsels versteur word,” vertel sy.

“Daar is nie baie sangeresse onder hulle nie, maar almal dans graag. Hulle is middelklas, trek mooi tabberds aan, is selfversekerd en hoflik – glad nie soos die giggelende en taktlose middelklas-spulletjie in Engeland wat met uitspattige kostuums van satyn of sy met mekaar meeding nie. Die Kaapse vroue is welaangepas, met hul voete vas op die aarde. Hulle is nuttige burgeresse van die Kaapkolonie, vriendelik, opgeruimd en vrolik. Die meisies weerspieël vir haar (die besoeker) die natuurskoon van die Kaap met sy fynbos-blommeprag. ’n Kaapse nooientjie, wat een aand by ’n bal opgedaag het met tientalle silwerblare aan haar tabberd geheg, nooi toe die ander dansers om die blaartjies af te trek en dit oor die dansvloer te strooi – sodat dit die hele aand pragtig rondgedwarrel het terwyl die paartjies dans.”

Een van die Kaapse nooientjies, die sewentienjarige Catharina Elizabeth van den Berg, het een aand op ’n bal haar hart op ’n sjarmante Engelse offisier, lt. Hamilton Ross, verloor. Ook hy was dadelik smoorverlief op die aanvallige meisie, en ’n paar dae later daag hy by haar woning op om hom aan haar pa voor te stel. Catharina se moeder is ’n ruk tevore oorlede. Die vader, dr. Jacobus Johannes van den Berg, ’n mediese dokter, was ’n trotse VOC-lojalis. Hy het sy voet dwars neergesit. Geen Engelsman, die vyand, sal sy dogter die hof maak nie. Hy het Hamilton Ross die huis belet en gewaarsku om van sy dogter weg te bly. Die dokter was juis toe van plan om met ’n ryk Kaapse weduwee te trou, en die weduwee se seun sou na sy mening ’n gepaste eggenoot vir sy dogter wees. Maar Catharina het die weduwee en haar seun afstootlik gevind. Sy en Hamilton Ross het toe met die bemiddeling van lady Anne Barnard mekaar in die geheim ontmoet. Kort daarna is Hamilton Ross se regiment na Madras, Indië, verplaas. Catharina het toe, steeds met die bemiddeling van lady Anne, van die huis weggeloop en die eerste passasierskip na Indië gehaal. Sy en haar geliefde is daar met mekaar herenig, en toe sy kort daarna agttien jaar oud word – in daardie tyd mondig – het die twee getrou.

Toe bedank Hamilton Ross uit die leër en die egpaar keer in 1803, toe die Kaap weer onder Nederlandse (Bataafse) beheer was, terug Kaap toe. Wat die dokter te sê gehad het, weet ons nie. Hamilton Ross het toe ’n sakeman geword wat Kaapse wyn uitgevoer en ander kommoditeite ingevoer het. Die skrander en ondernemende man was gou welgesteld en invloedryk. Hy stig die eerste Kamer van Koophandel, die Kaapse Aandelebeurs, waarvan hy die eerste sekretaris word, die Kaap die Goeie Hoop Bank en die eerste Kaapse versekeringsmaatskappy.

Intussen het Catharina haar man leer Afrikaans praat, sodat hy die eerste prominente Engelse sakeman aan die Kaap was wat vlot tweetalig was – en so vriende en vertroue by albei gemeenskappe gewen het. Hy word dan ook verkies tot die Kaapse Wetgewende Raad en munisipaliteit, en dring dadelik aan op gelyke regte vir Nederlands (Hollands) naas Engels. Ook onder Catharina se aansporing bestee hy groot bedrae geld aan gemeenskapsopvoeding en hy skenk grond vir die oprigting van skole. Hy help ook die plattelandse boere wat swaar kry om op die been te kom, en om hul produkte winsgewend te verbou en te bemark. Hy stig in 1832 dan ook die eerste Kaapse Landbouvereniging, die voorloper van die VLV.

Dit is sulke vroue wat deur hul doelgerigte medemenslikheid die bekende spreekwoord: “Agter elke suksesvolle man, staan ’n vasberade vrou” onderstreep.

Byna ’n eeu later, in 1929, toe die Groot Wêreld Ekonomiese Depressie uitbreek, het ’n Stellenbosse boerenooi, Jossie Uys van Blaauwklippen, Die Vroue Landbou Vereniging – “’n Vereniging van Vasberade Vroue” – gestig om armoede in die plattelandse gemeenskappe te besweer en gemeenskapsdiens te bevorder. Die fokus moes val op kulturele sake, soos die kunste – waaronder musiek, sang en die verhoogkunste, handvlyt, tuinbou en kookkuns, asook gemeenskapsake soos gesondheid, godsdiens en opvoeding – waaronder die beskikbaarstelling van studiebeurse en -lenings vir behoeftige studente.

Om hulde te bring aan die voorbeeld wat die Engelse welsynwerkster Emily Hobhouse gestel het om na afloop van die Anglo-Boereoorlog Afrikaanse meisies uit hul uiterste armoede op te hef deur hulle te leer spin, weef, borduur en kant maak, het die VLV in die meer onlangse verlede in hul hoofkantoor Jubileumhuis in Dorpstraat, Stellenbosch, ’n tekstielmuseum geskep waar onder meer tekstielware soos kant- en weefwerk, asook borduurwerk, uit die weef- en spinskole van die Hobhouse-projek, bewaar en ten toon gestel word. So het Jubileum-huis ’n monument vir “Vasberade Vroue”, soos Hobhouse en Jossie Uys, geword. Jossie, dertien jaar lank voorsitster van die VLV, was twee keer getroud en het albei eggenotes oorleef. Haar eerste man was Bassie van Niekerk, en die tweede was JC Ackermann, skoolhoof van Franschhoek en ook burgemeester daar.

Om terug te keer na die Kaapse geskiedenis van ons musiekerfenis:

Van 1803 tot 1806 was die Kaap weer in die besit van Nederland, toe bekend as die Bataafse Republiek, onder Franse regering. Dit het nou besonder voorspoedig met musiek en die verhoogkunste aan die Kaap gegaan. Duitse musiekonderwysers en akteurs het die teater by lady Anne Barnard en die ander Engelse oorgeneem, en ook ’n musiekskool geopen. ’n Deense kitaar-virtuoos, Frederik Carl Lemming, onder andere, het in kitaar klas gegee. Die teater het onder ’n Franse dramaturg en empressario, Charl Villet, opgebloei. Nog ’n Franse dramaturg en skrywer, Charl Boniface, het later opgedaag en die teater ’n verdere hupstoot gegee. Huismusiek het gefloreer namate die jong mense musiekinstrumente en bladmusiek leer bemeester het. Talle musiekwinkels is geopen, wat goed sake gedoen het.

Dr. Henry Lichtenstein, ’n Duitse medikus en lyfarts van adv. JA de Mist, kommissaris-generaal van die Bataafse Republiek, en van genl. Willem Janssens, goewerneur en bevelvoerder van die garnisoen, skryf in sy dagboeke dat die Kaapse meisies besonder musikaal was en verskillende instrumente goed kon bespeel. Op die plaas Vetrivier, in die Swellendamse distrik, het hy hom aan die woning van Hillegard Muller verwonder hoedat die jonge dogter van die familie, Petronella, besonder goed op ’n ingeboude orrel speel. ’n Duitse orrel- en klavesimbelbouer van Kaapstad, Johannes Ludewig Hoddersum, het dit in die plaashuis ingebou.

Toe die Britte in 1806 terugkeer om die Kaap weer eens met oorlogsgeweld te herower, het dieselfde sosiale patroon as tydens die eerste Britse Bewind hom ontvou: Die Afrikaanse mans en seuns het gehoor gegee aan hul manlike, politieke logika en van die Engelse se jolyt weggebly, maar die intuïtiewe moeders en dogters het, soos voorheen, die bals en partytjies bygewoon. Die danse en musiek wat hulle daar geleer het, het hulle dan aan die tuisblyers oorgedra. Gevolglik het private partytjies en huweliksonthale ook die nuutste musiek- en danskultuur wat die Engelse saamgebring het, weerspieël.

Britse militêre musiek, 1800’s

Die nuwe bewind was nou egter baie militêr ingestel, en het probeer om die Afrikaanse taal en kultuur te onderdruk. Ook die musiek was sterk militêr van aard, en die betreklik goeie verhouding tussen die Kapenaars en die Engelse van die Eerste Britse Bewind het gou gekwyn. Daardie Kapenaars wat toe kon, het uit die Wes-Kaap begin wegtrek na die Oos-Kaap, en mettertyd ook na die binneland. Hulle wou nie langer onder die tirannie van Britse oorheersing en verdrukking aan die Kaap gebuk gaan nie.

In 1811 het die Duitse kerk-argitek Otto Hager, in die Kaap aangekom om kerke vir die Duitse gemeentes op te rig. Hy besing in sy dagboek die mooi en stemmige Cornelia Janssen, ’n jong onderwyseres in klavier en sang by haar pa se skool op Stellenbosch. Omdat Hager kitaar speel en self ook sing, het die twee jong mense ontmoet en huismusiek-aande aan die woning van die Janssens gehou. Mev. Janssen was egter glad nie ingenome met die “uitlander” se besoeke nie, en toe dit duidelik word dat die twee kinders sin vir mekaar het, het sy hom die huis belet. Toe het die twee in die geheim by gemeenskaplike (Engelse) vriende se huis vir kamermusiek-byeenkomste ontmoet. Omdat privaatheid daar nie moontlik was nie, het die twee minneliedere in Duits aan mekaar gesing – ’n taal wat die ander musikante nie verstaan het nie. En so het die twee verliefdes in impromptu operettes mekaar die hof gemaak. Toe mev. Janssen agterkom dat Hager en haar dogter mekaar steeds ontmoet, het sy by die predikant gaan kla. Hy het haar egter berispe deur daarop te wys dat sy self met ’n Duitser, die heer Janssen, getrou het. Sy moes toe die aftog blaas. Kort daarna het Hager ouers gevra, hul toestemming gekry, en kon hy en Cornelia trou. Die egpaar was lewenslank gelukkig getroud. Hy was een van die Kaap se mees geëerde kerkargitekte wat vir alle denominasies kerke opgerig het. Op Stellenbosch is ook die US se Ou Hoofgebou die skepping van Otto Hager.

Toe lord Charles Somerset in 1822 met sy drakoniese verengelsingsbeleid vorendag kom met die doel om die Afrikaanse kultuur – ook in die howe, skole en kerke – heeltemal te verdring sodat ’n klein Engeland van die Kaapkolonie gemaak kon word, was daar sterk teenstand van die Afrikaanse gemeenskap. Maar hy het alle rebelsheid met volle militêre mag – selfs die galg – onderdruk. Sedert die Kompanjiesdae was die meeste Kapenaars Vryburgers, wat hulle toenemend op veeboerdery toegespits het. Die selfsugtige en magsugtige regeringstyl van die laaste VOC-goewerneurs, soos WA van der Stel, het daartoe gelei dat ’n trekboer-kultuur ontstaan het. Somerset se beleid het die Afrikaanse veeboere verbete gemaak om heeltemal onder die Britse tirannie uit weg te trek. Teen die 1830’s het die tirannie so ondraaglik geword, dat die Groot Trek van duisende Afrikaanse Kapenaars na die binneland en weg van die Kaapkolonie ontstaan het.

Hierdie trekker-gemeenskap het alle bande met die Kaapse samelewing verbreek – ook musiekbande. Geleidelik het ’n eie musiekstyl uit die afsondering gegroei, wat die Afrikaanse volksmusiek, waarvan boeremusiek deel is, as ’n unieke genre gevestig het. Hoewel bitter min besonderhede hieroor opgeteken is, dui enkele dagboeke van trekkerleiers wel aan dat die vroue en meisies weer eens die voortou geneem het om musiek-en-dans-saamtrekke in die laers, en ook onderling tussen verskillende laers, te hou. Bokseile is tussen die waens oopgegooi, en die jongklomp het dan kaalvoet op die seile gedans terwyl dikwels net ’n enkele musikant, gewoonlik die skoolmeester met sy viool, dansmusiek gespeel het. Soms was daar ook op ’n fluit en draagbare harmonium, serafyntjies genoem, gespeel, en selde ’n kitaar. Die draagbare traporreltjies was veral vir begeleiding by die sing van Psalms gedurende godsdiensoefeninge, bedoel.

Smouse wat die laers met handelsware besoek het, soos die kunstenaar Thomas Baines, het die eerste akkordions (voorloper van die konsertina en trekklavier) aan die trekkers verkwansel, skryf hy in sy dagboeke. Maar hierdie instrumente was toe nog nie volop nie.

Die vroue in die laer wat iets van musiek af geweet het, het die kinders vir onderrig in sang die Toniese Solfa (Do, RE, Me, Fa, So, La, Ti, Do) geleer, maar van klassieke musieknotasie het die vroue egter niks geweet nie. So het groot dele van die Afrikaanse gemeenskap se kosbare musiekerfenis verlore geraak omdat die musieknote van die melodieë nie opgeteken kon word nie.

Luidens die trekker-dagboeke was danspartye altyd baie stigtelik, omdat die trekkers streng godsdienstig was en die Calvinistiese leerstellinge van hul Protestantse godsdiens gekant was teen “aardse, dus sondige”, kaperjolle. Maar musiek en dans is nooit uitdruklik deur die meeste trekkerleiers verbied nie. Net in een geval het die weerbarstige en dominerende trekkerleier, Hans Dons de Lange, ’n viool aan stukke gebreek toe die jongklomp op die bokseile gedans het terwyl hy en die ouer manne op ’n jagtog weg van die laer was. Die jagters het onverwags teruggekom en op die joligheid afgekom. Hans Dons het die dansende kinders met sy sambok uitmekaar gejaag, en toe die viool gebreek met die opdrag: “Daar is ’n plek en ’n tyd vir alles. Gaan bid nou.”

Hierdie soort Calvinistiese preutsheid en hardhandigheid het vir minstens ’n eeu lank in sekere sektore van die Afrikaanse

Boere se musiekoplewing, 1880’s

gemeenskap voortgeduur en ’n remmende, skadelike, uitwerking op die natuurlike ontwikkeling van Afrikaanse volksmusiek – en dus ook op die algemene gemeenskapsgemoed – gehad. Ook die kerk self is musikaal – én op vele ander wyses – negatief daardeur geraak.

Toe die Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat tot stand gekom het, het die Transvaalse pres. Paul Kruger, ’n groot liefhebber van alle soorte musiek, baie gedoen om musiekopvoeding te bevorder. Daarvoor het hy ’n aantal Nederlandse opvoedkundiges gewerf, en hulle het baanbrekerswerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek verrig. Die superintendent van onderwys, dr. Nicolaas Mansveldt, het die eerste Afrikaanse Volksangbundel in samewerking met ds. SJ du Toit en die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl op Kruger se aandrang begin saamstel. Die Anglo-Boereoorlog het egter alles ontwrig, maar na die oorlog het Mansveldt in 1904 daarmee aangegaan.

Omdat musiekgeletterdes so skaars was, het ’n Pretoriase pianiste, Johanna Preller, by die bekwaamste musiekprofessor daar les in musiekteorie geneem sodat sy bladmusiek vir die versamelde Afrikaanse liedjies kon skep. Die Mansveldt-bundel met die bladmusiek van 26 liedere, Die Hollands-Afrikaanse Liederbundel, het toe in 1907 verskyn. Net ’n paar van die liedere was inderdaad in Afrikaans. Die res was in Nederlands, en betreklik onbekend in Suid-Afrika.

Toe het weer eens ’n vrou, Joan van Niekerk, dadelik begin om Afrikaanse liedere te versamel. Johanna Preller het haar bygestaan om bladmusiek daarvoor te skep. Die bundel het in 1927 verskyn met Joan as redakteur. Die keer is dit hernoem na Die Groot Afrikaanse-Hollandse Liederbundel. Dit het altesame 79 liedere bevat, almal met lirieke in goeie Afrikaans, en elkeen in bladmusiek. Hoewel sommige van die liedere van Nederlandse, Duitse en Skotse oorsprong was, is al die lirieke in puik Afrikaans oorgesit. Taalkundig was dit besonder merkwaardig, aangesien die eerste Afrikaanse Bybel eers in 1933 verskyn het. Hierdie bundel was die voorloper van die eerste uitgawe van die FAK Sangbundel, wat in 1937 verskyn het.

Musiekoplewing, 1930’s

In die 1950’s het ’n Nederlandse predikantvrou, Jo Fourie, op eie inisiatief ’n grootse, onbaatsugtige taak aangepak deur die hele Suid-Afrika te deurreis om nog verdwaalde en vergete eg-Afrikaanse melodieë en lirieke uit die dae van die trekkers en die Boererepublieke op te spoor en te boekstaaf. Sy het ’n draagbare serafyntjie op die agtersitplek van haar motor gelaai en veral op die platteland onderhoude met talle bejaardes gevoer wat die musiek van hul jong dae in herinnering kon roep. Afrikaanse koerante en tydskrifte het haar bygestaan om sulke oorlewendes van die 1800’s op te spoor. So het sy altesaam 300 melodieë en 1 155 lirieke – met haar eie musieknotasie daarvan – opgeteken. Van die liedere is in latere uitgawes van die FAK Sangbundel opgeneem.

Die grootste deel van Jo Fourie se versameling Afrikaanse liedere van die 1800’s lê egter steeds onverwerk by die Nasionale Film, Video- en Klankargief in Pretoria, terwyl die jongste geslag lektore, professore en ander sogenaamde kultuurnavorsers aan ons voorheen Afrikaanse universiteite tans ywerig meeding om Afrikaanse volksmusiek tot in die kern toe af te takel en dit met behulp van die “politieke, manlike logika” van die Postmodernisme te probeer neutraliseer. Hulle steek klaarblyklik lord Charles Somerset en sy drakoniese verengelsingsveldtog van die vroeë 1800’s na die kroon.

In die laaste twee dekades van die 1800’s het ’n toonaangewende dame in Kaapstad, mev. Marie Koopmans-De Wet, haar huis in Strandstraat, nou die Koopmans-De Wet Huis-museum, vir meisies en jong vroue wat in klaviermusiek belangstel, oopgestel om op haar klavier te oefen. Die klavier is steeds in die museum se sitkamer te sien. Gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 het hierdie formidabele vrou geld, kos, klere en medisyne vir die beleërde Boerevroue in die Britse konsentrasiekampe ingesamel. Sy het die Engelse welsynwerker Emily Hobhouse persoonlik versoek om na Suid-Afrika te kom om die haglike toestande in die konsentrasiekampe en die volksmoord wat daar aan die gebeur was, wêreldkundig te maak.

Marie en Emily is onder andere deur C Louis Leipoldt, toe ’n jong joernalis in Kaapstad, onderskraag. Leipoldt het indertyd ook ’n digbundel, Songs of the Veld and Other Poems, met Engelse gedigte wat die oorlogsmisdade van Engelse in die Anglo-Boereoorlog aan die kaak stel, in die geheim saamgestel en in Londen laat publiseer. Hy is bygestaan deur vyf kollegas, onder wie drie vroue. Die bundel is in Suid-Afrika verbied en eksemplare wat per skip hier aangekom het, is verbrand. Ek het ’n oorspronklike kopie van hierdie bundel in die W.J. Leyds-versameling in die Stellenbosse universiteitsargief gevind en dit in 2008 laat heruitgee. (Eksemplare is nog beskikbaar en kan bestel word by: kultuurkroniek@gmail.com)

In die 1890’s het ’n Duits-Engelse vrou, Käthe (Katy) Leipoldt, (geen regstreekse verwantskap met C Louis Leipoldt nie) in Johannesburg die eerste konsertina-virtuoos in Suid-Afrika geword. Sy kon Klassieke musiek sowel as Duitse en Engelse volksmusiek op die Engelse Woodstone-konsertina speel, en haar optredes het altyd vol sale getrek. Sy en haar man, James Hyde, was pioniers in die vermaaklikheidswêreld van die laat 1800’s in Johannesburg. Die enigste Afrikaanse volksmusiek wat sy egter ooit gespeel het, was ’n pro-Britse hekel-uitvoering, Oom Paul Polka, gemik op die vernedering van die Transvaalse president Paul Kruger. Die Oom Paul Polka het onder meer die piekniekliedjie “Vat jou goed en trek, Ferreira” ingesluit. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het James en Katy Leipoldt Hyde egter gou húl goed gevat en Kaap toe getrek.

In 1925, kort voor die aanvang van die Ekonomiese Depressie van 1929-1939, het die Afrikaanse verhoogpioniers Hendrik en Mathilda Hanekom die eerste Afrikaanse beroepstoneelgroep gestig. Hulle het op toer gegaan en toneelstukke in Afrikaans in die stede en veral op die platteland opgevoer. Die Afrikaanse gemeenskap was in vervoering. In die tien jaar dat die Depressie gewoed het, kon die verarmde mense op die platteland nie die toegangskaartjies bekostig nie. Die Hanekoms het toe hul konserte gratis aangebied, en ’n vrywillige silwerkollekte by die deure geneem na afloop van elke opvoering. Hulle is dikwels met eetgoed in plaas van geld vergoed.

Die toneelspelers het bitter swaar gekry, en omdat hulle nie geld gehad het om in losieshuise of hotels tuis te gaan nie, het hulle “soos sigeuners” in die veld uitgekamp, gewoonlik naby ’n windpomp, sodat hulle was- en drinkwater kon hê. Bedags het Mathilde met ’n groot inkopiesak aan die arm die markte besoek. Sy het dan ongemerk ’n bossie wortels hier, ’n paar aartappels daar, en ’n tamatie of twee in die sak laat val. Daarvan het sy in die kamp sop gemaak. Op ’n dag, na so ’n besoek aan ’n mark, het ’n ouerige man haar op straat voorgekeer en gevra of sy dan nie een van die toneelspelers is wat tans die dorp besoek nie. “Goed meneer,” het sy met ’n skuldige gewete ontsteld gesê, “ek hét die groente gesteel. Roep maar die polisie dat hulle my toesluit, dan kan die dorp betaal vir my tronkkos.” Hy het woordeloos weggestap, en kort daarna ’n halwe skaap by hul kamp afgelewer.

Wanneer die ellende van tyd tot tyd baie erg was, en die toneelgroep die handdoek wou ingooi, het Mathilde haar opwen-grammofoon uitgehaal en ’n plaat met ’n sentimentele liedjie uit 1908, “Harvest Moon”, vir hulle gespeel. Die lirieke het gelui:

The night was mighty dark,
so you could hardly see,
cause the moon refused to shine.
There’s a couple sitting
’neath the willow tree,
for love they pine.
Little maid was kind afraid of darkness,
so she said “I think I’ll go”,
Boy began so sigh,
looked up in the sky
and told the moon his little tale of woe.
Oh, shine on harvest moon up in the sky,
I ain’t had no lovin’ since January, February, June or July,
Snow time ain’t no time,
to sit outdoors and spoon,
shine on, shine on, harvest moon,
for me ’n my gal.
Shine on harvest moon,
way up there in the sky.

Luidens ’n huldeblyk by haar dood in 1976, is Mathilda in 1899 op Prins Albert gebore. “Sy was haar lewe lank die toneelgroep se steunpilaar, raadgeefster, peetma vir die jong akteurs en die redder van die onderneming. Sy het die Afrikaanse kultuur deur dik en dun getrou gebly, ’n mens van haar mense, die moeder van die Afrikaanse toneel. Sy het die vrolikheid van die Klein Karoo in haar gehad, sy was uit ’n geslag pret-mense, kitaarspeel-mense, lekkerlag-mense, poetsbak-mense – met ’n liefde vir die lewe.”

Van 1945 tot 1948 was Mathilde die stigter, bestuurder en afrigter van ’n indertydse musieksensasie, die Oulike Nooientjies-orkes, die eerste vroue-orkes wat verskillende genres musiek – van volksmusiek tot klassieke musiek – meesterlik gespeel het. Die vyf meisies het ’n trekklavier, tjello, klavier, viool en kitaar bespeel. Trouens, een van hulle, Marie le Grange, die groep se pianiste, kon 23 instrumente bespeel. Die Oulike Nooientjies – en dus ook die Hanekom Toneelgeselskap – het vol sale getrek waar hulle ook al opgetree het. Vir ’n verandering het ook jong manne in groot getalle op die konserte toegesak – om die musikale meisies te kom bewonder. Mathilde het haar hande vol gehad om vrypostige minnaars van hulle weg te hou. Die vroue in die geselskap het soms saam as ’n koor opgetree, wat hulle Die Hanekoms se Hennekoor genoem het.

Oulike Nooientjies Orkes

En vandag, 74 jaar later, is vandag hier in ons midde Die Kaapse Affodille Dames Boereorkes, ’n vroue-boereorkes van sewe musikante, tans die enigste vroue-boereorkes in die land. Hulle bespeel die klavier, klawerbord, konsertina, trekklavier, banjo, akoestiese en elektriese kitare, harmonika en tromme. Hulle is Mariaan Wiese, Leonie Pelteret, Marietjie Beukes, Charmain Willemse, Rena Smuts en Luzette Stemmet. Leonie en Marietjie sing ook.

Die laaste, maar nie die minste, op my lysie van ons vrouebaanbrekers van die verlede, is ’n Stellenbosse dame, Marie-Lou Roux, wat in 2014 op 87-jarige ouderdom deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met ’n medalje vereer is vir haar bydrae tot die bevordering van musiek, volksdanse en sang in Suid-Afrika. Sy het onder meer massa-kore en massa-volksdanse met 630 deelnemers vir die Republiekfeesvieringe van 1981 afgerig. As lektrise in Engels by die Opvoedkunde Fakulteit van die Universiteit Stellenbosch het sy in 1984 daaglikse etensuurkonserte vir begaafde jong musici tydens die Wêreld Kongres vir die Begaafde Kind op Stellenbosch gehou. Tot haar dood toe in 2017 op 90 jaar, het sy op haas elke front – persoonlik en ook as leidingnemende persoonlikheid van die bewaringsorganisasie CapeTrust – talle ondermyners van Afrikaanse kultuur én die uitroeiers van ons fauna en flora aangevat en tot in die hoogste hof beveg.

Mia-Lana Hough

Om terug te kom by Mia-Lana Hough, wat in 2022 die ATKV-prys gewen het vir haar herkomponering van Jannie du Toit se toonsetting van C Louis Leipoldt se liriese gedig “Wys my die Plek”, en wat sy ook so pragtig sing: Leipoldt het die lirieke “’n Slampamperliedjie, geskryf uit pure verstroooiing,” genoem.

Mia-Lana is ’n lid van die jongste generasie musikante wat met haar eie toonsetting van Leipoldt se lirieke die Afrikaanse kultuurfakkel die toekoms in dra. Deur kreatiewe mense soos sy word verseker dat die Afrikaanse lied, en daarmee ons kulturele identiteit, nie uitsterf nie. En eweneers stel Die Kaapse Affodille Dames Boereorkes ’n navolgenswaardige voorbeeld vir Afrikaanse meisies en vroue met musiekaanleg om hul talente optimaal te ontwikkel ter wille van hulself en die handhawing en uitbouing van die Afrikaanse musiekkultuur.

Die Kaapse Affodille

In sy epiese gedig “Vrede-aand” van 120 jaar gelede bring C Louis Leipoldt, soos geen ander digter voor of ná hom nie, op roerende wyse hulde aan die Afrikaanse vrou:

“Sy was die sterkste van ons almal – sy wat met gebed en hoop kon samestry! Sy het die swaarste deel van onse lot gedra, gehelp, getroos, gesteun deur God; En as jy daaraan dink, dan moet jy glo – al twyfel jy – daar is tóg Iemand bo wat so ’n vrou tot yster maak, en staal, met soveel troos haar steun en hoop betaal. Op rots het sy gebou, en nie op sand: Heldin en vrou! – die beste wat ons land nog voortgebring het.”

Gedurende die Anglo-Boereoorlog, wat Leipoldt eerstehands as koerantman ervaar en oor berig het, is die Afrikaanse vroue se kosbare musiekinstrumente, soos klaviere en huisorreltjies, waaromheen die gesinne en hul werkers in vredestyd daagliks in liefde, samesyn en aanbidding geskaar het, deur die Britse soldate in hul verskoeideaardeboosheid opgekap en vir brandhout gebruik. Die duisende vroue, na konsentrasiekampe aangejaag, moes in daardie aller-ellendige omstandighede probeer troos vind deur sonder begeleiding van enige musiekinstrumente – behalwe hul eie stemme – Psalms en Gesange te sing terwyl hulle en hul uitgehongerde kinders van ondervoeding, epidemiese siektes en ontbering weggekwyn het. Nogtans het hierdie vroue hul mans te velde aangemoedig om voort te veg en nie op te gee om die stryd om vryheid te stry nie.

En ná die oorlog kyk Leipoldt in 1902, net soos ons vandag, uit op ’n duistere toekomspad wat voorlê as hy verder dig:

“Dis vrede nou; die oorlog is verby! Dis vrede ja! Wat sal ons nou begaan? Sal ons die vrou daar binne weer laat staan om kos te kook, te braai, te stoof, te smoor? Nie meer haar steun verlang nie? Nie meer hoor haar stem wat in die onweer helder klink? Sal ons haar siel laat roes? Dié het geblink tot aan die Kruis-stêr toe die donker nag rondom ons was, en niemand van ons dag verwag het nie; Toe het haar lig gestaan as lei-stêr vir ons, ligter as die maan; En soos ’n son geskyn – toe was dit nood! Dis Vrede, maar dié siel is nog nie dood; Dit lewe nog, om ons te lei, en maak die swaar, swaar vrede plig; die harde taak wat voor ons lê, die lewe wat ons wag, ons donker pad, so helder as die dag. Waak oor dié stem! Let op dié siel! Behou die beste wat ons nasie het – die Vrou!”