AFRIKAANS 100 – 1986 tot 2005

Hierdie artikel is die vierde van vyf wat ’n oorsig gee van belangrike gebeure in die ontwikkeling van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis. Enkele hoogtepunte tussen 1986 en 2000 is die Voëlvrytoer, die eerste KKNK word aangebied en LitNet, ’n platform vir skrywers om kritiese en akademiese artikels in Afrikaans te skryf, sien die lig.

1986: ’n Ander Land

In 1984 publiseer Karel Schoeman die roman ’n Ander land. Die verhaal handel oor ’n Nederlandse reisiger wat Bloemfontein in die laat 19de eeu besoek. Die roman gee ’n unieke blik op die hoofstad van die eertydse Republiek van die Oranje-Vrystaat. In 1986 palm Schoeman sy tweede Hertzogprys in vir ’n Ander land. Die boek is in 1991 in Engels vertaal onder die titel Another Country.

1987: Alba Bouwer-prys vir Kinderliteratuur word ingestel

In 1987 het die gevierde skrywer Alba Bouwer ereburgerskap van die dorp Riversdal ontvang. Bouwer is veral bekend vir haar jeugverhale soos Stories van Rivierplaas. In dieselfde jaar het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n nuwe kinderboekprys ingestel. Die Alba Bouwer-prys vir Kinderliteratuur word sedertdien driejaarliks toegeken. Van die pryswenners is Barrie Hough, Philip de Vos en Jaco Jacobs.

Lees gerus meer oor Alba Bouwer: https://afrikanergeskiedenis.co.za/alba-bouwer-1920-2010/

1988: “Ek lewe” word treffer van die jaar

Gewoonlik is dit ’n splinternuwe liedjie wat die treffer van die jaar word. In 1988 was dit egter nie die geval nie. Hoewel sy in daardie jaar haar album Soos ou vriende vrygestel het, was dit die titelsnit van haar vorige album wat groot sukses behaal het. Die liedEk lewe”, wat reeds twee jaar tevore in 1986 vrygestel is, is as die Treffer van die Jaar aangewys op Edwill van Aarde se radioprogram Afrikaanse treffers.

1989: Voëlvrytoer maak ’n opskudding

In die laat 1980’s het ’n nuwe musiekbeweging ontstaan, bekend as die Voëlvrybeweging. Hul rockmusiek is gebruik as protes teen die NP-regering en apartheidsbeleide. Kunstenaars soos Koos Kombuis (André le Roux du Toit), Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) en Bernoldus Niemand (James Phillips) was leidende figure in die Voëlvrybeweging. Onder leiding van Dirk Uys het die Voëlvrytoer op 4 April 1989 in die klub Countdown in Breëstraat in Johannesburg afgeskop. Binne twee maande het die toergroep ongeveer 10 000 km reg oor die land afgelê en ’n totale skare van byna 85 000 gelok.

1990: Verlies van Afrikaans in Namibië

In die ou Suidwes het Engels, Afrikaans en Duits die status van amptelike landstaal geniet. Sedert die onafhanklikheidswording van Namibië in 1990 is slegs Engels erken as die enigste amptelike landstaal. Engels is ook as die enigste onderrigtaal vir skole aangewys; ’n vergunning is gemaak dat primêre skole nog in hul moedertaal onderrig kan ontvang. Dit het gelei tot die stigting van vele privaat Afrikaanse skole. Ten spyte van die verlies van die status van amptelike landstaal, is Afrikaans vandag steeds ’n algemene spreektaal. Volgens die 2011-sensus is Afrikaans (10.4%) veel sterker as Engels (3.4%) of Duits (0.9%).

1991: Noot vir Noot

In 1991 het die SAUK die eerste episode van Noot vir Noot uitgesaai. Hierdie Afrikaanse musiekvasvrakompetisie het vinnig gewild geword en uiteindelik een van die suksesvolste programme van die SAUK geword. Johan Stemmet het die program aangebied en het eers in 2019 die leisels aan die TV-persoonlikheid Emo Adams oorgegee. Die musiekgroep Die Musiekfabriek, wat tot 2012 deur Johan van Rensburg gelei is, was verantwoordelik vir die musiek op die program.

1992: Die Gang

Na die sukses van Laurika Rauch se album Stuur groete aan Mannetjies Roux in 1990 het sy Die Gang in 1992 vrygestel. Dit was die eerste album wat sy onafhanklik onder Laurika Rauch Produksies uitgegee het. Die album het treffers ingesluit soos “Stille Water”, “Lili Marleen”, “Vir ’n Pepermossie”, haar verwerking van “Lisa se klavier” en die titelsnit “Die Gang”.

1993: Amptelike taal

In die laaste fase van die onderhandelinge in 1993 moes daar ’n besluit gemaak word oor amptelike tale. Aan die een kant was die standpunt van die ANC, PAC en Inkatha dat Engels as die enigste landstaal beskou moet word. Aan die ander kant was daar die siening van talle Afrikaanssprekendes dat Afrikaans ook as landstaal behou moet word. Op 18 Junie 1993 is Die Akademie van Wetenskap en Kuns se voorstel bekend gemaak. Hul uitgangspunt was dat die elf hooftale “inherent gelykwaardig” is.

1994: GHA herleef

In 1994 is die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) in die Berea-saal in Pretoria gestig. Die organisasie was ’n herlewing van die GHA wat doktor Hennie Terblanché in 1965 in die lewe geroep het. Jaap Marais, destyds leier van die HNP, het die stigtingsvergadering gelei. Dié organisasie moes die Afrikaanse taal bevorder en terselfdertyd toesien dat Afrikaans nie misken word in die nuwe bedeling nie. Sedert 2005 bied die GHA elke jaar ’n digkompetisie aan waarvan die wengedigte in Stemme uit die Suiderland opgeneem word.

1995: Die eerste KKNK word aangebied

In die 1990’s het die behoefte aan ’n Afrikaanse kunstefees ontstaan. Die sakeman Nic Barrow en die destydse skakelhoof van Nasionale Pers, Andrew Marais, het beoog om die fees op Oudtshoorn aan te bied. In Januarie 1994 het ongeveer 100 belangstellendes ’n openbare vergadering oor die saak bygewoon. Daar is besluit op die naam Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Die eerste fees is beplan vir September in dieselfde jaar, maar dit sou egter eers in April 1995 aangebied word. Voortaan is die KKNK jaarliks in die Maart/April-skoolvakansie gehou. Dit het die weg gebaan vir ander Afrikaanse feeste soos Aardklop, Innibos en die Stellenbosch Woordfees.

1996: Afrikaans Stereo kry nuwe naam
In 1996 is daar besluit om die Afrikaanse radiostasie, Afrikaans Stereo, se naam te verander na Radio Sonder Grens (RSG). Dit volg na die Onafhanklike Uitsaai-owerheid gemeen het dat daar geen verwysing na ’n taal in die naam van ’n radiostasie moet wees nie. Aansienlike veranderinge is geïmplementeer. Drama, poësie, letterkundige programme en klassieke musiek is na die laat aand toe geskuif. Vandag is RSG steeds een van die gewildste Afrikaanse radiostasies.

1997: Paljas

In 1997 is die rolprent Paljas uitgereik. Die draaiboek is deur Chris Barnard geskryf en die regie is deur Katinka Heyns behartig. Dit het sowat R2,4 miljoen by die loket verdien. Marius Weyers, Gérhard Rudolf en Aletta Bezuidenhout is van die akteurs wat hoofrolle vertolk het. Hierdie film was die eerste Suid-Afrikaanse rolprent wat benoem is vir ’n Oscar-toekenning in die afdeling beste buitelandse rolprent. Paljas het vyf toekennings by die M-Net All African Film Awards gewen.

1998: Beeskraal

In 1998 het die sanger Charles Smidt die groep Beeskraal gestig. Dit is ’n rockgroep met eg Afrikaanse klanke. Hulle was die eerste Suid-Afrikaanse groep wat by die Ukkasie-fees in Londen opgetree het. Die groep het al talle toekennings verwerf. Hulle het die VONK-Toekenning vir Beste Groep en Album ontvang, die ATKV ere-toekenning vir hul bydrae en bevordering van Afrikaanse Rockmusiek, die Geraas (SABC 2) Musiektoekenning vir Beste Rockgroep, Kanna-toekenning (KKNK) vir Beste Afrikaanse Groep en die Huisgenoot-toekenning vir beste rockgroep. Een van hul bekendste treffers is “Plaasdorp”.

1999: LitNet sien die lig

Die ontwikkeling van tegnologie het ook vir Afrikaans groot voordele ingehou. In 1999 is die webwerf LitNet gestig wat Afrikaans as hoëfunksietaal bevorder. Die eerste hoofbestuurder was die skrywer en akademikus Etienne van Heerden. LitNet bied ’n platform vir skrywers om kritiese en akademiese artikels in Afrikaans te skryf. In 2007 is LitNet Akademies gestig wat vandag een van die mees gerespekteerde akademiese joernale vir geakkrediteerde artikels is. Dit bestaan uit verskeie vakdissiplines soos Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Godsdienswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regte.

2000: Media24

In Augustus 2000 het Media24 vanaf Naspers afgestig en ’n onafhanklike maatskappy geword. Weens struktuurveranderinge het Naspers sy gedruktemediabelang onder een sambreel geplaas met ’n onafhanklike uitvoerende hoof. In 2005 is twee onafhanklike besigheidseenhede geïnkorporeer, naamlik Via Afrika en Educor. In 2014 is Netwerk24 geloods met die saamvoeging van inhoud uit Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport op ’n enkele Afrikaanse nuuswerf. Media24 is vandag een van die toonaangewendste mediahuise in Afrika.

2001: Wikipedia in Afrikaans

Wikipedia is een van die grootste aanlyn ensiklopediewebwerwe wat op 15 Januarie 2001 begin is. In November daardie selfde jaar is die Afrikaanse weergawe vrygestel. Artikels word deur vrywilligers geskryf en die teks word onder ’n Creative Commons-lisensie versprei. Die Afrikaanse Wikipedia is ’n bewys dat Afrikaans ’n lewende taal is wat aanpasbaar is by tegnologiese veranderinge. Die Afrikaanse Wikipedia het tans 401 686 bladsye, waarvan 121 377 artikels is. Dit het 184 397 geregistreerde gebruikers, waarvan 206 as aktief gereken word. Hierdie gebruikers het al 2 730 251 wysigings aangebring en 9 736 lêers opgelaai.

2002: US verander taalbeleid

Met die politieke veranderinge van 1994 het daar groot onsekerheid geheers oor die toekoms van Afrikaans by tersiêre instellings. Onder leiding van prof. Jakes Gerwel is ’n komitee gestig wat bevind het dat dit noodsaaklik is dat Afrikaans as voertaal by die Potchefstroomse Universiteit (PU) en die Universiteit van Stellenbosch (US) behou moet word. In 2002 het die US egter ’n taalplan opgestel wat voorsiening gemaak het vir ’n T-opsie (tweetalige klasse). Dit het tot groot ongelukkigheid gelei. Binne tien dae het studente meer as 3 500 handtekeninge ingesamel vir ’n protesskrif aan die rektor. Ongeveer 150 Afrikaanse skrywers het op inisiatief van Elsa Joubert, George Weideman en Abraham H. de Vries by die universiteitsraad teen die beleid geprotesteer.

2003: “Pampoen”

Met die vrystelling van Steve Hofmeyr se Toeka-album in 2003 het hy hulde gebring aan plaaslike kunstenaars, maar ook ’n paar van sy eie komposisies ingesluit. Die treffer “Pampoen” was onder andere op die Toeka-album. “Pampoen” was een van die grootste suksesse in Hofmeyr se loopbaan. Die musiekvideo het groot sukses behaal met Al Debbo en Miems de Bruyn wat daarin verskyn. Die liedjie wek ’n nostalgiese, plattelandse gevoel by luisteraars op.

2004: Die Vrye Afrikaan

Tydens die stigtingsvergadering van die Groep van 63 (G63) het Johan Rossouw gepleit vir ’n nuwe Afrikaanse intellektuele tydskrif. Nadat Danie Goosen voorsitter van die FAK geword het, is die eerste uitgawe van Die Vrye Afrikaan met Rossouw as redakteur gepubliseer. Die blad is in 2006 gestaak en die sirkulasie was nooit groot nie; dit het wel baie gesaghebbende artikels bevat. Onderwerpe waaroor geskryf is, sluit in: Afrikaneridentiteit, die toekoms van Afrikaans by universiteite en die gevolge van transformasie.

Lees gerus meer oor Die Vrye Afrikaan: https://afrikanergeskiedenis.co.za/die-vrye-afrikaan/

2005: Chris Chameleon stel sy eerste solo-album vry

Chris Mulder (beter bekend as Chris Chameleon) het reeds in 1989 begin optree toe hy die Dalro- Nasionale Akteurskompetisie gewen het. Tussen 1990 en 1995 was hy die hoofsanger van Blue Chameleon waarna hy Nederland toe is om vir ’n teatermaatskappy te werk. In 1997 het hy weer op die verhoog verskyn met die groep Boo!. Tydens ’n toer in Nederland het hy ’n liefde vir Ingrid Jonker se gedigte ontwikkel. Die vervaardigers van die sepie 7de Laan het hom genader om ’n Afrikaanse gedig te toonset en in die sepie te sing; hy het besluit op ’n Jonker-gedig. Later in 2005 het hy sy eerste solo-album vrygestel, Ek Herhaal Jou, wat getoonsette gedigte van Jonker bevat het. Die album het goue status behaal en Chameleon het ’n huishoudelike naam geword. Die album het saamgeval met die 40ste herdenking van Ingrid Jonker se dood.

Saamgestel deur Etienne Hansen