ALBA BOUWER (1920-2010)
Alba Bouwer was ’n bekende Afrikaanse skrywer en joernalis wat veral bekendheid vir haar kinderboeke verwerf het.
Albertha Magdalena Bouwer is op 16 Maart 1920 op ’n plaas in die Vredefort-distrik in die Vrystaat gebore, en het in 1936, op sestienjarige ouderdom, aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in Paarl gematrikuleer. Na skool het sy aan die Hugenote-kollege op Wellington gaan studeer; sy het haar BA-graad met Afrikaans en Duits as hoofvakke behaal, asook haar sekondêre onderwysdimploma. Sy het daarna eers op Burgersdorp in die Oos-Kaap gaan skoolhou, en later by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.
Sy het die kinderprogram van die Afrikaanse radiodiens van die SAUK vanuit die ateljee in Kaapstad aangebied en het in 1948 assistent-redakteur van Sarie geword. Sy was altesaam dertien jaar lank aan dié tydskrif verbonde. Haar skrywersloopbaan het in 1954 begin toe Landbouweekblad haar gevra het om ’n reeks kinderstories te skryf. Stories van Rivierplaas, wat semi-outobiografies van aard was, is gebore. Die hoofkarakter was Alie, en haar grootwordjare is in hierdie reeks verhale beskryf. Voordat dit in Landbouweekblad kon verskyn, het ’n redaksielid van Sarie dit gelees en vir dié tydskrif se redakteur, Fred le Roux, gegee. Nadat dit eers in Sarie verskyn het, is dit in 1955 in boekvorm uitgegee, met Nuwe stories van Rivierplaas ’n jaar later. Hierdie twee bundels is in 1959 met die Scheepers-prys vir jeuglektuur bekroon. In 1958 het sy die karakter Abdoltjie, ’n Kaapse kind van Maleise herkoms, geskep. Dit was die onderwerp van haar bundel: Abdoltjie: ses verhaaltjies van ’n Maleiertjie in die Ou-Kaap. Dit was ook ’n herskepping van haar kinderdae maar sonder om neerbuigend of sentimenteel te wees. In Stories van Ruyswyck, wat in 1963 verskyn het, het sy die verhaal van Alie as koshuisleerling vertel, en in dieselfde jaar het lesers kennis gemaak met karakters soos Tant Letta, Oom Koos, Outa Warie en ander in Stories van Bergplaas.
In 1962 is sy met haar eerste man, Hubert Coetzee getroud; hy is egter in 1969 oorlede. In 1975 is sy met haar tweede man getroud. Hy was dertig jaar lank getroud met Tibbie van der Merwe, die kleindogter van president MT Steyn van die Oranje-Vrystaat. Hy was saam met Alba se eerste man op universiteit en hulle was huisvriende.
In 1976 het sy ’n gebedeboek onder die skuilnaam Magriet Coetzee vrygestel; dit was aanvanklik deel van ’n rubriek wat in Sarie verskyn het en was getiteld Nuwe gebede van ’n vrou. Twee verdere bundels het in 1978 en 1985 verskyn, gevolg deur Aand van die lewe: gebede van ’n bejaarde vrou, in 1988. Verder het sy, ter viering van die eeufees van Afrikaans in 1975 die versamelbundel Afrikaans 100: ’n klein gedenkboek met byskrifte, saamgestel.
Op 5 Oktober 2010 is sy oorlede nadat sy in ’n koma verval het. Ter viering van haar honderdste verjaardag in 2020 het twee van haar stiefkinders ’n spesiale program by die US Woordfees aangebied waarin hulle hul herinneringe aan haar met die gehoor gedeel het. Terselfdertyd is die Alba Bouwer-omnibus, wat bestaan het uit Stories van Rivierplaas, Nuwe stories van Rivierplaas, Stories van Ruyswyck en Stories van Bergplaas, weer bekendgestel.
deur Daantjie Badenhorst