GRONDWETLIKE BEPALINGS VIR SELFBESKIKKING, 1996
Die Vryheidsfront se prestasie by die stembus was voldoende om sekere meganismes in werking te stel. Die belangrikste gevolg daarvan was bepalings in die finale grondwet van Suid-Afrika (1996). Hoewel dié bepalings die regering nie verplig om selfbeskikking vir Afrikaners te bewerkstellig nie, gee dit wettige status daaraan. Dit laat die bal in Afrikaners se eie hande, of die strewe tot werklikheid omskep kan word:
ARTIKEL 235: Selfbeskikking
Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ’n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.
ARTIKEL 30: Taal en Kultuur
Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, maar niemand wat hierdie regte uitoefen, mag dit doen op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.
ARTIKEL 31: Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe
1. Persone wat aan ’n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap –
a. hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en
b. kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.
2. Die regte in subartikel (1) mag nie uitgeoefen word op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.
ARTIKEL 185: Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe
Funksies van Kommissie
1. Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het die volgende hoofoogmerke:
Om respek te bevorder vir die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe;
Om vrede, vriendskap, menslikheid, verdraagsaamheid en nasionale eenheid onder kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe op die grondslag van gelykheid, nie-diskriminasie en vrye assosiasie te bevorder en te ontwikkel; en
Om die instelling of erkenning, ooreenkomstig nasionale wetgewing, van ’n kultuur- of ander raad of rade vir ’n gemeenskap of gemeenskappe in Suid-Afrika aan te beveel.
2. Die Kommissie het die bevoegdheid, soos deur nasionale wetgewing gereguleer, wat nodig is om sy hoofoogmerke te bereik, met inbegrip van die bevoegdheid om kwessies betreffende die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe te monitor, te ondersoek, na te vors, opvoeding daaroor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen.
3. Die Kommissie kan enige aangeleentheid wat binne sy bevoegdhede en funksies val aan die Menseregtekommissie vir ondersoek rapporteer.
4. Die Kommissie het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.