Resensie: Wolraad Woltemade 250 – Ter herdenking van sy heldedaad in 1773
Wolraad Woltemade 250 – Ter herdenking van sy heldedaad in 1773
Outeur en uitgewer: Marthinus van Bart
Resensie deur: Etienne Hansen, geskiedenisnavorser by die FAK en Erfenisstigting
Die tragiese verhaal van die sinking van die skip De Jonge Thomas in 1773 het gesorg vir een van Suid-Afrika se grootste heldedade. Wolraad Woltemade word vandag nog onthou as een van die land se beroemdste helde. Sy dapper moed en tragiese sterfte het nie net gelei tot Wolraad se verheffing tot heldestatus nie, maar ook van hom ’n byna mitiese figuur gemaak. In sy boek Wolraad Woltemade 250 pak Martinus van Bart die reusetaak aan om die legende van die feite te skei om ’n objektiewe blik te gee oor die historiese figuur Wolraad Woltemade en sy reddingsdaad op 1 Junie 1773 in Tafelbaai.
Van Bart skets ’n volledige agtergrond van die maritieme tradisie aan die Kaap van die middel 16de eeu en wat aanleiding gegee het tot die sinking van De Jonge Thomas. Hy raadpleeg die ooggetuieverslag van Carl Peter Thunberg, die Sweedse botanikus wat die tragiese gebeurtenis aanskou het. In die boek word die vrae rakende Wolraad se woning, sy beroep en die presiese verloop van die heldedaad in diepte bespreek en beantwoord.
’n Hele hoofstuk word gewy aan die verskyning van Wolraad se heldedaad in die kunste. Verder gee Van Bart praktiese raad vir ’n kultuurhistoriese toer deur die Moederstad waarin vergete skatte van VOC-tydperk bespreek word.
Wolraad Woltemade 250 kan aanbeveel word vir enige belangstellende in die VOC-tydperk. Hoewel die boek krities is in sy beoordeling laat dit enige leser met ’n groter verwondering vir Wolraad Woltemade.
Die boek is beskikbaar by Marthinus van Bart en kan bestel word by [email protected]
Die boek se prys is R480 saam met versending via Postnet @ R120 ekstra.
Lees ook gerus: https://www.netwerk24.com/stemme/profiele/wolraad-woltemade-en-die-kaapse-skandes-van-vandag-20250117-2
