RETIEF-MANIFES
Hierdie manifes word op 2 Februarie 1836 in The Graham’s Town Journal gepubliseer deur Louis Meurant, persoonlike vriend van Retief en eienaar van die koerant. ’n Letterlike vertaling is:
“Baie berigte is in die kolonie versprei, klaarblyklik met die bedoeling om in die gedagtes van ons landgenote ‘n gevoel van vooroordeel gaande te maak teen diegene wat besluit het om uit die kolonie te emigreer waar hulle baie jare ‘n reeks van uiters ergerlike en ernstige verliese gely het; en omdat ons gretig is om hoog aangeskryf te wees in die agting van ons broeders, en ons begerig is dat hulle en die hele wêreld moet glo dat ons nie in staat is om heilige bande te verbreek wat ‘n Christen aan sy geboortegrond bind, sonder baie grondige redes nie, is ons genoop om die volgende opsomming te gee van ons motiewe om so ‘n belangrike stap te doen; en ook ons voornemens met betrekking tot ons handelswyse teenoor die Inboorlingstamme wat ons moontlik oorkant die grens sal ontmoet.
1. Ons gee moed op om die kolonie te red van daardie euwels wat dit bedreig weens die oproerige en oneerlike gedrag van leeglopers wat toegelaat word om die land oral te teister, ook het ons geen vooruitsig van vrede en geluk vir ons kinders in ‘n land wat so deur interne toestande verwar is nie.
2. Ons kla oor die swaar verliese wat ons gedwing is om te ly deur die vrystelling van ons slawe, en die ergerlike wette wat aangaande hulle verorden is.
3. Ons kla oor die aanhoudende stelsel van plundering wat ons gedurig moes verduur van die Kaffers [Xhosas] en ander gekleurde klasse, veral tydens die laaste inval in die kolonie, waardeur die grensdistrikte verwoes is, en die meeste inwoners geruïneer is.
4. Ons kla oor die onregverdige blaam wat op ons gewerp is deur betrokke en oneerlike persone, onder die mantel van godsdiens, wie se verklarings in Engeland geglo word met die uitsluiting van alle getuienis in ons guns; en ons kan as ‘n gevolg van hierdie vooroordeel, niks anders as die algehele ondergang van die land voorsien nie.
5. Ons is vasbeslote, waar ons ook al gaan, om die regverdige beginsels van vryheid te handhaaf, maar terwyl ons sal sorg dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is dit ons vaste voorneme om sodanige bepalings in stand te hou wat misdaad sal onderdruk en ‘n gesonde verhouding tussen baas en kneg sal verseker.
6. Ons verklaar plegtig dat ons hierdie land verlaat met ‘n begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as tot nou toe. Ons sal niemand molesteer, nog hulle van die kleinste besitting beroof nie, maar, as ons aangeval word, sal ons onsself ten volle geregverdig ag om ons lewe en besittings te verdedig, na die beste van ons vermoë, teen elke vyand.
7. Ons maak bekend, dat ons ‘n stel wette vir ons toekomstige bestuur sal opstel, afskrifte sal vir algemene inligting na die kolonie gestuur word; maar ons maak van die geleentheid gebruik om te verklaar, dat dit ons vaste voorneme is om voorsiening te maak vir die summiere straf van enige verraaiers wat tussen ons gevind mag word.
8. Ons is van voorneme, om gedurende ons reis, en by ons aankoms in die land waar ons permanent sal woon, die inboorlingstamme in te lig oor ons voornemens, en ons begeerte om in vrede en in ‘n vriendskaplike verhouding met hulle te lewe.
9. Ons verlaat hierdie kolonie in ‘n vaste sekerheid dat die Engelse regering niks meer van ons moet verwag nie, en ons sal toelaat om onsself in die toekoms te regeer sonder inmenging.
10. Ons verlaat nou die vrugbare land van ons geboorte, waar ons groot verliese en voortdurende ergernis moes ly, en betree ‘n wilde en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en barmhartige Wese, wie ons sal strewe om te vrees en nederig te gehoorsaam.Op gesag van die Boere wat die Kolonie verlaat het.”
(Geteken) P. Retief