BRITSE SETLAARSMONUMENT, GRAHAMSTAD

Die koms van die Britse setlaars in 1820 het Suid-Afrika se ontwikkeling baie bevorder. Suid-Afrika is toe ook met baie nou bande aan Brittanje geknoop. Die rede vir die Setlaars se koms, was die terugkeer van die soldate van die Napoleontiese oorloë – hulle was werkloos. Die industriële omwenteling het ook plaasgevind waar masjiene bo mense verkies is. Toe Lord Charles Somerset vra dat immigrante hulle in Suid-Afrika moes vestig, is iets soos 90 000 aansoeke ontvang. Ongelukkig kon hulle slegs 4 000 stuur. Lord Charles Somerset wou gehad het dat die immigrante hulle by die Oosgrens vestig om verdere botsings tussen die Xhosas en die Blankes te voorkom. Daar sou met ander woorde ’n sterker linie wees om die Xhosas te keer. Die Setlaars sou plasies van 50 morg ontvang. Daar was ook ’n tekort aan ambagsmanne in Suid-Afrika. Somerset het ook beoog om van die Kaap ’n Britse kolonie te maak. Hy het om daardie rede Setlaars aangevra. Dr. William Guybon Atherstone, bekend as die vader van geneeskunde in Suid-Afrika, was ook ’n vername 1820-Britse Setlaar. Ons het deur Pringle en Craig (al twee Britse Setlaars van 1820) se toedoen die vryheid van die pers verkry. Toe die Setlaars in 1820 in Suid-Afrika kom, was baie van hulle nie boere nie. Somerset het bepaal dat hulle nie van hulle plasies mag wegtrek nie. Een Setlaar het byvoorbeeld ’n sloot van 2 voet diep gemaak en wortelsaad daarin geplant. Iemand het uie onderstebo geplant en ’n lid van die Salemgeselskap het grawe vol koring gesaai en gesê: “Wie spaarsaam saai, sal spaarsaam maai.”

Vandag het ons ’n monument wat ons herinner aan die swaarkry van die Setlaars. Die gebou het sowat R5 miljoen gekos, beslaan sowat 6 240 meter2. Dit het sewe vlakke wat saamsmelt met die geskiedkundige Gunfire-heuwel by Grahamstad. In 1970 is die eerste sooi deur dr. Nico Malan, voorsitter van die monumentstigting, omgespit. Daar is begin! Toe kom die terugslae, helaas! weens die styging van boukoste. Maar die regering het weereens uitgehelp. Vandag staan die gebou daar. Dit is op 13 Julie 1974 ingewy.

Die monument is hoofsaaklik vir Engelssprekendes gebou. Die verhaal van hierdie gebou strek ver terug na 1957 toe wyle mnr. T. B. Bowker, L.V. van Albanie gesê het: “Ons moet die nageslag laat weet dat die Engelssprekende Setlaars asook die Nederlandse, Franse en Duitse tot die ontwikkeling van ons land bygedra het.” Die gebou sal gebruik word vir Engelse taalfeeste wat sal plaasvind in die gehoorsaal. Gedurende die feestyd is ’n reeks praatjies saam met rolprentvertonings in sewe aflewerings, oor die Suid-Afrikaanse lewe geloods.”

Bo die ouditorium is die konferensiesentrum. Behalwe die konferensiesaal met 400 sitplekke is daar nog ’n tweede konferensiesaal en kleiner vertrekke vir bestuursvergaderings en seminare. Daar is ook ’n ruim sitkamer vir afgevaardigdes en ’n restaurant agter glas met ’n pragtige uitsig oor die stad en omliggende landskap. Daar is moderne kombuisgeriewe en ’n banketsaal vir besondere bankette en byeenkomste wat in verband staan met ’n konferensieprogram. Voorsiening word gemaak vir pos-, projeksie-, kleurskyfie-, pers-, uitsaai-, televisie- en direkte vertalingsgeriewe. Die eerste konferensie het gehandel oor die onderwerp: “Engelssprekende Suid-Afrika – ’n waardebepaling”.

’n Silhoeët teen die blou lug, ’n grootse baken sigbaar van ver, so staan die Nasionale Monument vir die Setlaars van 1820. Dit is meer as net ’n monument, dit is ’n geleentheid, dit is ’n uitdaging!

Geskrywe deur Eksteen Greyling st. 4, Laerskool Meyerspark, Pretoria (soos verskyn in Junior Historia, April 1975