“HET ZIEKENHUIS”, RIVIERSONDEREND

“HET ZIEKENHUIS”, RIVIERSONDEREND

Vanaf Caledon loop die nasionale pad oor die uitlopers van die Swartberg tot in die pragtige, vredige Vallei van die Riviersonderend, vroeër Zoete Melks Valley. In vervange se dae het die pad veel nader aan die rivier gegaan en afgesak in ’n dal waar vandag die sierlike opstal van die plaas met naam Nethercourt geleë is. Hier op die suid-oewer loop byna reghoekig met die rivier ’n kranswand, waarin die Ziekenhuis-grot is.

Hierdie grot, hoewel klein en onaansienlik, was veral in die 18de eeu ’n baie belangrike plek op die roete van ou reisigers na die ooste. Volgens oorlewering het hulle dit gebruik as skuiling vir lede van hulle reisgeselskappe wat siek of beseerd was en so het die naam “Het Ziekenhuis” ontstaan. Heelwat ou gegraveerde voorletters kan nog onderken word en veral die OB en CDW op die rant voor links, wek die vermoede dat die ou veteraan reisiger Oloff Bergh en sy skoonseun C.J. de Wet hier van die eerste besoekers was. Na hulle het baie ander hier aangegaan o.a. die Franse reisigers Francois le Vaillant in 1781 en Henry Lichtenstein in 1805. Albei vermeld spesifiek hulle besoek aan die grot en die oorsprong van sy naam.

(Bronsplaat 1954)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 108-109.