DIE KASTEEL DE GOEDE HOOP

Op 8 April 1652 het Jan van Riebeeck die”Kaapse Uithoek” in naam van die Verenigde Oos-Indiese Kom-panjie en die Hoogmoënde State-Generaal in besit geneem. Hy het sy fort, De Goede Hoop, gebou in die Tafelvallei digby die strand, oos van die Varsrivier, wat bo uit Tafelberg min of meer langs die Heerengracht, die huidige Adderleystraat, gevloei het, d.w.s. op ‘n deel van die perseel van die ou spoorwegstasie en die O.K. Basaar. Hierdie fort met sy sooimure was nie geskik om ‘n vyand van die see of die binneland af te weer nie. In 1664 het daar juis weer ‘n see-oorlog met die Nederlande se handelskonkurrent, Engeland, gedreig, en die Kompanjie het besluit om die ou fort deur ‘n nuwe vesting te vervang, wat teen Europese vyande bestand sou wees.

Die terrein vir hierdie vesting, die Kasteel, is in Augustus 1665 uitgesoek deur kommissaris Isbrand Goske wat “na vele deliberaties” besluit het “dat de nieuwe royale fortresse, die d’Heeren Meesters alhier gedencken te begrypen, omtrent 60 roeden (Rynlandse, d.w.s. omtrent 223 meter) verder van die fort oost waert nyt op een bequame vlackte sal gelegt worden”. Nog in dieselfde maand het die landmeter-fiskaal, Hendrik Lucas, bygestaan deur die ingenieur, Pieter Dombaer, nuwe sterkte afgemeet.

Hierdie vesting is gebou in ooreenstemming met die beginsels van die Oud-Nederlandse fortifikasiestelsel wat reeds in die begin van die 17de eeu in die Nederlandse Republiek en in sy nedersettings buite Europa van toepassing was. Dit sou, soos ons dit vandag nog ken, ‘n vyfhoekige vesting met bolwerke of bastions op elke hoek wees. Elke wal of courtine tussen twee bastions sou 150 meter lank wees en die bastionflanke sou reghoekig op hul aangrensende courtines staan sodat die aangrensende walle sowel as die flanke van die daarteenoor bastions uit die flanke van ‘n bepaalde bastion bestryk kon word. Onder elke bastion sou ‘n kruitmagasyn wees. Rondom die kasteel sou ‘n grag van 25 meter gegrawe word.

Die bouwerk is opgedra aan die ingenieur, Pieter Dombaer, bygestaan deur die timmerman, Adriaan van Braeckel, en die baasmesselaar, Douwe Gerbrandtz Steyn. Nadat die ruigte ten ooste van die ou fort opgeruim en die grond gelykgemaak was, is fondamente van meter breed op ‘n diepte van 3 tot 6 meter op rotsbank gelê. Op 2 Januarie 1666 is met groot plegtigheid vier hoekstene deur goewerneur Zacharias Wagenaar en ander gelê. Boumateriaal soos klip en skulpkalk is met behulp van slawe van Robbeneiland verkry en hout uit Houtbaai. Soldate het die arbeid by die bouery verrig. Toe die oorlog in 1667 ten einde geloop het, is die werk tydelik gestaak. Twee bastions was toe klaar.

In 1672 is vyandelikhede tussen die Nederlande en Engeland hervat en is daar dadelik met die bou van die Kasteel voortgegaan. Teen 1674 kon die ou Fort ontruim en die Kasteel vir die eerste maal betrek word. Dit sou tot 26 April 1679 duur voordat die vesting finaal voltooi sou wees.

Die vyf bastions is genoem na die titels van die Prins van Oranje. Die noordelike bastion, vandag naaste aan die spoorwegaanleg, is Buren genoem. In hierdie bastion was die kaserne van sommige offisiere en manskappe. Bo-op was daar twaalf-, agtien- en vier-en-twintigponder-kanonne, waarvan die Kasteel in die 18de eeu altesame sowat honderd gehad het. Op Buren was ook die tuin waarin lady Anne Barnard in die dae van lord Macartney (1797-1798) gewandel het. Net buitekant, teen die muur, was in die Kompanjiestyd die tolhek vir almal wat uit die binneland met produkte na “het Kaapsche” (Kaapstad) gekom het.

Die oostelike bastion heet Katzenellenbogen. Oor hierdie bastion het die ou Driekleur altyd gewapper en daaronder is die berugte Donker Gat, ‘n kerker vir misdadigers, asook ander selle.

Die suidoostelike bastion is Nassau met sy eie pakhuise en kantore.

Die suidelike bastion is Oranje. Hierin het die bewaarders van die wapenkamer hul tuiste gehad en hier was ook die wonings en werkplekke van die geweersmede.

Die westelike bastion is Leerdam. Daarin was die betaalmeester se kantoor en die kombuise.

Tussen Nassau en Katzenellenbogen was ‘n uitvalspoort met ysterdeure. Die ingang van die Kasteel was tot 1683 tussen Buren en Katzenellenbogen, dus aan die seekant. Simon van der Stel het opdrag gekry om dit na die “gordyn” tussen Buren en Leerdam te verskuif, waar dit tans nog is. Die kloktoring bo die ingang is van “klompies”-stene gebou en die oorspronklike klok wat in 1697 in Amsterdam gegiet is, hang nog daarin. Die kroonlys van die ingang, bevat die wapen van die Verenigde Nederlande. Op die dwarsstuk daaronder is aan weerskante die V.O.C.-monogram van die Kompanjie en daartussen die ses wapenskilde van Amsterdam, Rotterdam, Delft, Zeeland, Hoorn en Enkhuizen, waar die konstituerende kamers van die Kompanjie gesetel het.

Die bastions en die courtines aan die binnekant was nie slegs met geboue omsoom nie, maar ‘n muur, bekend as die Kat, is in opdrag van kommissaris Van Rheede van Katzenellenhogen dwarsoor die binneruim na die middelpunt tussen Leerdam en Oranje gebou, met ‘n poort (waarbo tans nog die ou sonwyser te sien is) wat die buitehof met die binnehof of wapenplaats verbind. Rug aan rug aan weerskante van die 12 meter hoë muur het spoedig nog meer geboue verrys. Regs van die poort was die goewerneurswoning met ‘n groot raadsaal (voltooi in 1695) wat tot 1704 ook as kerk gebruik is. Later word dit die ontvangsaal van lady Anne Barnard. Die oordekte stoep van die goewerneurswoning met sy gegroefde kiaatpilare, die sierlike smeedysterwerk van die tralies en trapleunings met geelkoperknoppe, die balkonversiering en houtsneewerk in die bolig van die voordeur is ‘n treffende voorbeeld van die gesamentlike arbeid van die beeldhouer Anton Anreith en die argitek Louis Thibault. Anreith se werkwinkel in die kasteel was by die aansluiting van die dwarsmuur by die buitemuur tussen Leerdam en Oranje.

Links van die poort was vroeër die woning van die sekunde en daaronder was graankelders wat ook deur Simon van der Stel gebou is. Die buitehof het die meeste regeringskantore bevat en ook die woning van. die kaptein van die leermag. Die kapteinstoring waarvandaan die baai dopgehou kon word, bestaan nog onveranderd tussen Leerdam en Oranje.

Die Kasteel het sy eie waterput gehad wat vandag nog stand hou en in die Kompanjiestyd was in elke binneplaas ‘n piramide kanonkoeëls vir gebeurlikhede opgestapel. Daar is egter reeds in die 17de eeu besef dat die Kasteel moeilik verdedig kon word as ‘n vyand eers aan land kom en Duiwelspiek beset. Vandaar die aanvullende fortifikasies wat later oral aan die strand opgerig is, asook die “ravelyne” of beskuttings (couvrefaces) buite die mure van die Kasteel en die forte tot hoog teen Duiwelspiek.

Van 1674 tot 1795 was die Kasteel die hoofkwartier van die regering van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap. Dit was die amptelike woning van die goewerneur, en in die eerste helfte van die 19de eeu is dit deur die Britse goewerneurs vir dieselfde doel gebruik. Nadat Goewermentshuis die tuiste van die Britse goewerneurs geword het, het die Kasteel nog die hoofkwartier van die leërmag en die setel van die regering en die staatsdiens gebly. In die loop van die 19de eeu is die staatsdepartemente geleidelik van die Kasteel verskuif sodat net die leërmag oorgebly het.

In 1917 is die Kasteel deur die Imperiale Magte aan die S.A. Weermag oorhandig, wat dit nog gebruik.

Die Kasteel De Goede Hoop is dus die oudste en uit geskiedkundige oogpunt beskou, ook ongetwyfeld die belangrikste gebou in ons land.

TW Bowler – Die Kasteel 1850 – William Fehr-versameling (Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 4)