DIE OOP GESPREK

’n Merkwaardige verskynsel was die intellektuele diepte wat Afrikaners se kultuurlewe, veral in sekere kringe, bereik het. So ’n groep was die “Dertigers”, ’n groep Kaapse skrywers wat in die 1930′s aktief geraak het. Onder hulle was NP van Wyk Louw die invloedrykste, maar sy broer WEG Louw, Elisabeth Eybers, Hettie Smit en ID du Plessis het elk ’n belangrike rol gespeel. Vir hulle was dit belangrik dat Afrikaanse kultuurprodukte vir geen ander taal ter wêreld moes terugstaan nie. ’n Mens moes nie maar tevrede wees omdat iets Afrikaans is nie, dit moes werklik spreek van gehalte en vakmanskap. NP van Wyk Louw het uitgeblink as digter en dramaturg. Sy prosa was oorwegend nadenkende opstelle, waarin hy diepsinnigheid en openheid by mede-Afrikaners bevorder het. Een van die sprekendste daarvan is sy opstel oor die “oop gesprek” wat hier weergegee word:

Een van Suid-Afrika se goeie dinge waarna ’n mens nooit sal ophou verlang nie, is die heerlike “oop” gesprekke wat jy so dikwels daar kon kry. “Oop” gesprekke: gesprekke waarin jy oor alles kon praat; waar geen standpunt te “gewaagd” was nie, waar jy alle moontlike vorme van die lewe – tot die vreemdstes toe – van alle kante kon benader, en waar die gesprek tog nooit tot belediging, twis of woede sou ontaard nie.

En gesprekke met mense wat vér van jou af staan in elke opsig: gelowige teen ongelowige, Kommunis teen Liberalis of Nasionalis, Calvinis teen Katoliek … elkeen gewillig om sy eie standpunt tot die uiterste uiteen te sit en te verdedig; maar dan ook gewillig om hoflik en in vriendskap te luister na die teenstander, sy standpunt te probeer begryp en saaklik (al was dit skerp!) op sy veronderstellings in te gaan. Jy kon, bowenalles, mense ontmoet – buitelanders soms, maar ook eielandse mense – wat elke ding in Suid-Afrika tot in die

grond toe verfoei; veral na húlle wou jy luister, veral vir húlle verduidelik, foute teëgaan, ander dinge verdedig, geduldig die historiese wording van ons wêreld daar nagaan. En só het ’n mens gepraat nie alleen in ’n vaste kring van vriende nie: dié soort gesprek kon jy kry in Kaapstad in jou eie huis of ’n kennis s’n, of êrens bokant die see, teen die berg se hange, of in ’n motor op pad iewers deur die Karoo, of in die Transvaal, in ’n voorkamer, in ’n hotelsitkamer … En dikwels met mense wat jy die dag tevore nie geken het nie.

En waaroor daar dan so gepraat is?

Ek sou dit die maklikste kon uitdruk as: alle dinge wat in die hemele is, of op die aarde, of in die waters onder die aarde: politiek, wysbegeerte, kuns, literatuur; teologie dikwels …

Altyd swaar en ernstige onderwerpe dus?

Nee, nie altyd nie. Of dit kon gebeur dat jy van lig na swaar toe oorgaan of van swaar na lig; dit het dikwels so gekom dat ’n boeiende verhaaltjie die toegang was tot ’n ondersoek na die mees verborge dryfvere van die mens se hart; of andersom: dat ’n ernstige onderwerp verhelder kon word deur ’n geestige voorbeeld, ’n klugtige situasie. En baie, baie dikwels was dit ook weer net vertel: die oproep van ’n hele wêreld van vreemdheid en van die boeiende deur anekdotes, ontmoetings, karaktersketse. Maar hoofsaak was seker tog die botsing van menings, die ondersoek na standpunte, die ingraaf onder ’n ander se fondamente terwyl hy self weer jou eie grondslag met die koevoet toets.

’n Ewige twisgesprek dus?

Nou ja, ek sou ’n onderskeid wou maak tussen twis en stoei met gedagtes. Waar twee mense twis, daar gaan dit om wen: elkeen wil die ander klop, maar laat sy eie mening on-ondersoek … aanvaar dit as ewig-waar, vanselfsprekend, en probeer dit op die ander oordra. In die soort gesprek waaraan ék dink, was die eie standpunt altyd net soseer die onderwerp van analise en kritiek as die ander s’n. En daarom kon die gesprek soms skerp wees, maar nooit bitter nie; en hoe ouer ons almal geword het, hoe verder van alle bitterheid af; soms geestig, dikwels ironies, soms met vlugte van parodie en karikatuur (ook van die eie standpunt!) … fantastiese gevolgtrekking uit ’n ander se menings; maar alles binne die beperkings van die eintlike hoflikheid: naamlik die grondveronderstelling dat jy self ongelyk en jou teenstander gelyk kan hê. (Want wat is onhoflikheid in geestelike sake anders as die eis dat jou teenstander net na jou standpunt moet luister, die veronderstelling dat jy gelyk het en hy dit alleen nie kan of wil insien nie?)

Daarom ook is die enigste soort mens wat hom nie tuis gevoel het in hierdie atmosfeer nie, die mens wat nie aan die eis van hierdie soort hoflikheid kan voldoen nie. Ek dink aan twee soorte: daar was dié wat so blind aan eie mening gebonde was — “gebonde” is die juiste woord – dat hy sy eie uitgangspunte nie kon raaksien nie en dus nie kon verdedig nie; hy was altyd net vegter-op-die-voorpos, en hy wis nie wat agter hom lê en wat hy besig was om te verdedig nie. Ek noem hom nie “fanatikus” nie, want dié woord is te los: ’n mens kan ’n fanatieke verdediger van ’n standpunt wees omdat jy jou eie grondslag volkome ken, deur-en-deur ondersoek het, en dan nog as waar aanvaar. En hierdie soort mens, met grond onder sy voete (al sou alle grond maar ’n planeetjie wees wat self deur die ruimte vlieg!) – hierdie soort mens is iemand van wie daar te leer val. Ek sou eintlik wil sê: ’n fanatikus van hierdie soort is die beste intellektuele skermmaat.

Maar dan die tweede soort mens wat hom nie tuis voel in ’n oop gesprek nie: die man wat sy mening “patologies” verdedig; of liewer, die man wat homself verdedig eerder as sy menings; die man by wie jy voel dat hy sy persoon, sy amp, sy waardigheid omhoog probeer hou of op die voorgrond stoot; die man by wie jy merk dat hy persoonlik gekrenk voel wanneer hy ’n dwaling of ’n inkonsekwensie moet erken.

Met hierdie twee soorte kan mens alleen ’n geslote gesprek voer: jy laat hulle praat, jy luister vriendelik – miskien leer jy selfs van hulle iets – maar as daar verskil van mening blyk, dan glip jy ligweg daaroor heen. Iemand anders se onhoflikheid mag nooit rede wees

dat jy self onhoflik word nie.

’n Derde soort moet ek miskien nog noem wat nie in daardie oop gesprekke wou inpas nie: die man wat alleen aan die praktyk dink, die man wat wou intrigeer, die man wat iets onmiddellik-konkreets wou bereik. Ek sal nie die stilte vergeet wat gevolg het toe iemand,

ná ’n vriend se paar skerp kritiese uitlatings oor ’n sekere wetenskaplike werk, gesê het: “Kyk, as julle hom nou goed kan peper met hierdie soort kritiek, sal ons dit vir hom aan die universiteit baie warm kan maak. Julle moet net die ammunisie verskaf, ons sal die werk doen.” Die spreker het nie weer in dié kring verskyn nie.

Maar dit was dus dan tog alles net vir die praat?, ’n fyn intellektuele spel, en sonder oortuiging ’n eindelose diskussie wat tot geen sekerheid lei nie?

Noem dit so, as jy onvriendelik wil wees; of as jy self baie sekerheid besit. Vir sommige van ons word die sekerheid nooit in groot blokke gegee nie. Ek sou ook kon beweer: agter hierdie gesprekke het die oortuiging gelê dat daar iets soos “waarheid” bestaan, en dat ons

dit miskien kan vat … sóms … nie veel nie, en nooit alles nie; en dat ons dit alleen kan kry deur ons oop te stel vir ander wat miskien elkeen ook ’n stukkie daarvan besit.

Maar dit lyk tog alles so ligsinnig, sê jy. En weer wil ek antwoord: nee. Die erns self was wel altyd byna onopgemerk ’n gas in die geselskap, maar watter lieflike maskers kan sy dra … die ligte, ligtende erns.

’n Mens vra jou soms af: het die ou Europa hierdie ligte oopheid, hierdie ware liberalisme, voorlopig verloor? Want ouer mense vertel hier van so ’n selfde gees voor 1930, of was dit voor 1914?, die “wêreld van gister”. Het dit gewyk voor oorlog en ellende? En het dit na Suid-Afrika verhuis?

Mág dit dáár bewaar bly: die oop gesprek. En mag dit weer na Europa terugkom.