D.F. MALAN SE TOESPRAAK MET DIE OOG OP DIE ERKENNING VAN AFRIKAANS AS AMPTELIKE TAAL, 8 MEI 1925
Die grondwet het gelyke regte vir Afrikaners en Engelse beloof, maar met die kulturele agterstand van Afrikaners, kon dit nie verwerklik word nie. Nederlands is as die Afrikaner se taal beskou en is deur die staat gewaarborg. Al meer Afrikaners het besef dat Afrikaans eintlik die volkstaal van die Afrikaner was en dat dit net Engels sou bevoordeel om aan Nederlands vas te klou. Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal het dit vir Afrikaners moontlik gemaak om hulleself uit armoede en ongeleerdheid op te hef. Die opkoms van Afrikaans en bemagtiging van Afrikaners daardeur, is inderdaad een van die twintigste eeu se groot suksesverhale. Een van die groot kampvegters vir Afrikaans was dr DF Malan, oudpredikant wat die politiek betree het en nog diep spore sou trap. Hieronder volg ’n toespraak wat hy in 1925, met die verkryging van amptelike status vir Afrikaans, gelewer het:
Toespraak voor die Verenigde Sitting van albei Huise van die Parlement op 8 Mei 1925 deur dr. D.F. Malan.
Dis nouliks nodig vir my om te sê dat die saak wat vandag voor die Verenigde Sitting van die Parlement gelê word, nie ’n nuwe op sigself staande saak is nie, maar dat dit ’n uitvloeisel is van vorige handelinge, of ’n reeks van handelinge deur beide Huise van die Parlement afsonderlik begin.
Aan die begin van die teenswoordige Sitting is die saak te berde gebring in hoeverre die tyd aangebreek het om Afrikaans te gebruik nie alleen vir administratiewe doeleindes nie, maar ook as medium van wette en wetsontwerpe en offisiële dokumente van die Parlement. ’n Mosie in verband met hierdie saak is ingedien met die bedoeling dat ’n gesamentlike komitee van beide Huise van die Parlement sal aangestel word om grondige ondersoek in die saak in te Stel, en aan beide Huise verslag uit te bring.
Die mosie is in beide Huise met eenparige stemme aangeneem, die komitee is aangestel, het ’n grondige ondersoek ingestel in die saak en toe ’n eenstemmige verslag uitgebring. Daarna is die verslag deur beide Huise van die Parlement afsonderlik met eenparige stemme aangeneem.
In daardie verslag is veral twee vername aanbevelings gemaak. Die eerste een is dat volgens die beskouing van die gesamentlike komitee die tyd wel aangebreek het om tot die verdere stap met betrekking tot Afrikaans oor te gaan. Volgens die goedkeuring wat aan die verslag geheg is deur beide Huise van die Parlement, is dan ook die besluit geneem deur elk van die Huise afsonderlik dat die nuwe stap ’n aanvang sal neem met die begin van die sitting van 1926. Die tweede belangrike aanbeveling is dat om hierdie stap te beveilig en te verhef bo alle moontlike twyfel omtrent die wettigheid daarvan, ’n Verenigde Sitting van beide Huise nodig sal wees om die wetsontwerp wat aan die hand gegee is, in die Gesamentlike Sitting
goed te keur.
Die verslag, soos al gesê, is deur beide Huise sonder enige teenstem aangeneem, en terwyl in die verslag die wet wat nou aan die Verenigde Sitting voorgelê word, inbegryp is, kan ons, dink ek, met reg se dat die wet reeds in beginsel goedgekeur is deur ieder van die twee Huise afsonderlik. Ek wil net kortliks daaraan herinner waarom die gesamentlike komitee dit nodig geag het om te vra dat hierdie wetsontwerp deur ’n Verenigde Sitting van beide Huise moet goedgekeur word om alle twyfel weg te neem omtrent die bedoeling van art. 137.
Soos aan agb. lede bekend is, word die offisiële gebruik van beide offisiële tale gereël deur art. 137 van die Suid-Afrika-wet. Daarin word bepaal dat die twee offisiële tale gelyke regte en voorregte sal geniet. Toe die kwessie opgekom het omtrent die gebruik van Afrikaans en die vervanging van Nederlands deur Afrikaans in offisiële dokumente, wette en wetsontwerpe van die Parlement, het daardeur natuurlikerwys die vraag ontstaan in hoeverre ’n praktiese wysiging van die bepalinge van art. 137 aan te bring. Dit is nodig om die vraag onder die oë te sien, omdat art. 137 feitlik nie, met een uitsondering, op gelyke voet staan met die ander artikels van die Suid-Afrika-wet nie, maar deur art. 152 is, die bepaling van art. 137 spesiaal beskerm en die artikel kan nie gewysig word behalwe deur ’n besluit geneem met tweederde-meerderheid in ’n Gesamentlike Sitting van beide Huise nie.
Die vraag is: indien Afrikaans in die plaas van Nederlands gesit word, in hoeverre dit dan ’n wysiging van art. 137 van die Suid-Afrika-wet beteken. Op die vraag is geen antwoord gegee deur die gesamentlike Gekose Komitee van beide Huise wat die ondersoek ingestel het nie, en op hierdie vraag is ook geen antwoord gegee deur beide Huise van die Parlement toe die verslag uitgebring is nie. Die kwessie of art. 137 deur die invoering van Afrikaans gewysig word, is vandag nog ’n ope kwessie. Alles hang af van die dieperliggende vraag in hoeverre Afrikaans nie alleen ’n aparte taalvorm van Nederlands is nie, maar beskou word as ’n aparte taal. Daarvan hang alles af.
Die groot oorwig van meninge in verband met hierdie saak is ongetwyfeld dat Afrikaans nie ’n aparte taal nie, maar alleen ’n afsonderlike taalvorm van Nederlands is, of liewer van die meer algemene taal, genoem die Dietse taal. Die groot oorwig van menings is dat Nederlands en Afrikaans maar alleen twee aparte taalvorme is. Op hierdie veronderstelling is ongetwyfeld ook vir geruime tyd gehandel deur wetgewende liggame en andere. Afrikaans is ingevoer vir administratiewe doeleindes en reeds vir ’n aantal jare in gebruik gewees. Die Provinsiale Rade, altans sommige daarvan, het sover gegaan om hul ordonnansies ook in Afrikaans op te sit en die Volksraad het altans sover gegaan om toe te staan dat sekere stukke wat offisieel of half-offisieel is, in die Afrikaanse taal ingeklee kan wees. Verder kan ek nog daarop wys dat Afrikaans as medium van onderwys feitlik ingevoer is in alle skole van alle provinsies van die Unie.
Die groot meerderheid van mening hieromtrent is dat Afrikaans wel deeglik inbegryp is onder die woord “Hollands” in art. 137. Maar tog erken iedereen ten slotte dat die saak nie wettig is nie, of laat ons liewer sê dat die wettigheid afhanklik is van die filologiese kant van die saak en dat die vraag in die grond van die saak filologies is. Op dié gebied bestaan wel enige verskil van mening.
Daar is ongetwyfeld ook ’n meerderheid wat meen dat die Afrikaanse taalvorm saam met Nederlands en die Dietse taal in die algemeen beskou moet word as een, maar daar is ander mense wat sê dat onder die heersende omstandighede, waar Afrikaans gebruik word deur ’n volk 6,000 myl verwyder van Nederland, Afrikaans onder die omstandighede wel deeglik beskou moet word as ’n aparte taal. Oor die vraag is geen besluit geval nie en dit is vandag nog ’n ope saak en die Gekose Komitee en die beide Huise afsonderlik het beskou dat daar genoegsame verskil van mening bestaan omtrent die saak, wat dit nodig maak dat die prosedure gevolg word wat ons nou volg om deur ’n wysiging van art. 137 vir altyd twyfel omtrent die punt weg te neem. Daarom is ons hier vandag in Gesamentlike Sitting.
Ek wil net hier byvoeg dat, soos agb. lede sal sien, hierdie wet van terugwerkende krag gemaak is en wel omdat, soos ek gesê het, daar reeds geruime tyd administratief gehandel is op die veronderstelling dat Afrikaans wel deeglik inbegryp is onder art. 137, en nou word dit van terugwerkende krag gemaak om die administratiewe dade van die verlede ook te dek.
Ek kan net verder in verband met hierdie wetsontwerp dit daarby voeg, dat dit ’n saak van sentiment is dat hierdie wetsontwerp, indien dit aangeneem word, deur Sy Eksellensie die Goewerneur-generaal in die Hollandse taal onderteken sal word, maar daarteen bestaan daar praktiese besware. Daar is eintlik geen wettige offisiële Hollandse teks van die Suid-Afrika-wet nie. Die wet is gepasseer, nie deur die wetgewende liggaam in Suid-Afrika nie, maar deur die Britse Parlement en is daar gepasseer alleen in die Engelse taal. Die Hollandse teks is nooit deur enige parlement wettig verklaar nie, om nie eens te spreek van die ondertekening in Hollands deur Sy Majesteit die Koning nie.
Onder die omstandighede is daar net twee wee oop om uit die moeilikheid te kom. In die eerste plaas om die Hollandse teks, indien dit die wettige taal mag word, vir wetsontwerpe in die toekoms te amendeer en die woord “Dutch” te vervang deur Hollands, omdat “Dutch” wat eintlik staan, geldig is. Dit sou onnatuurlik en omslagtig wees, en daarom het die komitee by die bespreking van die punt gedink dat die beste manier sal wees om in hierdie geval maar die Engelse teks te neem en dié deur die Goewerneur-generaal te laat onderteken. Dit oorkom die praktiese moeilikheid. Ek noem dit maar om moeilikhede en ontevredenheid in die toekoms daaroor te voorkom.
Ek wil ten slotte nog die gedagte uitspreek dat hierdie dag in die geskiedenis van die Hollandssprekende Suid-Afrikaners ’n groot dag is. Dat die stap wat geneem word met betrekking tot die volle erkenning van die Afrikaanse taal op hierdie manier deur die hoogste wetgewende liggaam in die land, in die gedagte van die Hollandssprekende mense en van almal in Suid-Afrika wat in tweetaligheid belang stel, op prys gestel word en as ’n groot gebeurtenis beskou word. Dit is ’n groot gebeurtenis in die gedagtes van die Hollandssprekendes in Suid-Afrika, omdat, as hierdie wet gepasseer word, Afrikaans tot sy eer kom en gekroon word.
Daar is vir die Hollandssprekende in Suid-Afrika eintlik maar een taal wat in die volste sin van die woord hul eie is, en dit is die Afrikaanse taal. Dit is met die Hollandssprekende Afrikanerdom gebore en daarmee gegroei en toon dieselfde lewenskrag as wat die volk hier in die land vertoon. Dit beteken ’n voldoening aan die diepste gevoelens en hoogste aspirasies van daardie deel van die Suid-Afrikaanse volk. Dit is die simbool van die volk, van sy bestaan.
Die erkenning van die Afrikaanse taal en die kroning daarvan deur die hoogste wetgewende liggame in die land is die simbool van die erkenning van hom as volk, die erkenning van sy status en vryheid. As hierdie wet in die wetboek geplaas word, dan sal – ek mag dit sê – die Hollandssprekende gedeelte van die Suid-Afrikaanse volk vir die eerste maal voel dat hy ten volle erken word en in sy eie land ten volle vry en tuis is. Om dié rede sê ek dat dit ’n groot gebeurtenis is in die geskiedenis van die Hollandssprekende deel van die bevolking en van almal in Suid-Afrika.
In verband hiermee wil ek sê dat wat die belang van die gebeurtenis nog verhoog, is dat hierdie wetsontwerp altans by die vorige behandelings daarvan en deur die gesamentlike Gekose Komitee en in albei Huise afsonderlik gepasseer is met volkome eenstemmigheid. Iedereen weet dat omtrent die saak van Afrikaans aan die een kant en Nederlands aan die ander kant vir lange tyd in die verlede somtyds heftige stryd was, maar ten spyte daarvan is al die verrigtings in verband hiermee sover in volkome eenstemmigheid gewees. Ek wil graag sê dat dit my een van die bewyse is dat al die partye nie alleen op politieke gebied nie, maar ook op taalgebied bewys het dat hulle in staat is om hulle te verhef bo partygevoel en bo verdeeldheid op taalgebied.
Ek dink dat in hierdie verband ook ’n woord van hoe waardering uitgespreek moet word aan die lede van die gesamentlike Gekose Komitee.
’n Ander gesigspunt wat die gebeurtenis vir die Hollandssprekende deel van die land en vir almal soveel groter maak, is die welwillende houding wat die Engelssprekende lede van die Parlement en die Engelssprekendes in die hele land teenoor hierdie saak aangeneem het. Daar is van begin tot end geen poging aangewend van die kant van die Engelssprekende vriende om enige struikelblok hoegenaamd in die weg te lê vir die aanname van die wet nie. Inteendeel, deur die aanwesigheid van hulle vanmôre en by ander sittings vooraf, en deur hul medewerking by die besprekings in beide Huise afsonderlik, het hulle getoon dat hulle belang stel in die saak, en sommige lede van die Senaat het selfs aktief deelgeneem aan die besprekings in die ander Huis.
Die welwillendheid wat getoon is deur die Engelssprekende vriende, word alleen oortref deur een ander daad wat sonder twyfel die hoe waardering wegdra van die Hollandssprekende bevolking van Suid-Afrika, en dit is die publieke erkenning en gebruik van Afrikaans deur Sy Koninklike Hoogheid, die Prins van Wallis, en, ek wil hier byvoeg, die erkenning en publieke gebruik van Afrikaans deur Sy Eksellensie die Goewerneur-generaal en prinses Alice.