FAK-SANGBUNDEL

Die verhaal van die FAK-Sangbundel is verweef met die historiese ontwikkeling van Afrikaanse musiek. Die Sangbundel is die opvolger van Mansvelt se Hollands-Afrikaanse Liederebundel (1907) en die Groot Afrikaanse-Hollandse Liederebundel (1927). In Mansvelt se bundel is slegs 78 liedere opgeneem en in die 1937-bundel 314 Afrikaanse liedere. Dit dui op die ongelooflike groei van Afrikaanse musiek in net tien jaar. In 1961 en 1979 is die Sangbundel weer uitgegee met 400 nuwe Afrikaanse liedere. Ongeveer 90% van die Afrikaanse liedere het egter oorsese wysies gehad of was vertalings van Europese liedere. In 2012 met die 75ste verjaarsdag van die Sangbundel het ’n nuwe FAK-Sangbundel verskyn met 353 splinternuwe Afrikaanse liedere, waarvan 99% van die Afrikaanse liedere oorspronklike wysies en skeppings uit eie bodem is. Dit dui op die lewenskrag van Afrikaanse musiek. Die oudste Afrikaanse liedjies wat vanaf 1907 tot vandag toe nog gesing word, is “Afrikaners landgenote”, “Slaap kindjie slaap”, “Ou tante Koba is so dom”, “Stellenbosch se boys” en “Mamma ek wil ’n man hê”.