
1806-VERDRAGSTERREIN, WOODSTOCK
an die bergkant van die spoorweg, in Springstraat, Woodstock, en ingesluit deur geboue, is ’n klein stukkie grond waarop ’n oorhangende ou melkhoutboom staan. Hierdie terrein en die ou boom staan in noue verband met die tweede besitname van die Kaap deur Brittanje in 1806.
In 1803 het Engeland die Kaapkolonie, na ’n besetting van sewe jaar, aan die Nederlande, wat nou as die Bataafse Republiek bekend gestaan het, teruggegee. As goewerneur is aangestel genl. JW Janssens. Nouliks drie jaar daarna het Engeland weer eens ’n vloot gestuur om die Kaap te beset. Hierdie vloot het teenoor Bloubergstrand anker gegooi en die slag van Blouberg op 8 Januarie 1806 is genl. Janssens se swak garnisoen beslissend verslaan. Met die res van sy leër het hy na die Hottentots-Hollandberge teruggewyk.
Op 10 Januarie 1806 het Kaapstad hom hier in Woodstock, destyds Papendorp, aan die Britse bevelvoerders oorgegee. Die kapitulasievoorwaardes is in ’n strooidakhuis wat langs bogemelde terrein geleë was, onderteken. Daardeur het luit.-kol. Von Prophalov, die bevelvoerder van die plaaslike vestings, die eiendom van die Bataafse regering in Kaapstad aan die Britse bevelvoerders, genl.-maj. sir David Baird en kommodoor Home Popham oorgedra.
Die sogenaamde ou “Traktaathuis” het jare lank bly staan, maar moes omstreeks 1935 vir ’n fabriek plek maak. Intussen het ’n hardnekkige tradisie ontstaan dat die verdrag onder die ou boom geteken is en dit het as “Traktaathoom” bekend geword. Gelukkig het die perseel waarop dit staan en in die onmiddellike nabyheid waarvan die verdrag op 10 Januarie 1806 geteken is, ’n eeu lank onopgeëis gelê. In 1966 het die Stadsraad van Kaapstad dit dus vir ’n geringe som gekoop sodat dit as aandenking aan een van die belangrikste gebeurtenisse in ons geskiedenis bewaar kan word.

Foto: JW George • Traktaathuis c. 1900 • William Fehr-versameling
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 26-27.