’N INDUSTRIËLE REVOLUSIE
Die eerste jare van die nuwe bewind is nie net deur apartheid gekenmerk nie. Opvallender was die industriële revolusie waaraan Afrikaners ’n al hoe groter aandeel sou neem. In ’n kort tyd het stede soos Welkom, Vanderbijlpark en Sasolburg ontstaan.
Welkom was die stad wat in die Vrystaat ontwikkel het ná die ontdekking van gouderts van besonder hoë gehalte in April 1946 op die plaas Geduld in die omgewing van Odendaalsrus. Vanderbijlpark is genoem na die elektrotegniese ingenieur dr. Hendrik van der Bijl van Evkom (tans Eskom) en Yskor. In 1946 is begin met ’n nuwe staatsaanleg op Vanderbijlpark, drie keer so groot en kapitaaleisend as die oorspronklike Yskor. Later het aanlegte in Newcastle en Secunda gevolg. Van der Bijl het onverpoos gewerk om industriële ontwikkeling aan te help. Hy was die eerste voorsitter Van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), wat juis vir dié doel gestig is.
Sasolburg is die dorp wat ontstaan het met die totstandkoming van Sasol – die Suid-Afrikaanse Olie- en Gaskorporasie, wat in 1950 gestig is om olie uit steenkool te vervaardig. Dit het een van die land se belangrikste chemiese bedrywe geword. Rondom hom het ander chemiese bedrywe ontstaan. Binne tien jaar het Sasolburg gegroei tot die derde grootste in die Vrystaat.
Van der Bijl is by die NOK opgevolg deur die ingenieur en ekonoom, HJ van Eck, besturende direkteur van die NOK, wat baie kenners beskou as die vader van die industriële revolusie in SA. Deur middel van die NOK is private maar ook semi-staatsondernemings soos Sasol, Foskor, Alusaf in Richardsbaai, deels ook Safmarine en talle ander gefinansier. Suid-Afrika was teen die einde van die eeu die mees geïndustrialiseerde nasie in Afrika.
Op die Tweede Ekonomiese Volkskongres (van die FAK, RDB, Ekonomiese Instituut en AHI) in 1950 het dr. Anton Rupert gesê dat Suid-Afrika in die voorafgaande kwarteeu waarskynlik vinniger gevorder het as enige ander land ter wêreld, selfs Rusland en Amerika. In ’n kwarteeu het die nywerheidsproduksie van minder as £100 miljoen per jaar tot £700 miljoen per jaar gestyg.
Die Afrikaner het ’n groot agterstand in die ekonomiese lewe, maar is by uitstek nyweraar. Die staats- en semi-staatsnywerhede het hoofsaaklik onder leiding van Afrikaners gestaan en ook in die private nywerheid het Afrikaners sukses behaal, het Rupert gesê.
Die omset van die landboukoöperasies het vinnig toegeneem van £29 miljoen in 1940 tot £121 500 000 in 1950 en £297 miljoen in 1958. Daarna was daar ’n daling. Die ledetal het in 1956 op 260 000 gestaan.
Hoewel Afrikaners veral in die staatsondernemings soos Sasol en Foskor ’n reusebydrae sou lewer, het hulle al voor die bewindsverandering van 1948 in die private sektor begin vorder. Ondanks ’n groot agterstand het die Afrikaner se aandeel aan die sakelewe van 1939 tot 1950 gegroei van vyf tot elf persent. Die aantal Afrikaanse ondernemings het toegeneem van 3710 tot 13 047.
Die land het ook beter paaie gekry. Suid-Afrika was reeds in die jare veertig een van die vernaamste motorlande. Daar was teen 1947 al sowat 400 000 motorvoertuie ondanks die swak paaie. ’n Nuwe maak het in die jare 50 die paaie begin verower: die Volkswagen-kewer. Die treindiens vir goederevervoer en passasiers was nog redelik goed. Ná 1902 is die spoorwegnetwerk oor die hele land uitgebrei sodat ook klein plekkies daarby kon baat vind. In 1925 is met die elektrifisering van die spoorweë begin, die eerste tussen Mooirivier en Glencoe in Natal. In die laat jare dertig het die Rand en Pretoria aan die beurt gekom. In die vroeë jare veertig was die treine met vakansietye stampvol. In die oorlog was petrol een van die handelsware wat gerantsoeneer was. Koerante het foto’s gepubliseer van mense wat straatblokke ver toustaan om reiskaartjies te koop. Die spoorlyn tussen Bloemfontein en Vereeniging is in die 1950’s verdubbel, deels herbou en geëlektrifiseer. So het die halte met die interessante naam Elders van die kaart verdwyn. Talle stasiename prikkel ’n mens se nuuskierigheid. Uys Krige dig: “Daar is ’n haltjie, Dwaal, / / te midde van die vaal / godverlate dor Karoo”. In Mpumalanga is daar ’n halte met die naam Gesukkel. Van die laat jare tagtig af het die spoorweë agteruitgaan nadat beperkings op padvervoer opgehef is.