LUG-, TREIN- EN NATUURRAMPE
Elke land ken rampe. Die padongeluk wat die meeste kinderlewens geëis het, was die Westdene-ramp in Johannesburg op 27 Maart 1985. Die bestuurder van ’n skoolbus met leerlinge van die Hoërskool Vorentoe het beheer oor die voertuig verloor en die bus het deur die versperrings om die Westdene-dam gebars en in die water beland. Leerlinge en onderwysers en kort daarna nooddienste het alles gedoen wat hulle kon, maar 42 leerlinge het verdrink. Selfs geharde polisiemanne en joernaliste het staan en huil by die liggame van die kinders wat onder grys komberse toegooi was, maar van wie die hande en voete uitgesteek het. Twee van hulle was van een gesing (Linda en Reinette du Plooy). Twee seuns (Pieter Koen en Danie Theron) het die Woltemade-toekenning vir dapperheid (silwer) ontvang vir hul reddingswerk. Theron is in 1989 oorlede.
Die grootste lugramp van die 1960’s was op Saterdagaand 28 April 1968. ’n Boeing 707, die Pretoria, van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, het net ná opstyging van die lughawe op Windhoek in Namibië neergestort, en 122 mense, insluitende die bemanning van 12, is gedood. Agt mense is lewend uit die wrak gehaal, maar twee is gou oorlede. Een persoon, ’n Amerikaner, het ongedeerd daarvan afgekom. Dr. JGH van der Wath, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Wolraad, was een van die beseerdes, maar hy is ná ses weke aan sy beserings oorlede.
’n Jaar tevore was daar nog ’n ernstige vliegramp. ’n Viscount van die SAL, die Rietfontein, het op 13 Maart 1967 in slegte weer naby Oos-Londen in die see gestort met 25 mense aan boord. Vergeefse pogings is aangewend om die wrak te vind. Onder die oorledenes was prof. JP van S Bruwer, ’n volkekundige en onderrektor van die pas gestigte Universiteit van Port Elizabeth. Hy was in sy vakgebied een van die mees vooraanstaande in die land.
Die heel grootste SAL-ramp was op 28 November 1987 toe ’n Boeing 747 Combi, die Helderberg, met 159 passasiers en bemanningslede naby die kus van Mauritius in die see gestort het. Die vliegtuig was van Taipei op pad na Johannesburg. Daar was ’n vinnige en intens warme brand in die bagasieruim. Soos ná baie sulke rampe was daar allerlei bespiegelings oor die oorsaak. Een daarvan was dat daar ’n dodelike vrag aan boord van die vliegtuig was, soos ’n onstabiele plofstof wat in opdrag van die wapenvervaardiger Krygkor vervoer is. Regter Cecil Margo, ’n uitmuntende regsman en voormalige vegvlieënier, het bevind dat die ongeluk veroorsaak is deur ’n brand wat in die gewone verpakkingsruimte uitgebreek het.
Suid-Afrika het ook talle treinrampe beleef. Een van die ergste was op 15 November 1949 toe ’n trein op pad van Johannesburg na Lourenço Marques (Maputo) naby Waterval-Boven ontspoor het. Drie waens het twintig meter ver in ’n vol rivier geval, en 63 mense is dood en 106 ernstig beseer.
Om 22:04 die aand van 29 September 1969 het ’n aardbewing van 6,3 op die Richter-skaal Tulbagh, Ceres, Prince Alfred Hamlet en Wolseley getref. Geboue het ineengestort, groot rotse teen die berge het losgeraak en afgerol en die veld teen die berge het aan die brand geraak. Die stukke gloeiende rotse teen die berge het dit vir sommige mense na ’n vulkaniese uitbarsting laat lyk. Thelma Cillié skryf in Die aarde het gebewe: “’n Ontsettende geraas en ’n gerammel, asof die berge oopgewring word, laat ons verskrik na mekaar kyk.” Die skudding is gevoel tot in Kaapstad, Upington en Durban. Op Tulbagh, waar nege mense gedood is, is talle geboue van groot historiese waarde ernstig beskadig. Daaronder was die oudste kerkgebou wat in 1743 in Roodezand gebou is. Die restourasie van dié geboue was een van die grootste projekte van dié aard in Suid-Afrika. Twee argitekte wat daarby betrokke was, Gawie en Gwen Fagan, beskryf dit in die omvattende en ryklik geïllustreerde Kerkstraat in’t Land van Waveren.
Nog ’n restourasieprojek van enorme omvang is genoodsaak deur ’n brand wat op 30 Desember 2018 die sendingdorp Wuppertal verwoes het. Kinders wat wou heuning uithaal, het in ’n tierende wind bye probeer verdryf met ’n brandende tak. Binne minute was die dorp in ligte laaie. Die historiese dorpskern en 53 woonhuise het afgerand, maar die kerk en skool het oorgebly. Die dorp, 67 km van Clanwilliam, is in die 1830’s deur die Rynse Sendinggenootskap gehou. Bewaringsbewustes het dadelik planne vir restourasie beraam en die sakeman Johann Rupert het aangebied om die projek te finansier. Sy vader, Anton, het die koste van die heropbou van Tulbagh help dra.
Een van die ergste vloedrampe in Suid-Afrika se geskiedenis was dié van 25 Januarie 1981 op die Karoodorp Laingsburg. Na ’n wolkbreuk het ’n wal water ’n paar meter hoog alles uit sy pad weggevee. Daarna was 104 mense vermis en 32 se lyke is gevind. Die vloed het 185 huise, die ouetehuis en 23 kantore verwoes. Slegs 21 huise en die NG Kerk het staande gebly. GF Marais se boek Dag van Buffel en Baviaan bevat ’n hele aantal vertellings van mense wat die ramp oorleef het. Die Buffel en Baviaan verwys na die twee riviere waarmee die water afgekom het. Die grond van die gebied is van so ’n aard dat dit nie baie water kan absorbeer nie. Die gevolg was dus dat die water direk met die Baviaansrivier en die Buffelsrivier gekom het. Hulle loop naby die dorp inmekaar.
Een van die helde van die ramp was die NG dominee, ds. Malan Jacobs. Hy was lid van ’n groepie onverskrokke helpers wat hul lewens in gevaar gestel het om 38 mense uit die ouetehuis te probeer kry. Agtien van die inwoners het omgekom. Die dominee het self gesterf. Edward Hart, een van die jong mense, wat gehelp maar wonderbaarlik aan die dood ontkom het, het vertel dat Jacobs tydens die poging ongelooflike krag getoon het. “Dit het my verbaas dat die dominee, op 50 jaar heelwat ouer as ek, veel sterker as ek kon optel. En die rede het eers veel later vir my duidelik geword: die man het iewers vandaan krag gevind …” (WO Kühne, Vloedramp).