
DR. CHRIS BARNARD PLANT EERSTE HART OOR
Suid-Afrika was in Desember 1967 wêreldnuus – en dié keer nie oor ’n negatiewe saak nie. Die eerste geslaagde hartoorplanting ter wêreld is vroeg op 3 Desember 1967 in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad uitgevoer. Dit was ’n merkwaardige prestasie vir die geneeskunde in Suid-Afrika, en veral vir die leier van die hartspan, prof. Christiaan Neethling (Chris) Barnard.
Die hart van ’n 25-jarige vrou, mej. Denise Ann Darvall, is oorgeplant op ’n 53-jarige man, Louis Washkansky, wat agtien dae daarna oorlede is. Washkansky, ’n Jood, het in die Tweede Wêreldoorlog geveg en was besig om te sterf aan progressiewe hartversaking. Darvall, ’n bankklerk van Kaapstad, is die middag van 2 Desember noodlottig beseer in ’n motorongeluk in Kaapstad waarin ook haar ma oorlede is. Toe mej. Darvall by die hospitaal kom, is vasgestel dat haar beserings noodlottig was, maar dat haar hart niks oorgekom het nie. Die aand is die situasie aan haar vader verduidelik. Hy het toestemming gegee dat sy dogter se hart oorgeplant word, asook een van haar niere op ’n elfjarige seun.
Barnard en sy span het hulle jare lank op so ’n operasie voorberei. Die 44-jarige Barnard was een van die land se mees ervare hartspesialiste. Tot Desember 1967 het die span talle delikate opehartoperasies uitgevoer.
Die span het weer op 2 Januarie 1968 ’n hartoorplanting gedoen – dié keer op dr. Philip Blaiberg, ’n afgetrede tandarts van Kaapstad. Hy is op 16 Maart 1968 uit die hospitaal ontslaan en is 17 maande daarna, op 17 Augustus 1969, oorlede weens hartversaking wat veroorsaak is deur longontsteking en nierversaking. Daarna het die span nog verskeie hartoorplantings gedoen.
Die operasie het van dr. Barnard ’n beroemde man gemaak. Hy is op 8 November 1922 op Beaufort-Wes gebore waar sy vader die leraar van die NG Sendingkerk was. Die gesin was betreklik arm, en sy oudste broer, Barney, meganiese ingenieur by die Spoorweë, het aanvanklik sy studiegeld betaal. Hy kon egter met ’n beurs verder studeer en het nadat hy geneesheer geword het, verskeie studiebesoeke aan die buiteland, veral Amerika, gebring. Nadat Barnard beroemd geword het, is hy talle kere vereer en het hy baie reise onderneem. In een dag het hy die bekendste man van Suid-Afrika geword en bekende mense oor die wêreld heen het dit op prys gestel om saam met hom gesien en gefotografeer te word. Op 2 September 2001 is hy op 78-jarige leeftyd aan ’n asma-aanval op Ciprus oorlede. Hy het per ongeluk sy asmapompie in sy hotelkamer gelos toe hy na die swembad is.
Dit was opvallend hoeveel Afrikaanse name daar onder die geneeshere in die eerste hartspan was: dr. Marius Barnard, broer van Chris Barnard, dr. MC Botha en ander. Dit was ’n aanduiding van hoeveel Afrikaners dokter geword het. Drie Afrikaanse universiteite het fakulteite van geneeskunde gehad: Pretoria (waar die eerste studente hul kursus in 1947 voltooi het), Stellenbosch en die UOVS in Bloemfontein.
Voor Barnard was die bekendste Afrikaanse dokter waarskynlik “Dr. Goedhart” – skrywersnaam van dr. Ryno Verster van Bloemfontein. Hy het mense dekades lank raad gegee in ’n onderhoudend geskrewe rubriek in Die Byvoegsel tot Die Burger, Die Volksblad en Die Oosterlig.
Die hartoorplanting was weer ’n aanduiding van Suid-Afrika se tegnologiese ontwikkeling. Die vervaardiging van olie uit steenkool op Sasolburg was ’n ander. ’n Dekade of wat later kon Suid-Afrika selfs kernbomme maak (kyk by 11 Desember.)