’N EKONOMIESE WONDERWERK EN ’N BLOEIENDE KULTUURLEWE

Ekonomies het dit kort ná Sharpeville en republiekwording slegterig gegaan; die land het baie kapitaal en mense verloor. Die regering het maatreëls getref wat vertroue herstel en die ekonomie geprikkel het. Die voorsitter van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, dr. HJ van Eck, het in Maart 1962 gesê dat Suid-Afrika ekonomies vinniger groei as enige ander land s’n. Teen 1965 het Suid-Afrika volgens dr. DG Franzen, visepresident van die Reserwebank, die grootste voorspoedgolf in sy geskiedenis beleef. Die woord “wonderwerk” is dikwels gebruik, ook deur buitelanders. In 1962 het ’n besoekende Amerikaanse professor verklaar dat “the performance of the South African economy was one of the miracles of modern science.” ’n Skouspelagtige teken van die wonderwerk was die aankondiging van die Oranjerivierskema op 23 Maart 1962 deur dr. Verwoerd. Die water sou gaan vir besproeiing, kragopwekking en watervoorsiening aan stede. Die grootste dam, tussen Colesberg en Bethulie, is na Verwoerd genoem (later Gariepdam). Dit is in 1972 geopen. Nog ’n dam is gebou tussen Petrusville en Luckhoff. Die geraamde koste was R450 miljoen, maar dit was honderde miljoene meer.

Hoewel Verwoerd nog altyd teen groot beleggings deur wit mense in die tuislande was, het ’n historikus, CW de Kiewiet, in 1964 verklaar dat Verwoerd die land se ernstige probleme “met durf, vernuf en selfs verbeelding” aangepak het. Dit was geensins absurd om ’n ooreenkoms tussen Verwoerd en Charles de Gaulle, “die streng maar hardkoppige maar diep verbeeldingryke leier van Frankryk” te suggereer nie, het hy geskryf. (Giliomee gaan dieper hierop in Die laaste Afrikaner-leiers.)

Die kultuur het ’n bloeityd beleef. (Kyk ook by 23 November.) Twee nuwe universiteite is geopen: die tweetalige Universiteit van Port Elizabeth in 1965 en die Randse Afrikaanse Universiteit in 1968. Die UPE was met sy gelyke behandeling van Afrikaans en Engels ’n deurbraak vir Afrikaans in die oorwegend Engelse stad. JC Steyn noem in ‘Ons gaan ’n taal maak’ party van die tientalle wetenskaplike werke wat Afrikaans as volwaardige kultuurtaal stempel.

Op die gebied van ligte vermaak het nuwe rolprentmakers hul bes gedoen. Die beste werk was van nuwe kleiner maatskappye soos Man in die donker van Trio Films en Ruiter in die nag van Jan Pohl. Die tegniese gehalte en draaiboeke was beter as in die films waarin Frederik Burgers en Al Debbo (’n Vrystater van Libanese afkoms) die gehore laat skater het. Onder die geslaagdste rolprentmakers was Jamie Uys met Daar doer in die bosveld, Rip van Wyk en Hans en die Rooinek. Later was sy Funny people en The gods must be crazy internasionale treffers. Kavalier Films het gekonsentreer op gesinsvermaak. Baie hoofrolle is gespeel deur die gewilde tenoor Gé Korsten. Party prente, soos Die geheim van Nantes en Katrina, albei van Jans Rautenbach en Emil Nofal, het aspekte van Afrikanernasionalisme bevraagteken. Vanaf die jare sewentig het die skrywer, rolprent- en later ook televisiemaker Jan Scholtz sukses behaal met prente waarin diensplig, verset teen die staat, ongewenste swangerskappe en rebelse leerlinge se houding teenoor onbarmhartige onderwysers aktuele temas was.

’n Nuwe organisasie was die Rapportryers, ’n uitvloeisel van die rapportryers wat in 1949 op vyftien roetes na die Voortrekkermonument is vir die inwyding daarvan. Vroeg in die jare 50 het Hennie Roux, ’n Randse kultuurman, ’n reünie van rapportryers gehou en is ’n rapportryerskorps gestig. Op 12 Augustus 1961 het 35 korpse in Pretoria die Federasie van Rapportryerskorpse gestig. In 1979 was daar 530 korpse met 15 000 lede. Die doel van die organisasie is die beskerming en bevordering van die Afrikaanse kultuur en die Christelike lewensbeskouing en identiteit.

Die Afrikaanse koerante het hoë sirkulasiesyfers gehad. Dit blyk veral uit die prestasie van die Sondagblad Rapport waarvan die eerste uitgawe op 29 November 1970 verskyn het. Dit het in die laaste ses maande van 1973 ’n sirkulasie van 483 433 bereik. Daarmee kon Rapport die Sunday Times (473 827) verbysteek. Volgens Ton Vosloo het Rapport in een stadium 506 009 verkoop – ’n hoogtepunt in Afrikaanse koerantverkope. (Rapport, 29 November 2020). Rapport het ontstaan uit die samesmelting van twee mededingers, Die Beeld van Naspers en Dagbreek en Landstem (vroeër Dagbreek en Sondagnuus) van Perskor. Die eerste nommer van ’n nuwe dagblad, Beeld (uitgegee deur Naspers), het op 16 September 1974 die lig gesien. In dié tyd het Johannesburg drie Afrikaanse dagblaaie (Beeld, Die Transvaler en Die Vaderland) gehad en Pretoria twee (Oggendblad en Hoofstad). Van hulle het slegs Beeld oorgebly. Ook Die Burger van Kaapstad en (Die) Volksblad van Bloemfontein bestaan nog, laasgenoemde egter sedert 10 Augustus 2020 slegs as digitale blad.