EERSTE GROOT SKEURING: HERSTIGTE NASIONALE PARTY

In die jare sewentig is die sportbeleid verder gevoer sodat kleurdiskriminasie kon verdwyn. Die minister van sport, dr. Piet Koornhof, het mense soms met sy vernuftige planne verwar. Grappenderwys het ’n kabinetskollega eendag gesê hy weet nie mooi wat die sportbeleid is nie, want hy het tienuur die oggend laas met Koornhof gepraat!

Sportintegrasie, en meer spesifiek die besluit om Maori’s vir ’n besoekende All Black-span te aanvaar, was intussen ’n belangrike rede vir verdeeldheid in die Nasionale Party. Daar was ook ander redes; Vorster het in 1968 ’n aanval gedoen op sekere “taalhandhawers” en hulle smalend “wagters op Sionsmure” genoem. In die 1969-Parlementsitting is die botsing op die spits gedryf ná ’n toespraak van dr. Albert Hertzog, wat in 1968 as minister van gesondheid afgedank is. In sy toespraak het Hertzog die Afrikaans- en Engelssprekendes teenoor mekaar gestel – die Afrikaners met hul Calvinistiese inslag en die Engelssprekendes met hul tradisionele liberale lewensbeskouing. Aan die hand van die skrywer GH Calpin het hy verduidelik dat die liberalisme deel is van die Engelssprekende se wese. Dit is egter net die mens wat deurdrenk is van die Calvinisme wat staande sal kan bly in die aanslag op die wit mense in Afrika.

Nadat Afrikaanse koerante Hertzog oor die toespraak geroskam het, het die leier van die opposisie, sir De Villiers Graaff, in die Volksraad geëis dat die regering Hertzog moet repudieer. Ben Schoeman, leier van die NP in Transvaal, het die eerste repudiëring in die Volksraad gedoen; die toespraak was ’n “verskriklike belediging” vir die Engelssprekendes, het hy betoog. Daarna het ook premier Vorster Hertzog gerepudieer.

Op die Transvaalse kongres van die NP in September 1969 is die sportbeleid bespreek en het Schoeman gevra dat die name van die afgevaardigdes wat teen regeringsbeleid stem, aangeteken moes word. Elf het daarteen gestem en sewe het buite stemming gebly. Hul name is aan kiesafdelingbesture oorhandig sodat dié teen hulle kon optree. Die besture het daarop Hertzog en Jaap Marais, LV vir Innesdal, uit die party gesit. In Kaapland het die NP die lidmaatskap van ’n ander LV, LF Stofberg, beëindig, en WT Marais, LV vir Wonderboom, het self uit die party bedank.

Hulle was stigterslede van die Herstigte Nasionale Party op 25 Oktober 1969 in die Skilpadsaal in Pretoria. Hertzog was leier. Sport was aanleiding tot die skeuring, maar basies was dit ’n keuse van die Verwoerd-beleid van skeiding bo die geleidelike aanvaarding van integrasie. ’n Verkiesing is in April 1970 gehou om die vier HNP-ondersteuners in die Volksraad uit te skakel. Geen HNP is inderdaad verkies nie, maar die NP het agt setels aan die VP afgestaan.

Dit was die eerste groot politieke skeuring onder Afrikaners sedert die 1940’s. Die “regses” het stadig maar seker steun gewen. In 1982 het ’n tweede groot skeuring plaasgevind tydens die bewind van Vorster se opvolger, PW Botha. Toe is die Konserwatiewe Party (KP) onder leiding van dr. AP Treurnicht gestig. Hierdie skeuring was ’n gevolg van ’n besluit van die regering om ’n sogenaamde Driekamerparlement in te stel – waardeur die Indiërs en bruin mense ook sitting sou kry in die parlement en sou kon deel hê aan die regering. Dié plan het nie gewerk nie omdat swart mense daarvan uitgesluit was en gevolglik onaanvaarbaar ook vir die meeste bruin mense en Indiërs en ook baie wit mense. Tog het dit die proses van staatkundige hervorming aangehelp wat uitgeloop het op die skikking wat in 1994 bereik is. Die politieke skeuring het ook die kultuurorganisasies verdeel en nuwes is gestig. Ná 1994 het die gemeenskap dié verskille grotendeels vergeet.