GEESDRIFTIGE REPUBLIEKFEES EN ONENIGHEID TUSSEN DIE GROTES

Ondanks apartheid was daar baie waarop Afrikaners in 1966 kon trots wees toe republiekwording gevier is. Hulle het hul stempel afgedruk op ’n presterende staat wat in 1975 die 18de grootste ekonomie in die wêreld sou hê en die 15de grootste handelsland was (teenoor onderskeidelik die 28ste en 37ste dertig jaar later).

Op Dinsdag 31 Mei 1966 was daar ’n groot militêre parade en lugvertoning in Pretoria. Daar was goed ’n halfmiljoen mense, “die meeste mense wat nog ooit op een plek in Suid-Afrika byeen was”, het Die Volksblad berig. Teen sewe-uur die oggend was daar al ’n kwartmiljoen. Naby die 20 000 man van die leër, lugmag en vloot het deelgeneem aan die defileermars van byna 4,8 kilometer lank, wat vier uur geduur het. Daar was 189 vliegtuie, 367 oorlogsvoertuie en 36 kanonne in die gemeganiseerde kolonne van 1,92 kilometer, en dan die duisende soldate in die marsjerende kolonne van 2,4 kilometer. ’n Spesiale verteenwoordiger van Die Volksblad het geskryf dis “’n trotse dag vir Suid-Afrika”. Mense het “myle der myle” versprei gesit. Die skatting was sowat ’n halfmiljoen, maar sommige vlieëniers het gereken dit was tot 750 000. Die skare was verstom oor “die talrykheid van ons voetsoldate, die behendigheid van ons vlieëniers en die brute krag van ons krygstuig op wieleIn ’n hoofartikel het Die Volksblad geskryf: “Die reusagtige skare by Monumentkoppie is ’n bewys van die volksgevoel wat in krag toeneem.”

Die ongelukkigste gebeurtenis van die fees was die kritiek deur Verwoerd op Van Wyk Louw se feesdrama Die pluimsaad waai ver. Die stuk handel oor die Anglo-Boereoorlog. Die Vrystaatse president, MT Steyn, speel ’n belangrike rol, maar Louw het ook gesê: “As iemand vra: wie is die held van hierdie stuk, sou ek moet antwoord: die Afrikaanse volk self. Hierdie volk is teen sy sin en sonder vorige ervaring in ’n stryd met ’n wêreldmag gesleep. Hoe hy hom verweer het, wat hy moes leer en afleer, ook die skeuring wat daarbinne hom gekom het – dit is die tema.”

Die drama het baie toneelgangers geroer, maar dr. Verwoerd het bedenkinge gehad. Sy beswaar was dat dit nie histories getrou was nie, omdat van pres. Steyn nie ’n held nie, maar ’n patetiese figuur gemaak is. Hy het die begeerte uitgespreek dat skrywers en digters ook “die heldedade van hul eie geslag sal besing. Hulle moet mense wees wat nie weifelend vra: Wat is ’n volk? nie, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk, só kan hy ook wondere verrig …” Dit verwys na Louw se stuk wat begin met die woorde: “Wat is ’n volk?”

Veral in die Transvaalse koerante is talle briewe geskryf, meestal vir Louw. Onder sy verdedigers was prof. Gerrit Viljoen wat in 1967 rektor van die nuwe Randse Afrikaanse Universiteit sou word, en prof. Frans van Rensburg, eerste professor in Afrikaans en Nederlands aan dié universiteit. Op ’n onthaal ter ere van Louw op sy 60ste verjaarsdag het Louw na Verwoerd verwys. Sy vriende was verras toe hy hulle aanspreek met die woorde “my volk”. “My volk,” het hy begin, en toe, ná ’n kort aarseling, nogmaals: “My volk.” En toe moes hy vir eers ophou: eers ’n paar, toe ’n héle paar, en toe almal, het begin hande klap en aanhou klap. Want met net hierdie twee woorde het Louw sy sê gesê. Die handeklap, só het ’n skrywer later die applous geïnterpreteer, wou vir Louw sê: “Ja, só is die volk, so is ons, en jy is ons digter.” Die applous was ’n beaming van Die pluimsaad waai ver se breë demokratiese definisie van die Afrikaner en ’n dankbare aanvaarding van Louw se lidmaatskap van die volk.

In die proloog laat Louw die verteller sê: “’n groot tyd / toe ons volk gesif is, of gebrei, / of bo die loutervlamme gelaat brand …” Hoe dit in een plaasgemeenskap gebeur het, laat sien PG du Plessis se roman Fees van die ongenooides (2008). “Wat sou ons gewees het as die oorlog nie oor ons gekom het nie, Magriet?”, vra een van die “banges” aan sy vrou, “Ons sou onsself gewees het”, antwoord sy vrou, “ons ongetoetste selwe.” En sy herhaal “Ons onbeproefde selwers …”

Louw het op 13 November 1961 ’n ernstige hartaanval gehad en daarna hartprobleme ondervind. Op 18 Junie 1970 is hy vroeg die oggend oorlede – ’n week ná sy 64ste verjaarsdag. Louw is die enigste Afrikaanse skrywer wie se werk vyf keer met die Hertzogprys bekroon is, die laaste keer vir Tristia (1962). Dit is ’n aanduiding van sy statuur in die Afrikaanse kultuurgemeenskap.