BRITS, NOORDWES

Brits is ’n dorp in die Noordwes-provinsie wat net anderkant Hartbeespoortdam, sowat 50 km wes van Pretoria geleë is.

Die eerste blanke persoon wat in hierdie omgewing gewoon het, was Albertus Venter, wat omtrent in 1840 hier gewoon het. Hy het saam met sy vrou en dogter op die plaas De Kroon in hierdie gebied geboer. Die Fourie-gesin het hulle gou by hom aangesluit en op 13 Junie 1846 is die eerste blanke baba in die omgewing gebore. Philippus Fourie het die plaas op die ou einde by Venter gekoop en die eerste opstal, bekend as Die ou werf, opgerig.

Die spoorwegstasie, bekend as Brits, is op 9 Julie 1906 geopen en inwoners het klein sakeondernemings aan die suidekant daarvan opgerig. Die stasie se naam was afkomstig van Johan Nicolaas Brits wat ’n gedeelte van die plaas Roodekopjes besit het. Hy was voorheen die eienaar van die plaas Bloemfontein wat hy aan kapt. Warden verkoop het. In 1918 is ’n stoomaangedrewe meul wat die gebied dekades lank gedien het, opgerig. Die dorp se pos het op daardie stadium per trein aangekom en dit was die stasiemeester se taak om dit te sorteer. Die eerste poskantoor is in 1915 op die stasie gebou en Haydon Thomas was die eerste posmeester. Die eerste telefoonsentrale is in hierdie gebou geïnstalleer en mej. Thomas was die eerste operatrise. In 1921 is die eerste polisiekantoor, met sers. Prinsloo as bevelvoerder, opgerig.

Rondom die hoofpad aan die suidekant van die stasie, wat later as Tomstraat sou bekendstaan, het ’n klein dorpie begin ontwikkel. As gevolg van ’n gebrek aan ordentlike stadsbeplanning was daar egter geen lopende water nie. Louis Karkovsky, ’n sakeman van die omgewing, het die deel van Hendrik Christiaan Brits se plaas aan die noordekant van die stasie gekoop. Hierdie gedeelte is in 940 erwe verdeel en die dorp is in Oktober 1923 geproklameer. Die gebied aan die suidekant van die stasie het die woongebied vir Indiërs, bekend as Priminda, geword. In 1912 het genl. JBM Hertzog ’n toespraak by die nabygeleë De Wildt gelewer wat tot die stigting van die Nasionale Party gelei het. Die dorp is na die eienaar van die plaas Roode Kopjes, Johan Nicolaas Brits, vernoem.

Brits is geleë in ’n vrugbare gebied waarin sitrusvrugte, groente en graan verbou word en word deur die nabygeleë Hartbeespoortdam van water voorsien. Die gebied is egter ook bekend vir mynboubedrywighede; 94% van Suid-Afrika se platinum is van die Brits- en Rustenburg-distrikte afkomstig. Dit is die gebied waar die meeste platinum ter wêreld geproduseer word. Van 1974 tot 1985 het die Italiaanse motorvervaardiger Alfa Romeo ’n fabriek naby die dorp gehad en Suid-Afrika was die grootste mark vir die Alfa Romeo Giulietta, wat van 1979 tot 1985 hier vervaardig is, buite Italië. Brits is deel van die Madibeng- plaaslike munisipaliteit. Brits word deur die R511 met Sandton verbind en deur die R512 met Randburg. Die R513 en R514 (Sefako Makgato-rylaan wat later Britsweg word en Van der Hoffweg onderskeidelik) verbind Brits met Pretoria. Die N4 Bakwena-tolroete is vroeg in die nuwe millennium gebou.

Daar is ’n paar geboue van geskiedkundige belang in die Brits-omgewing. Die Hermannsburgse sendingkerk is in 1849 gestig en het onder meer in Noordwes sendingwerk onder die Tswana-bevolking gedoen. Die Bethanie-sendingstasie is in 1864 gestig en die stigter daarvan, Wilhelm Behrens, is daar begrawe nadat hy in 1900 oorlede is. Sy seun, Wilhelm Behrens (junior), het sedert 1881 saam met sy pa gewerk en hom opgevolg. In 1910 het die gemeente geskeur toe Wilhelm (junior) die Hermannsburgse sendingkerk saam met ’n groot gedeelte van sy lidmate verlaat het. Die gemeente is in 1928 na bemiddeling uit Duitsland herenig en uit dankbaarheid het Wilhelm (junior) ’n stuk grond in Brits met ’n kapel daarop, wat die sendingkerk geword het, aan die sendinggenootskap geskenk. Die kerk staan vandag nog, maar is verwaarloos en in gevaar.

Die Skurweberg-plaasskool is op 11 Mei 1894 in een vertrek van die huis van Francois Alwyn (Klein oompie) Smit gestig. Die huis dateer uit die tyd toe die Voortrekkers hulle in hierdie omgewing gevestig het. Sy bakoond was egter nie losstaande soos wat destyds die gebruik was nie, maar vas aan die kombuismuur met sy opening na binne sodat die huisvrou in reënweer kon bak sonder om nat te word. Die plankvloere en leiklipstoep kon destyds as luukshede beskou word, maar die klip- en kleimure wat 350 mm dik was, was normaal. Oompie Smit was baie lief vir kinders en het hy het vir hulle ’n dammetjie op die werf gebou waarin hulle kon speel en hul skryfleie kon afspoel. Die aanvanklike hoof, mnr. Homfield, is eindelik afgedank omdat hy net Nederlands gepraat het en nie Afrikaans wou leer nie. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is die skool gesluit maar die Britte het nie die huis afgebrand nie. Volgens oorlewering is dit as wapenopslagplek en kanonskuiling gebruik. Daar is blykbaar kanonlope deur die mure gebreek en die plankvloer van een van die vertrekke is verwyder en verbrand. Na die Anglo-Boereoorlog is daar besluit om nie weer in die huis skool te hou nie. Die huis staan egter nog , hoewel daar deur die jare baie aan die agterkant aangebou is.

Daar is verskeie laerskole op die dorp, onder meer Laerskool Brits, Laerskool De Kroon en Laerskool Olienpark, asook twee hoërskole. Hoërskool Wagpos bied akademiese-, landbou- en tegniese onderrig terwyl Hoërskool Brits ’n suiwer akademiese hoërskool is. Die broer en suster Bobby en Karlien van Jaarsveld, wat albei bekendheid as sangers verwerf het, het aan laasgenoemde hoërskool gematrikuleer.

Nog interessante geskiedkundige plekke in en om Brits:

De Kroon-familiebegraafplaas

GPS-Koördinate: -25.663305, 27.796417

Ras Voortrekkerbegraafplaas

GPS-Koördinate: -25 40.849 27 54.834

Transvaalse Burgeroorlog-monument

GPS-Koördinate: -25.674231, 27.850346

Kanaal/leivore

GPS-Koördinate: -25.6315802, 27.7784589

Gereformeerde Kerk Brits se ou gebou op hul gronde

GPS-Koördinate: -25.628423, 27.785679

Heldeakker – Langberg-begraafplaas

GPS-Koördinate: -25 35.402, 27 44.472

Hoërskool Brits

GPS-Koördinate: -25.626470, 27.785509

Wagpos Landbouskool

GPS-Koördinate: -25.585180, 27.772146

Lesedi Kultuursentrum

GPS-Koördinate: -25.837688, 27.882934