DIE OSSEWABRANDWAG

Die Ossewabrandwag (OB) is as kultuurorganisasie (met ’n mans-, vroue- en jeugafdeling) in 1939 gestig, ’n jaar na die Simboliese Ossewatrek, ook genoem die 100-jarige viering van die Groot Trek. Dit was nie net ’n feesviering nie, maar ’n herlewing van nasionalisme en patriotisme. Dit is in die tyd waar baie ossewaens aan die simboliese trek deelgeneem het en as ’n simbool van volksvryheid en onafhanklikheid gesien is. Daar word grootliks vergeet dat die OB in die vroeë 1940’s, op die hoogtepunt van sy gewildheid, nog nie ’n gelyke in die Afrikanergeskiedenis gehad het nie. Met meer as 300 000 lede was die beweging die grootste van sy soort in die geskiedenis van die Afrikaner.

Die wapen van die Ossewabrandwag

Vandag nog ontlok die blote noem van die naam OB uiteenlopende menings. Daar is heelwat wanpersepsies oor die beweging wat meestal uit onkunde of vooroordeel spruit. Die OB is met die Europese fascistiese bewegings van die 1930’s en 1940’s vergelyk en van Nazisme beskuldig. Dit is ook al beskryf as ’n ondergrondse terreurbeweging. Selfs die wortels van apartheid is in die beweging gesoek.

Hoewel die beweging ’n eiesoortige Nasionaal-sosialisme aangehang het, was die hoofdryfveer altyd Afrikanernasionalisme en die vestiging van ’n republiek – wat as geregverdigde strewes in die stryd teen Britse oorheersing beskou is. In die nadraai van die lyding en smart van die Anglo-Boereoorlog, asook die ontnugtering van die Rebellie, was die OB die Duitsers goedgesind en die Britte vyandiggesind gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die grondslag daarvan was eerder ’n anti-Britse as dié van ’n pro-Nazi-gesindheid. Die OB onder sy charismatiese leier Hans van Rensburg is geleidelik verpolitiseer tydens die ontstuimige oorlogsjare toe daar ’n genadelose stryd om beheer van die Afrikanersiel was.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Afrikaners self meer verdeeld en hul onderlinge bitterheid was groter as ooit. Die OB was vasgevang in daardie interne konflik en moes die stryd boonop op twee fronte voer – aan die een kant teen die destydse Nasionale Party (NP) en aan die ander kant teen die Smuts-regering, wat besluit het om Brittanje se oorlogspoging aktief te steun. Op die lange duur sou die OB met sy soms volksvreemde ideologiese beginsels nie al die aanslae kon deurstaan nie.

In September 1940 is daar vir al die OB-komitees in Transvaal opdrag gegee om ’n spesiale afdeling (die Stormjaers), wat as aparte eenheid binne die OB sal funksioneer, te stig. Die stig van die Stormjaers, ’n kleiner aktivistiese groep, moet gesien word in die lig van die genoemde konfrontasies met lojaalgesindes en die regering se onderdrukkingsmaatreëls. Die Stormjaers het hulle tot sabotasie gewend, terwyl die meeste lede van die OB teen enige vorm van geweld gekant was. Hoewel die Stormjaers onafhanklik gefunksioneer het, word hul dade van sabotasie dikwels verkeerdelik aan die OB toegeskryf.

Op sy beurt het die Smuts-regering duisende Afrikaners wat van ondermynende optrede verdink is (soms ongegrond), in die land in interneringskampe op verskeie plekke aangehou. Honderde is sonder verhoor in die tronk aangehou.

Die OB se skouspelagtige opgang en indrukwekkende oplewing in sy beginjare staan in skrille kontras met sy roemlose einde aan die begin van die 1950’s. Sy nalatenskap om ’n nasionalistiese en republikeinse geesdrif onder Afrikaners te help skep, was egter aansienlik.

Vir agtergrond

Dit is belangrik om die Groot Trek, twee Vryheidsoorloë en die 1914-Rebellie in gedagte te hou vir konteks wanneer daar na die redes vir die OB se optredes van 1942 tot 1945 gekyk word. Die Britse besetting van die Kaapkolonie vroeg in die 19de eeu het groot verset tot gevolg gehad en die Voortrekkers begin met die Groot Trek. Voortrekkers wou onder Britse oorheersing uit en het op soek na vryheid met hulle waens uit die kolonie getrek. 40 jaar later met die Eerste Vryheidsoorlog het hierdie selfde vryheidsdrang hulle gelei na die oorwinning by Amajuba teen die roemryke Brittanje. Dan, na drie jaar se bittere stryd verloor hulle die Tweede Vryheidsoorlog. Steeds is dit nie die einde nie, Jopie Fourie word in 1914 tereggestel nadat hy aan die Rebellie deelgeneem het in verset teen die unie en Brittanje se betrokkenheid in die oorlog in Europa. Dan maak die Afrikaner kennis met die kapitalistiese stelsel wat glad nie voorspoedig was nie, die Afrikaner het verstedelik, verarm en uiteindelik moes hulle ook hul vryheid inboet.

Die stormagtige dertigerjare is hoofsaaklik deur Europa aangedryf. Die Duitsers was besig om te herstel na die vernedering van die Eerste Wêreldoorlog. Nasionaal-sosialiste het op baie (amper alle) gebiede gesag afgedwing en soortgelyke stelsels is in Italië, Spanje en Portugal geïmplementeer. In Suid-Afrika is ’n gemeenskaplike vyand in Brittanje gesien en is die Duitse voorbeeld onbewustelik bewonder. Dan is daar by 1936 se Olimpiese Spele Suid-Afrikaners wat onder die invloed van Duitsland se Nasionaal-sosialistiese stelsel kom. Verskeie besoeke aan Duitsland lei daartoe dat volksnasionalisme ook in Suid-Afrika aangewakker en bevorder word.

Die vryheidsvlam het weer sterk in die harte van ons volksgenote gebrand en op 6 Februarie 1939 word die OB gestig wat ten doel het om alle Afrikaners weer bymekaar te bring.

Die steeds verlore Boererepublieke het die strewe na vryheid aangewakker en die gedagte om aan Brittanje se kant te stry in die oorlog was eenvoudig nie ’n opsie nie. Die republiek moes herstel word. Soos die verset van Afrikaners teen Brittanje in die 1914-Rebellie het die OB ook as ’n versetbeweging teen Brittanje gedurende die Tweede Wêreldoorlog opgetree. Hulle wou nie hulle steun aan Brittanje, wat die Boererepublieke en die Afrikaner van sy vryheid ontneem het, gee nie.

Ossewabrandwag-leiers

Kolonel JC Laas was die eerste leier van die OB en is deur dr. Johannes Frederik Janse (Hans) van Rensburg (*24 September 1898; ᵻ 25 September 1966) opgevolg. Dr. Hans van Rensburg het in Winburg grootgeword. Sy vader, Johannes Frederick Janse van Rensburg, het tydens die Anglo-Boereoorlog teen die Britte geveg en het Van Rensburg onder sy vader se invloed in ’n anti-Britse huis grootgeword. Hy is in 1925 met Catharina Johanna Joubert getroud en ’n seun en dogter is uit die huwelik gebore.

Hans van Rensburg, tweede leier van die Ossewabrandwag

Van Rensburg het sy MA-graad in Duits by die Universiteit van Stellenbosch behaal, waar hy ’n liefde vir Duitse letterkunde en militêre deugde ontwikkel het. Daarna het hy homself as regsgeleerde in Pretoria bekwaam en in 1930 sy doktorsgraad in regte by die Universiteit van Stellenbosch behaal. Hy het vinnig in die regering, sowel as in die militêr, opgang gemaak. Op die ouderdom van 38 is hy as administrateur van die Vrystaat aangestel en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog (1939) het hy die rang van kolonel van die Vrystaatse sesde brigade beklee. In 1940 bedank hy as administrateur weens sy sienswyse oor die belange van die Afrikanervolk, wat teenstrydig was met dié van eerste minister Jan Smuts.

Op 15 Januarie 1941 volg hy vir kolonel JC Laas as leier van die OB op. Onder sy leiding het die OB van ’n kultuurorganisasie na ’n politieke- en militêre beweging verander. Daar word beweer dat in die stormagtige tye van 1941 Van Rensburg se dissipline, wat hy in die OB gehandhaaf het, erge geweld in Suid-Afrika verhoed het. Hy het voorkom dat soldate-onluste in Johannesburg in Februarie 1941 hand uitruk, dat die verbod op staatsamptenare om aan die OB te behoort tot radikale optrede lei, en dat Robey Leibbrandt ’n houvas op die militante vleuel van die OB kry.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die OB hul relevansie begin verloor. Van Rensburg het tot 1952 as leier aangebly, waarna die organisasie ontbind is. Daarna het hy in verskeie raadgewende regeringsliggame gedien. In 1962 het hy homself op sy plaas in die Parys-distrik gevestig.

Die vroue in die stryd

Die vroue het ’n baie groot rol in die OB as kultuurorganisasie en later ook as versetbeweging gespeel. In tye van nasionale nood is dit die vrou wat baie moes opoffer, sy het deur die lyding en ontberings sterk geword, sy het deur haar voorbeeld ander besiel om ook die toekomstige geslagte daaruit te laat krag put. Tydens die OB het die vroue parallelle vrouekommando’s met hulle eie offisiershoofde gehad, hulle drag was Voortrekkerdrag (in wit) en dit het die seremoniële drag van die vroukommando’s geword. Hierdie vrouekommando’s het gesorg vir fondsinsamelings en het die grootste finansiële bydraes gemaak vir die OB. Een van die grootste en bekendste anti-oorlog protesaksies om die regering te oortuig om van die oorlog te onttrek, het op Saterdag 22 Junie 1940 plaasgevind, onder die leiding van hoofsaaklik OB-vroue waarvan Anna Neethling-Pohl die dryfkrag vir die optog was. 10 000 Vroue, in Voortrekkerdrag, het deur die strate van Pretoria, vanaf Kerkplein tot die Uniegebou, gemarsjeer om ’n versoekskrif om neutraliteit by die Uniegebou te gaan afgee.

Daarna het die vrouevredesbeweging ’n petisie van 150 000 handtekeninge aan die parlement aangebied. Die protesnota het die parlement gevra vir onmiddellike sluiting van ’n eerbare vrede en die beëindiging van die viktimisasie en vervolging van volksgetroue Afrikaners.

OB-vroue het baie ontberings deurgegaan. Indien jy verdink is van optredes wat tot arres of internering kan lei, is jy ondervra en jou huis is deursoek, vroue is blootgestel aan die grootste vernederings en bullebakkery. Die bekendste geval was dié van Elsa Nel. Sy is verdink daarvan dat sy weet waar die skuilplek van twee ontsnapte geïnterneerdes is. Sy is ondervra en wou nie praat nie. Na sy by verskeie geleenthede geweier het om te praat, het die magistraat haar tronk toe gestuur; by haar laaste verhoor was die saal gevul gewees met Afrikanervroue. Afrikanervroue het by haar sel gewaak, godsdiens gehou, gesing tot die dag (16 Desember) wat sy weer vrygelaat is en die Geloftevieringe bygewoon het.

Elsa Nel na haar vrylating uit die tronk

Koffiefontein-interneringskamp

Stormjaers, lede van die OB, is sonder aanklag en sonder verhoor gevange geneem. Hulle is in die gevangenis geplaas en dan na interneringskampe oorgeplaas. Geïnterneerdes is na Leeukop, Ganspan en Koffiefontein gestuur waar hulle vir die tydperk van die oorlog in aanhouding was. In hierdie kampe was daar mans van regoor die land en van alle beroepe. Weens die onderwysers, professors en lektore is daar ’n kampskool begin om die mans se wagtydperk meer draaglik te maak, om tyd produktief te gebruik en om die geleentheid van verskeie kenners op spesialisareas wat van regoor die land in die kampe saamgebring is, te benut. In hierdie kampskool is daar tale, snelskrif, boekhou, biologie, plantkunde, sielkunde en nog vele meer gedoseer. Handwerk was gewild onder die geïnterneerdes en hulle het baie geskenke vir hul geliefdes gemaak. Daar is heelwat houtvoorwerpe in die kampe vervaardig. In Koffiefontein was die gewildste voorwerpe om te maak kissies, skinkborde, servetringe en papiermesse. Die kampinwoners het gou uitgewerk hoe om ’n draaibank vir hulle houtwerk te maak en ’n groter verskeidenheid artikels kon toe vervaardig en beter afgerond word. Skaakstelle is toe gemaak, en op dié manier het daar ook ’n lewendige belangstelling in skaakspeel ontwikkel. Die eienaar van ’n raaibank het ook ‘’n florerende besigheid gehad. As iemand ’n voorwerp wou draai, moes hulle self die hout voorsien en ook die slinger draai. Na die tyd moes hul ook vir die diens in kampgeld betaal. Kreatiewe sigarethouers is ook ontwerp, nl. sigaretkokers/kissies in die vorm van ’n staandakhuisie. Die huisie skuif op en af teen ’n middelpaneel met ’n gleuf bo-aan waarin die sigarette val of rol. Een so houer is in Koffiefontein-interneringskamp deur PL Vermaak vervaardig.

Leerwerk is ook in die kampe gedoen, maar omdat goeie leer skaars was, was dit nie ’n gewilde tydverdryf nie. Sommige het van hul skoene items soos gordels, handsakke en sandale gemaak (’n aktiwiteit wat hulle in die moeilikheid by die kampowerhede gekry het). In die uitstalling kan leersandale, beursies en sakkies gesien word.

Metaalwerk was eintlik verbode, maar onder die leiding en instruksie van dr. JC Vogel is heelwat tog gedoen. Materiaal was skaars, maar ’n ou mynashoop was ’n bron van koperdraad, stukke booryster en ou vyle. Sommige van die voorwerpe is ook uit kanondoppe vervaardig. Wanneer iemand daarin kon slaag om muntstukke in die kampe in te smokkel, is juwele en lapelwapens daarvan vervaardig. Ook eetware, soos vurke, het die metaal vir menige klein kunswerkies verskaf. Metaalvoorwerpe op uitstalling sluit onder andere in asbakkies, bekers, lapelwapens en juwele.

In die OB-uitstalling word olieverfskilderye van sommige van die geïnterneerdes uitgestal. Dit is geskilder deur dr. BM Kranz, ’n mediese dokter, wat tydens sy gevangenskap in Koffiefontein graag portrette van sy medegevangenes geskilder het. Daar is ook ’n groot skildery van Koffiefontein-interneringskamp wat deur ’n mnr. JFK Lee geskilder is. Verf was moeilik bekombaar en kon net soms van die kampkantien gekoop word.

Die geïnterneerdes het ook sport in die kampe beoefen. Dit was ’n goeie uitlaatklep vir die frustrasies van die ingehokte kampbewoners. Tennis, handbal, sokker en netbal is gespeel. In Leeukop-interneringskamp het die manne hul eie rugbyveld uitgelê, maar in Koffiefontein was daar egter nie genoeg spasie nie, en het hulle eerder sokker gespeel. Daar was ook ’n georganiseerde liggaamsoefeningklas. In die OB-uitstalling is ’n rugbybal van die 1941-Ganspan-Rugbyklub te sien. Die bal is deur die spelers onderteken en aan die kampleier geskenk.

Musiek is in die kampe beoefen en musiekinstrumente vervaardig. Daar is ’n groot aantal viole in die kampe gemaak, self deur diegene wat niks van musiek af geweet het nie.

Intussen het die OB ’n fonds gestig vir die vroue en kinders wie se mans in die kampe was, verskeie fondsinsamelings soos konserte en opvoerings is gehou. Later het die Stormjaers, soos oorlewing moeiliker geword het, die fondsinsamelings aangevul deur ’n reeks rooftogte op banke en betaalmotors. Die beweging is versterk deur ontsnaptes uit die kampe wat vervoer en versteek moes word.

Die OB was in 1943 nog sterk genoeg om die NP se bewind tee te werk, maar daar is aktief daaraan gewerk om die OB se bestaansreg te onderdruk. In 1948 het die NP onder leiding van dr. DF Malan toe wel aan bewind gekom. In 1952 ontbind die OB as volksorganisasie.

Bronne

Agter tralies en doringdraad. Uitg. B.O.P.G

Erfenisstigting: Hans van Rensburg

Erfenisstigting: OB-museum-inligtingstuk

Erfenisstigting: Vroue in die Ossewabrandwag

Ossewa Brandwag Deel 1 https://youtu.be/tgNIaiBBrfQ?si=1eNG-qvg2cfX8XWq

Ossewa Brandwag Deel 2 https://youtu.be/KbGhPm3xxSo?si=rJc5twThcP1oInCp

Ossewa Brandwag Deel 3 https://youtu.be/kzpn_H2bMJI?si=F0lVfk35olsJj7lD

“Goddank dis hoogverraad en nie laagverraad nie!”: Die rol van vroue in die Ossewa-Brandwag se verset teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog