Resensie: Jopie Fourie – ’n besinning

Outeur: Albert Blake
Uitgewer: Protea Boekhuis
Resensie deur: Etienne Hansen, geskiedenisnavorser by die FAK en Erfenisstigting
Die naam Jopie Fourie wek vandag nog, na 110 jaar, steeds soveel uiteenlopende menings as tydens sy opspraakwekkende hofsaak en teregstelling in 1914. Jopie Fourie – ’n besinning is ’n reis wat hierdie rebelleleier se verhaal in die konteks van sy tyd plaas. Wat dryf ’n man soos Jopie, ’n onbekende in die openbare lewe, om die wapen teen sy eie regering op te neem? Hoe gebeur dit dat so ’n man ’n byna mitologiese heldestatus verwerf, maar tegelykertyd as sondebok uitgekryt word. Om hierdie vrae te beantwoord, het Blake deeglike navorsing gedoen oor Fourie se grootwordjare, die invloed wat rolspelers op hom gehad het en die uitwerking van die verwoestende Anglo-Boereoorlog.
Blake skroom nie om die foute wat begaan is, uit te wys nie. Soos in sy ander werke slaag hy daarin om ’n objektiewe blik te gee oor een van die mees kontroversiële figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat vir die dekades wat sou volg die politieke landskap sou beïnvloed. Blake se kritiese ontleding van bronne en ander publikasies oor Fourie spreek van groot waarde.
Jopie Fourie – ’n besinning is van hoë akademiese gehalte, maar tog ’n meesleurende boek wat maklik lees. Die boek kan aanbeveel word aan enige iemand wat belangstel in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en Afrikanerpolitiek.
Alhoewel dit nie ’n emosie belaaide boek is nie, sal niemand onaangeraak wees met die lees van Jopie Fourie – ’n besinning nie.
Lees ook gerus: https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/jopie-fourie-martelaar-of-volksverraaier/
