AFRIKAANS 100 – 1925 tot 1944

Hierdie artikel is die eerste van vyf wat ’n oorsig gee van belangrike gebeure in die ontwikkeling van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis. Enkele hoogtepunte tussen 1925 en 1944 is die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans en die eerste uitgawe van die FAK-sangbundel verskyn.

1925: Afrikaans word as ampstaal erken

D.F. Malan

Die Taalbewegings wat vooraf plaasgevind het in 1875 en 1905 is die rede tot die erkenning van Afrikaans as amptelike taal. Van 1917 af word Afrikaans al meer gebruik as onderrigtaal in skole en vanaf 1925 is Afrikaans feitelik in alle skole ’n voertaal vir leerlinge. Die Vrystaat en Transvaal keur Afrikaans in 1916 as kanseltaal in die kerk goed en vanaf 1924 (nog voor Afrikaans amptelik erken is) is Afrikaans as die enigste voertaal in die driesusterskerke gebruik. Afrikaans groei ook op tersiêre akademiese vlak en in 1918 keur die parlement die wysiging van die wet wat stel dat Engels en Nederlands as amptelike tale vir die land gebruik word goed en vervang ook Afrikaans saam met die ander twee tale, maar steeds met sekere beperkings. Onder die minister van binnelandse sake, D.F. Malan word Afrikaans op 8 Mei 1925 ten volle, saam met Engels, as amptelike landstaal erken. Van hier het Afrikaans net van krag tot krag gegaan aangesien die Afrikaanse Bybelvertaling vanuit die grondteks in 1933 verskyn en die Psalms in 1937.

Lees ook gerus: https://afrikanergeskiedenis.co.za/27-september-afrikaans-word-n-amptelike-taal/

1926: Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

Prof. J.J. Smith

In 1926 word ’n besluit geneem dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) met staatsteun opgestel sou word. Van 1926 tot 1943 was JJ Smith die redakteur van die woordeboek en hier het hy reusewerk verrig. Sedert 1930 is die Universiteit van Stellenbosch verantwoordelik vir die samestelling en verwerking van hierdie mees gesaghebbende woordeboek in Afrikaans. Sestien dele wat alfabeties van A tot Szondi strek, is gepubliseer, met die mees onlangse deel in 2021. Sedert 2003 is die WAT ook elektronies beskikbaar en word gedurig bygewerk soos ’n nuwe letter van die alfabet voltooi word. Twee letters (T en U) is onderskeidelik in 2023 en 2024 slegs aanlyn gepubliseer. Sodoende kan Afrikaanse gebruikers regoor die wêreld toegang kry tot veranderings en vernuwings. Die WAT het ongeveer 210 000 trefwoorde en uitdrukkings.

In sy argief het hy oor die 4 miljoen kaartjies versamel, wat sedert 1926 deur lede van die algemene publiek ingestuur is, met die 1960’s en 1970’s as hoogtepunt. Hierdie kaartjies bevat elk ’n enkele woord met ’n enkele betekenis, en gaan gepaard met ’n voorbeeldsin. Verskeie woorde het meer as een kaartjie – elke kaartjie verteenwoordig dus nie ’n lemma nie.

Dit vergelyk soos volg met ander woordeboeke: Die Woordeboek der Nederlandsche Taal (WNT) het amper 150 jaar geneem om te voltooi, die Oxford English Dictionary (OED) 70 jaar, en die Deutches Wörterbuch (DWB) meer as 120 jaar. Die eerste volledige uitgawes van die WNT, OED en DWB het onderskeidelik 430 000, 301 000 en 330 000 lemmas (hoofwoorde/inskrywings) gehad.

Die eerste speurverhaal in Afrikaans

1926: Die eerste speurverhaal in Afrikaans

CJ Langenhoven staan bekend as die man wat die gemeenskap leer lees het, in Afrikaans. Hy het in 1926 die eerste Afrikaanse speurverhaal, Donker spore, geskryf. Langenhoven vestig met hierdie verhaal ’n nuwe genre in Afrikaans. Met hierdie en ander hoogs amusante en skerp satiriese stories soos Sonde met die bure, Herrie die ou tremspoor, Loeloeraai, Mof en sy mense, Brolloks en Bittergal en sy spookverhale het Langenhoven dit reggekry om mense aan die lees te kry in Afrikaans.

1927: Afrikaans groei, brei uit en ontwikkel

Nadat Afrikaans as amptelike taal erken is, kon die taal byna ’n sinoniem vir nasionalisme wees en Afrikaans word as kultuurtaal van die Afrikaner, in die plek van Nederlands, beskou (Maroela Media, 2015). Afrikaans was genoop om baie vinnig uit te brei op baie verskillende gebiede sodat die taal op elke gebied sy skoene kon volstaan. Wanneer Afrikaans dan tot amptelike taal erken is, het ontwikkeling van die taal ook vinniger en op groot skaal plaasgevind aangesien die regering nou kon subsidieer en help om die taal uit te brei. Afrikaans word ook nou bestempel as ’n Afrikataal as gevolg van die geografiese ligging; dit dra die naam van die vasteland Afrika en daar is baie leenwoorde van Afrikatale in Afrikaans. Afrikaans het ’n belangrike taal geword in Suid-Afrika waar 77.4% van die bruin bevolking en 61.2% van die wit bevolking Afrikaans as hulle moedertaal gebruik (Kraal Uitgewers, 2020). Afrikaans gee ’n gemeenskapsidentiteit en ’n gevoel van tuiskoms aan mense (Maroela Media, 2015).

1928: Carnegie-ondersoek: eerste maatskaplike navorsing in Afrikaans

Die Carnegie-verslag in 1928 was die eerste maatskaplik-wetenskaplike navorsing in Afrikaans. Dit was die eerste internasionaal-befondsde navorsing vir ’n Afrikaanse behoefte. Die verslag het uit vyf afdelings bestaan:

  • Ekonomiese verslag deur JFW Grosskopf
  • Psigologiese verslag deur RW Wilcocks
  • Onderwysverslag deur EG Malherbe
  • Mediese verslag deur WA Murray
  • Sosiologiese verslag deur JR Albertyn en ME Rothmann (die skrywer MER)

Voortvloeiend uit die Carnegie-verslag is op 2 tot 5 Oktober 1934 ’n volkskongres te Kimberley gehou waar die armblankevraagstuk bespreek is. ’n Departement van volkswelsyn is deur die regering ingestel na aanleiding van die kongres. Vir die eerste keer het ’n Suid-Afrikaanse regering maatskaplike verantwoordelikheid aanvaar.

Volkskongres

1929: Stigting van die FAK

Die rede vir die stigting van die FAK kan teruggevoer word tot 1925 toe Afrikaans naas Engels as amptelike taal deur die Hertzog-regering erken is. Hierdie erkenning het deels bygedra tot ’n nuwe bewuswording onder die Afrikaanssprekendes van sy taal en eiesoortige kultuur. Ná 1925 was daar ook ’n sterk en groeiende behoefte om die kulturele erfenis van die Afrikaner sterker teen die indringing van die Engelse taal en kultuur op alle terreine van die samelewing te beskerm. Op 24 Augustus 1929 word daar onder die beskerming van die SA Akademie vir Taal, Lettere en Kuns eenparig besluit om ’n Uniale konferensie op te roep onder die naam:

“Afrikaanse Taal- en Kultuurkonferensie, met die doel om simpatieke verenigings en persone saam te bring vir die uitwerk van ’n gesamentlike program vir die handhawing van ons taal op alle gebiede en vir die positiewe ontwikkeling van ons kultuur, met die oog op die uitvoering daarvan deur middel van ’n sentrale verteenwoordigende bestuur en/of gekonsolideerde provinsiale taal- en kultuurorganisasies.”

Hierdie voorgestelde kongres is op 18 en 19 Desember 1929 in Bloemfontein gehou en deur bykans 300 afgevaardigdes van verskillende kultuurorganisasies oor die hele land bygewoon. Daar is besluit om kragte saam te snoer, en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge het hieruit voortgespruit.

Sedert sy ontstaan het die FAK sinoniem met die Afrikaanse volkshuishouding geword. Die aktiwiteite en terreine waarop die FAK hom begeef het, was so uiteenlopend dat daar in 1979, vyftig jaar ná sy stigting, feitlik geen vertakking van die volkskultuur was waaraan die FAK nie deel gehad het nie.

Die eerste uitvoerende komitee (hoofbestuur) van die FAK. Van links na regs: Mev. Mabel Jansen, mnr. Ivan Lombard (sekretaris), dr. N.J. van der Merwe (voorsitter), mnr. L.J. Erasmus, prof. T.J. Hugo en prof. E.C. Pienaar

In sy vyftigste bestaansjaar was daar meer as 4000 geaffilieerde liggame en meer as 20 000 mense as lewenslange lede of donateurlede by die FAK ingeskakel. Die bydrae wat die FAK tot die beskerming en handhawing van die eiesoortige Afrikaneridentiteit gelewer het, het dr. DF Malan tereg geskets toe hy in 1954 by die FAK se silwerjubileum gesê het: “As die volledige geskiedenis van die opkoms van die Afrikaanse taal en kultuur eenmaal geskrywe word, sal die FAK daarin een van die hoogste ereplekke verkry.”

1930: Die eerste tweetalige Afrikaans-Engelse woordeboek verskyn

In 1925 stel dr. DF Malan ’n komitee saam wat Wet nommer 8 artikel 37 van 1909 terugwerkend maak en verklaar dat Afrikaans ingesluit word. Wette het eers in Nederlands gebly totdat die staat in 1955 besluit het om alle wette na Afrikaans te vertaal. Die eerste Engels-Afrikaans woordeboek verskyn in 1930 en die staat se vertalers het baie gedoen om Afrikaans as vaktaal te vestig. Afrikaans is die derde jongste Germaanse taal, Faroeës is in 1948 as amptelike taal erken en Luxemburgs het eers in 1984 amptelike status bereik. Vandag is daar 10.6% van die Suid-Afrikaanse bevolking wat Afrikaans as hulle moedertaal aandui.

1930: Terminologie vir nisareas in Afrikaans

Die FAK het van sy stigting af voortdurend by die Afrikaner aangedring op die suiwer gebruik van Afrikaans, maar het besef dat van baie Engelse woorde, die Afrikaanse ekwivalent nie bekend is nie.

Die noodsaaklikheid van woordelyste is besef en daar is aan die werk gespring om woordelyste, wat geen wetenskaplike vakwoordeboeke moes wees nie, saam te stel. Op 20 November 1930 is aangekondig dat die eerste woordelys in die Handhaaf-en-Bou-reeks, soos dit bekend gestaan het, beskikbaar is. Dit was die Woordelys van Motorterme.

1931: Rolprent en langspeeltreffers

Afrikaans het in 1931 sy eerste klankrolprent gekry; Moedertjie, ’n 32-minuut lange verwerking van JFW Grosskopf se eenbedryf In die wagkamer. Die vervaardiger was African Film Productions (AFP), waarvan IW Schlesinger die oprigter was. Joseph Albrecht was die regisseur, maar omdat hy nie veel Afrikaans verstaan het nie, is Stephanie Faure se hulp ingeroep. Sy het die draaiboek van Grosskopf in Engels vertaal, en die wysigings daaraan terugvertaal in Afrikaans. Die Akademie het die historiese belang van die produksie besef, en in 1931 sy eerste erepenning vir rolprentkuns toegeken aan Grosskopf as draaiboekskrywer, Albrect as regisseur, en Faure, Joan du Toit, Carl Richter, J Plaat-Stultjes en Pierre de Wet as akteurs. Laasgenoemde sou met verloop van jare ’n groot figuur in die rolprentbedryf word.

1931: Die Stem van Suid-Afrika

CJ Langenhoven het reeds in 1921 “Die Stem van Suid-Afrika” in sy bundel Eerste Stroffies op die pad na Suid-Afrika gepubliseer. Gedurende 1931 het die FAK ’n kompetisie geloods om ’n geskikte volkslied vir Suid-Afrika te vind. Uit die ingestuurde gedigte het die keuringskomitee eenparig Langenhoven se gedig “Die Stem” aanbeveel.

1932: Afrikaans as regstaal: eerste hofsaak in Afrikaans

Die eerste gerapporteerde hofuitspraak in Afrikaans is in 1925 deur regter De Waal in In re Estate Erasmus gelewer. Tog het Afrikaans nie onmiddellik in die howe begin opgang maak nie. Dit sou eers op 27 Oktober 1932 gebeur toe regter Willie Beyers sy uitspraak in die appèlhof in Bloemfontein in Afrikaans lewer. In die volgende ses jaar was 49 van sy 51 uitsprake in Afrikaans – ongeag die taal van die partye of advokate.

Die appèlhof in Bloemfontein

1933: Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling verskyn

Nadat Afrikaans in die kerke erken is, was die volgende doelwit om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Die eerste amptelike poging was die proefvertaling wat in 1922 die lig gesien het. Dit was slegs ’n verafrikaansing van die Statebybel en het nog te veel Nederlandse invloed getoon. Die blitsverkoping van 70 000 gedrukte eksemplare het onteenseglik gewys dat daar ’n behoefte was vir die Bybel in Afrikaans. In Julie 1923 word die Bybelvertalers deur die Bybelvertalingskommissie benoem om die Bybel uit die oorspronklike Grieks en Hebreeus oor te sit. Hulle was JD du Toit, EE van Rooyen, JD Kestell, HCM Fourie en BB Keet.

In 1928 is die Ou en Nuwe Testamente vertaal. In 1929 verskyn die Vier Evangelies en die Psalms. Die eerste 10 000 Afrikaanse Bybels het op 29 Mei 1933 in Kaapstad aangekom. Tot en met Oktober 1933 is nog 200 000 eksemplare gedruk. Volgens die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, wat die Bybel gedruk en uitgegee het, is nog geen eerste uitgawe van die Bybel in ’n nuwe taal teen die tempo van die Afrikaanse Bybel verkoop nie. Vyf en sewentig jaar later, in 2008, is meer as 7 miljoen Afrikaanse Bybels verkoop. Die invloed wat die Afrikaanse Bybel in die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde, kultuurlewe, kuns en musiek uitgeoefen het, is onpeilbaar. Die Bybel het ’n enorme impak gehad op die standaardisering van die Afrikaanse skryf- en spreektaal. Bybelse idiome soos “die merk van Kain”, “die wysheid van Salomo”, “Job se geduld”, “waar Dawid die wortels gegrawe het” en “hy is ’n regte Judas” het deel geword van die algemene skryf- en spreektaal. Om een van die wêreld se mees invloedryke boeke in eie taal te kon besit en lees, het ’n geweldige opheffing gebring in status van geestelike armoede in Afrikaanse geledere in die 1930’s. Die vertaling van die Bybel uit die grondtale deur kundiges uit eie geledere is steeds een van die grootste hoëfunksieprestasies in Afrikaans.

Lees ook gerus: https://afrikanergeskiedenis.co.za/6-junie-eerste-afrikaanse-bybelvertalings/

Die eerste eksemplare van die Afrikaanse Bybel is by die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap afgelewer

1934: Die Afrikaanse Skrywerskring gestig

Die Afrikaanse Skrywerskring is in 1934 gestig met CM van den Heever as voorsitter. Die Skrywerskring het die waarde van die Afrikaanse boek bemark deur boekweke te hou. Sedert 1936 gee die Skrywerskring Die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring uit. In 1950 word dit deur die Tydskrif vir Letterkunde vervang. Die Afrikaanse letterkunde het nou oor ’n akademiese joernaal beskik waarin daar op wetenskaplike wyse oor werke besin, geskryf, en menings gewissel kan word.

1935: Professionele toneel as kunsvorm

In die 1930’s was daar duidelik ’n bewuste strewe na toneel as ’n hoëvlakkunsvorm in Afrikaans. Talle kultuursentrums en vaardige toneelverenigings het tot stand gekom.

Ons teatertjie, wat later Die Volksteater-Vereniging word, begin in 1935 in Pretoria werk. Onder die leiding van Anna Neethling-Pohl het hierdie genootskap die Afrikaanse toneel uitnemend bevorder.

Die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging (KAT) kom in 1934 tot stand. Hulle streef daarna om die Afrikaanse toneel te bevorder deur vertalings, besprekings, opvoerings en die stigting van ’n toneelbiblioteek. Tot en met 1952 voer hierdie vereniging 60 kort stukke en 37 lang stukke op.

1936: Psalms verskyn in Afrikaans

Die Gereformeerde Kerk het in 1916 besluit om die Psalms te vertaal. Die taak is in alle erns deur JD du Toit (Totius) aangepak. Die eerste vertaling van 36 Psalms verskyn in 1923. In 1923 verskyn die nuwe Halleluja, wat 100 gesange bevat, 75 (Totius-) Psalms en 230 liedere. Daarna verskyn die volledige beryming van die Psalms in Afrikaans in 1936. Die volledige Psalms en Gesange vir die NG en Hervormde Kerke verskyn in 1944.

Lees gerus meer oor Totius: https://afrikanergeskiedenis.co.za/totius-1877-1953/

1937: Eerste FAK-Volksangbundel oorhandig.

Die FAK-Volksangbundel

Die eerste uitgawe van die FAK-sangbundel wat in 1937 verskyn het, was die opvolger van Mansvelt se Hollands-Afrikaanse Liederebundel (1907) en Van Niekerk se Groot Afrikaans-Hollandse Liederebundel (1927). In die twee bundels was daar altesaam 78 Afrikaans-Hollandse liedere waarvan daar slegs 38 opgeneem is in die 1937-FAK-Sangbundel se 314 liedere. 275 liedere is spesifiek geskryf vir saamsing.

1937: Die Transvaler koerant se eerste uitgawe sien die lig

Die doel met die stigting van Voortrekkerpers was om ’n nasionale dagblad in Transvaal te begin. Fondse is deur die publiek ingesamel en op 29 Januarie 1936 is Voortrekkerpers gestig. Op 1 Oktober 1937 verskyn die eerste uitgawe van die dagblad Die Transvaler. Vir jare lank was dit die mondstuk van Transvaalse Afrikaners.

1938: Ossewatrek

Die FAK het Totius versoek om tydens die Eufeesjaar ’n Groot Trek-gedigtesiklus te skryf. Na voltooiing is Arnold van Wyk gevra om dit te toonset. Die FAK het die grootste werk as die Eufees-kantate in 1938 gepubliseer en opgevoer.

Lees ook gerus: https://afrikanergeskiedenis.co.za/22-oktober-die-simboliese-ossewatrek-van-1938/

1939: Reddingsdaadbond word gestig

Ná die FAK se Eerste Ekonomiese Volkskongres in Oktober 1938 is die Reddingsdaadbond op 8 Desember 1939 gestig. Bydraes is gebruik om nuwe Afrikaanse ondernemings op die been te bring en arm Afrikaners finansieel te ondersteun. Die Reddingsdaadbond was ’n reusesukses. In die eerste vyf jaar het die Reddingsdaadbond reeds 70 000 lede by ongeveer 400 takke gehad en meer as £15 miljoen vir Afrikaanse sakeondernemings ingesamel. Die verslag van die Tweede Ekonomiese Volkskongres het berig dat die Reddingsdaadbond ongeveer

  • £45 miljoen bestee het aan sy eie sake en verskeie Afrikaanse organisasies,
  • £54 miljoen in aandele in Afrikanersakeondernemings belê het,
  • £18 miljoen in studielenings verskaf het, en
  • £36 miljoen in die Federale Volksbelegging belê het.

In 1956 is daar besluit om die Reddingsdaadbond te ontbind en sy bates na die FAK oor te plaas. Die Reddingsdaadbond se grootse nalatenskap is die beginsel van opheffing-deur-opleiding as hoeksteen vir maatskaplikeopheffingsprojekte. Met vertrekpunte soos eie werk, trots, selfhelp, aanvaarding van eie verantwoordelikheid en die strewe na uitnemendheid het Afrikaners armoede twee keer in een eeu oorwin.

1940: Afrikanereenheidskomitee gestig

Op 9 Junie 1940 het die Afrikanereenheidskomitee (AEK), saamgestel uit lede van die Herenigde Nasionale Party, die Ossewabrandwag, die FAK en die Reddingsdaadbond tot stand gekom met die tweeledige taak om die breuke in Afrikanergeledere te heel en ’n grondwet vir ’n toekomstige republiek op te stel. Die FAK het as sameroeper vir die geleentheid opgetree.

Die Afrikanereenheidskomitee, van links na regs: L.J. du Plessis, dr. J.F.J. van Rensburg, dr. D.F. Malan, mnr. Ivan Lombard, dr. N. Diederichs en dr. R.T. Meyer

1940: Suid-Afrikaanse Vrouefederasie

Onder die leiding van Georgiana Solomon is “De Zuid-Afrikaansche Vrouwen Federatie van Transvaal (ZAVF)” op 19 Oktober 1904 in die woning van Annie Botha, eggenote van Louis Botha, in Sunnyside, Pretoria, gestig. Dit is gedoen uit die besorgdheid van ’n groepie vroue oor die naoorlogse nood onder mense. Die organisasie het hom beywer vir die behoud en vooruitgang van die Suid-Afrikaanse volk op geestelike, sedelike, verstandelike en kulturele gebied deur hulpverlening, bystand en ondersteuning, aksies tot selfversorging, opvoeding en onderwys. Reeds met die stigting van die organisasie is sy Christelike grondslag van naastediens onherroeplik vasgelê en in die grondwet vervat. Verskeie dienste het hierop gevolg waar onder ’n kleuterskool wat in 1940 begin is as die eerste SAVF-kleuterskool.

1941: Nuwe musiekgroepe in die 1940’s

Musiekgroepe soos die De Vos-broers, die Groblers en die Briels was dié tyd se gewilde kunstenaars. Die Briels was van die eerste Afrikaanse sanggroepe wat hul eie liedjies gekomponeer het en nie Engelse liedere vertaal het nie.

1941: Die Afrikaanse kunslied

Die Afrikaanse kunslied het hoë aansien in die Suid-Afrikaanse kunsmusiek. Die eerste voorbeeld daarvan is Bosman di Ravelli se toonsetting van “Winternag” in 1908. Die kunslied het veral opgang begin maak na die verruiming in die letterkunde in die 1930’s en 1940’s. Mimi Coertse is een van ons bekendste vertolkers in die genre. In 1956 maak sy haar debuut as sangeres in die Weense Staatsopera. ’n Dekade later ontvang sy die titel van Kammersängerin van die Oostenrykse regering. Vir haar vertolking van Afrikaanse kunsliedere ken die SA Akademie in 1961 ’n erepenning aan haar toe, met erelidmaatskap in 2002. In 1984 besluit die FAK se Musiekkomitee om die belang van die Afrikaanse kunslied volledig te erken met die publisering van die Kunsliedbundel, met 26 liedere. Die bundel dek die tydperk vanaf Bosman di Ravelli se eerste werke van 1908 tot dié van Stefans Grové van 1982. Vandag nog is die Afrikaanse kunslied een van die mees geskakeerde kunsvorme wat in liedkonserte gesing word. Eietydse digters en komponiste dra steeds by tot die genre.

1942: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Reeds voor Uniewording is die eerste stappe geneem om Afrikaans as wetenskapstaal te vestig. Die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst is op 2 Julie 1909 in Bloemfontein gestig. Teen 1925 het die Akademie reeds groot werk verrig met die standaardisering van die Afrikaanse spelling, deurdat die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) sedert 1917 gepubliseer word. ’n Belangrike persoon wat tereg die “vader” van die eerste spelreëls genoem word, is TH le Roux. Tans word daar gewerk aan die elfde uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. ’n Eeufees-uitgawe van die AWS sal in 2017 verskyn en in ’n spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) sal die geskiedenis van die Taalkommissie, as een van die twee oudste kommissies van die Akademie, op dié wyse herdenk word. Die Akademie se jaarlikse bekronings bevestig die belangrikheid van hoëfunksieprestasies op elke aspek van ons samelewing. In 1942 is die Akademie tot twee fakulteite uitgebrei – die bestaande een vir taal, lettere en kuns; en ’n nuwe vir natuurwetenskap en tegniek. Die naam is ook gewysig tot die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sodoende is Afrikaans se toetrede tot die natuurwetenskaplike en tegnologiese wêrelde erken. Die MT Steyn-medalje vir Natuurwetenskaplike en Tegniese Prestasie is die hoogste toekenning in die natuurwetenskappe en die prysgeld is dieselfde as dié van die Hertzogprys. Verskeie hand- en woordeboeke word deur die Akademie en ook deur die stimulering van terminologieprojekte ondersteun. Jaarliks bied die SA Akademie ’n simposium aan waar internasionale en plaaslike kundiges referate oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe lewer. Die twee geakkrediteerde tydskrifte van die SA Akademie, die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) en die SA Tydskrif vir Natuurwetenskappe en Tegnologie (SATNT) word wêreldwyd gelees en as bron aangehaal. Jong navorsers en universiteitstudente baat by die jaarlikse simposium in die Natuurwetenskappe. Op skool word die Wiskunde-in-Aksieprojek jaarliks nasionaal aangebied met pretdae vir die wenners by die meeste van die universiteite. Afrikaans is gevestig by vier universiteite as Wetenskapstaal. Afrikaans was gevestig in die staatsdiens, geregshowe, letterkunde, rolprente en uitsaaibedryf.

Stigterslede van die SA Akademie

1943: Die eerste Afrikaanse Kinderensiklopedie

In 1943 is die eerste volume van hierdie nuwe, belangrike werk aan intekenaars gestuur. CF Albertyn (die uitgewer) was die hoofredakteur en NP van Wyk Louw die redakteur van die afdeling “Kunsskatte van die wêreld”. Die ensiklopedie is onder redaksie van die Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Beperk (Nasou) in twaalf volumes tot 1983 uitgegee. Die ensiklopedie het uit die volgende hoofafdelings bestaan:

Afrikaanse Kinderensiklopedie

– Aarde en heelal

– Die diereryk

– Lande en volke

– Lewensverhale

– Die mens en sy bedrywighede

– Die mens: sy liggaam en verstand

– Die planteryk

– Die verhaal van Suid-Afrika

– Wondere van die wetenskap

Vir die eerste keer het die Afrikaanse kind nou oor ’n ensiklopediereeks in sy eie taal beskik. Nuwe horisonne het oopgegaan; hy kon nou in Afrikaans oor al die wondere van die wêreld lees.

1943: Moedertaalonderrig

In 1943 is ’n kongres oor moedertaalonderrig deur die FAK gereël. Negehonderd mense het die kongres bygewoon, ten spyte van die kort voorbereidingstyd, petrolrantsoene as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog en die feit dat dit skoolvakansie was. Die beginsel van moedertaalonderwys as uitgangspunt is aanvaar en onderwys in Afrikaans is in Natal gevestig. Die FAK se Instituut vir Christelik-nasionale Onderwys en Opvoeding het die Afrikaanse taal en kultuur in skole help vestig. Die Moedertaalstrydfonds is gestig om Afrikaanse ouers te oortuig van die belang van moedertaalonderrig vir hul kinders.

1944: Gesangboek in Afrikaans

Die volledige Psalms en Gesange vir die NG en Hervormde Kerke verskyn in 1944. Daar is nie net gelees en gebid in Afrikaans nie, maar ook gesing. Nie in ’n dooie of vreemde taal nie … in die hartstaal!