’N NOSTALGIESE REIS NA DIE AFSAALPLEKKE VAN TOEKA
Die Bronberg-omgewing wemel deesdae van afsaalplekke vir moeë reisigers. Dit was nie altyd so nie en ons kyk terug na drie van die hotelle wat ’n paar dekades gelede in ons kontrei koning gekraai het.
Dan gaan ons verder in die geskiedenis terug na die heel eerste hotelle wat in die Pretoria-distrik oopgemaak is.
Die drie hotelle in ons gebied was die Bapsfontein Hotel, Avondzon Hotel en die geskiedkundige Premier Hotel op Cullinan wat onlangs gerestoureer is nadat hy vir 20 jaar lank toe gestaan het.
Die Baps
Vandag is dit moeilik om te glo dat die naam “Bapsfontein” bykans ’n sinoniem was vir dans en “country” musiek. Die hotel is omring deur ’n informele nedersetting en rommel wat oral rondgestrooi lê, is ’n gesondheidsrisiko wat die vleiland in die middel van die sinkskuilings besoedel. Jill Watson van die Elandsvlei Bewarea het ’n kliniek en sosiale ontwikkelingskantoor in die ou gebou ingerig.
In 2004 het die eerste sinkgate in dié gebied begin inval. Een van dié sinkgate is naby ’n skool vir 400 kinders en die bodem van die put is amper nie sigbaar nie. Blykbaar word die sinkgate al hoe dieper.
In sy gloriedae was Bapsfontein die Las Vegas van Transvaal waar iemand soos sangeres Barbara Ray haar eerste kans op roem gekry het. Verwysings na die gloriedae kan gevind word in ’n verskeidenheid liedjies soos Laurika Rauch en Jannie du Toit se 1988-lied, “Van Berlyn tot Bapsfontein”.
Huldeblyke aan Bapsfontein se musikale verlede is opgeneem in albums soos Back to Bapsfontein met musikante wat strek van Bobby Angel, Tommy Dell en Lance James tot Clive Bruce, Min Shaw en Jody Wayne.
Avondzon
Die Avondzon hotel op die ou Bronkhorstspruitpad was so ’n paar dekades gelede baie ver uit Pretoria uit. Dié hotel is bedryf deur wyle Ella Brink en was geleë op die Brinks se familieplaas wat ’n lang en ryk geskiedenis het. In Junie 2008 het ons berig dat die swierige ou Donkerhoek-opstal op dié plaas deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, JMA (Donkie) Wolmarans gebou is. Hy het ’n gedeelte van die oorspronklike plaas, Donkerhoek, in 1882 gekoop.
Die eerste eiendomsreg van die plaas is in September 1859 aan PJ Botha toegeken. In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur ’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, ene J Levin, verkoop.
Die huis en grond is in 1924 deur JB Wouda gekoop en sedertdien woon sy nageslagte nog daar. JB Wouda was Dave Brink, wat sy hele lewe nog daar bly, se oupa.
Dit is Dave se ma, Ella Brink, wat die hotel bedryf het. Sy het tot haar afsterwe ’n paar jaar gelede, in die ou opstal gewoon. Ella se ma was in die vroeë 1900’s die eienaar van die bekende Wouda losieshuis in Pretoria. In die sewentigerjare was Avondzon ’n bekende kuierplek. Dit het later die Africa 2000 hotel geword.
Premier Hotel
Cullinan se Premier Hotel dateer uit 1905 en is gestig toe die dorpie begin uitbrei het ná die Cullinan-diamant daar gevind is.
Hy is een van die historiese besienswaardighede van dié dorp, maar lyk vandag so effe anders as toeka se dae. Die gewels aan die twee vleuels wat in die ou foto’s gesien kan word, is iewers voor die 1960’s verwyder.
Dié hotel het vir twintig jaar toegestaan en is eers in Januarie 2007 heropen nadat sy nuwe eienaar hom gerestoureer het. Vandag spog die gerestoureerde hotel weer met toeka se weelde wat ’n mens kan sien in die Rose & Crown, ’n kroeg in koloniale styl. Die L-vormige hout kroegtoonbank dateer uit 1906 en ekstra bygevoeg, maar die ou sitkamer en eetsale spog met toeka se plankvloere.
Die hotel het 16 kamers, elk met sy eie badkamer, en sommige met ’n balkonnetjie en uitsig oor die straat se kom-en-gaan.
Pretoria se buitewyke
Toeka se dae het dit jou bykans ’n dagreis geneem om die kronkelpad van Kerkplein na Wonderboom met ’n ossewa af te lê. Hotelle is oral in Pretoria se buitewyke gebou en hierdie foto’s van hulle kom uit Rosa Swanepoel se fotoversameling.
Dit is vandag maklik om Wonderboompoort toe te ry met Paul Krugerstraat. Daardie dae was Paul Krugerstraat bekend as Markstraat en hy het net tot by Boomstraat geloop. Dit blyk asof daar ’n voetpad oor die berg was, maar JF Celliers, De Volkstem se redakteur en eienaar van Rus in Urbe, waar die dieretuin vandag is, wou nie deurgang toelaat nie. In 1880 plaas hy die volgende kennisgewing in die koerant: “Markstraat loop net tot by Rus in Urbe. Geen deurgang verder. Oortreders sal vervolg word.”
Die hoofpad na die noorde het oor die Apiesrivier gegaan by Hovesdrift, ongeveer waar Soutpansbergweg vandag loop. Van daar af het die pad oor die plaas Rietfontein, waar ’n hotel en winkel was, geloop.
In De Volkstem van 7 Augustus 1880 plaas dié hotel ’n advertensie wat die natuurskoon van die Magaliesberg by Rietfontein besing. Nie net kan jy daar oorslaap en eet nie, jy kry ook goeie stalle, voer en versorging vir jou perde.
Op 16 Oktober is daar berig dat die hotel deur weerlig getref is, maar dat niemand beseer is nie. Die weerlig het albei skoorstene getref en ’n balk in mnr. Blackburne, een van die eienaars, se kamer is versplinter.
Rondom Kerkplein
In die 1800’s was die meeste hotelle rondom Kerkplein gebou, van die Grand Hotel op die suidoostelike hoek, die European Hotel wat in 1888 gesloop is om plek te maak vir die bou van die Raadsaal, die Pretoria Hotel, wie se naam later verander het na die South African Hotel, die Kimberley Hotel en uiteindelik die gebou wat vandag Café Riche huisves. Die foto’s is uit Rosa Swanepoel se versameling en die inligting gebaseer op haar navorsing.
Grand Hotel
Die Grand Hotel is in 1890 op die suidoostelike hoek van Kerkplein laat bou deur ’n mev. Lys. Sy naam was eers die President Hotel en HWF Burger was die eienaar in 1892. Hy het die Grand Hotel geword in 1894 toe S Schlomer hom van Pretoria Estates Ltd, wat dit van mev. Lys gekoop het, gehuur het. Daar kon 70 gaste oorbly.
European Hotel
Transvaal is in 1877 deur Engeland geannekseer en dié is ’n foto van ’n militêre parade op Kerkplein voor die eerste Goewermentsgebou, heel links op die foto.
Die wit gebou met die naambord op die stoep se dak is die European Hotel. In 1878 was Carter & Co die eienaars van The Gridiron, maar die boere het so gesukkel om die snaakse naam reg uit te spreek dat daar knap twee weke later berig word dat The Gridiron van Carter & Co voortaan bekend sal staan as The European Hotel.
In 1880 was RA Colquhoun die eienaar van die European Hotel en in Oktober is die aanbouings voltooi en het die hotel ’n tweede verdieping bygekry. Dié eienaar het op 21 Desember 1881 in Engeland gaan trou en sy nuwe bruid, Adeline Reddy, teruggebring.
Dit het nie goed gegaan met haar gesondheid nie en hulle het besluit om terug te gaan Engeland toe en die hotel op ’n veiling te verkoop. Die grond waarop die hotel gebou is, is egter nie verkoop nie want die huurkontrak van die grond was nog tot April 1898.
Die hotel het bestaan uit ’n eetkamer, kroeg, leeskamers, biljartkamer, 19 slaapkamers en stalle vir 16 perde. Die nuwe eienaar se eerste advertensie het genoem dat ys nou by die European Hotel van Vorstman & Co te koop is teen 1 sjieling per pond.
Die European Hotel en die eerste Goewermentsgebou is in 1888 gesloop om plek te maak vir die bou van die nuwe Goewermentsgebou, vandag bekend as die Ou Raadsaal.
Pretoria Hotel
Dié foto is in 1893 of 1894 geneem. Die Raadsaal, links op die foto, is pas voltooi maar die horlosie is nog nie geïnstalleer nie.
Die lang gebou met die stoep aan die regterkant van die foto was in 1899 die Pretoria Hotel. Sy naam het later verander na die South African Hotel. Hugh Romily Abercrombie, ’n vroeë inwoner van Pretoria, het geskryf hoe interessant dit was om in nagmaalweek op die stoep te sit en die bedrywighede op die plein gade te slaan.
Die boom op die foto is die laaste oorblywende akkerboom wat oorspronklik, net na die aanleg van Pretoria, deur Kootjie Vermeulen voor sy huis aangeplant is. Die bome was vir jare ’n landmerk in Pretoria en daar is gereeld veilings in hul skadu gehou. Na die tweede Vryheidsoorlog het die laaste boom finaal van die toneel verdwyn.
Kimberley Hotel
Die Kimberley Hotel was op die noordwestelike hoek van Kerkplein. Die foto is na 1887 geneem. Heel links is die noordelike deel van die Poskantoorgebou. Die volgende drie geboue was almal op een erf wat tot in 1866 aan Kaptein Struben behoort het. Die middelste gebou met die groot stoep was oorspronklik ’n woonhuis wat later bekend gestaan het as die Commercial Chambers, gevul met kantore.
Regs daarvan is ’n winkel. Die volgende gebou is die Kimberly Hotel. In 1889 was J Cavanagh die hoteleienaar en M Walsh die bestuurder. Voordat die gebou as die Kimberley Hotel bekend gestaan het, was dit in 1875 die klubgebou van die Pretoria Klub.
Blykbaar het dié gebou aan dr. Leyds, die staatsekretaris, behoort wat vir ’n tyd daar gewoon het. In 1891 het hy die gebou, wat toe as die Kimberley Hotel bekendgestaan het, aan die Nasionale Bank verkoop wat dit voorlopig laat herbou het.
Café Riche
Die Reserve Investment gebou, waar die Cabin Tea Room en later die Café Riche Lounge Bar persele gehad het op die grondvloer, is in 1904/5 opgerig op die suidwestelike hoek van Kerkstraat en Kerkplein. Dié foto is ongeveer in 1907 geneem. Café Riche, op die hoek, adverteer Ihoma Lager Beer.
Die vraag is of daar ooit ’n oorslaapplek in die gebou was. Die amptelike geskiedenis lui dat Café Riche in 1905 geopen het, daarna toegemaak het en weer in 1994 heropen het na restourasie. Wat dit nie sê nie is dat dié gebou blykbaar vir dekades lank ’n bordeel was.
Die gebou is opgerig op erf nommer 351 wat vir ’n geruime tyd in die besit van President MW Pretorius was. In 1865 het hy die suidelike helfte van die erf laat transporteer op die name van IM en MJ Prinsloo. Teen die einde van die 1860’s het Pretorius vir hom ’n huis op die noordelike gedeelte van die erf nommer 351 gebou. Hy het in 1873 die noordelike gedeelte van die erf, tesame met die huis aan William Skinner verkoop vir ’n bedag van £675.
Verder in die dorp
Destyds was daar nie baie hotelle in die res van Pretoria nie. Ons weet van die Victoria Hotel by die stasie en die Fountain Hotel in Pretoriusstraat wat ook maar ’n klipgooi van Kerkplein af was.
By die stasie
Die Stasie Hotel is in 1892 deur ’n mnr. Hambourg op die hoek van Scheiding en Paul Krugerstrate, tussen die stasie en Kerkplein, gebou. Dit was binne gemaklike loopafstand vir diegene wat met swaar tasse moes sukkel van die stasie af. Vier jaar later, terwyl Lord Roberts en sy Britse troepe Pretoria geannekseer het, is dié hotel herdoop na die Victoria Hotel.
Oor die jare het die hotel agteruit gegaan, maar is ’n ruk gelede gerestoureer om die elegansie en sjarme van vervloë jare te reflekteer. Daar is 11 kamers, elk met ’n badkamer, wat in Victoriaanse styl versier is.
Pretoriusstraat
Die dubbelverdieping Fountain Hotel is in Januarie 1989 voltooi en ’n advertensie in De Volkstem kondig aan dat daar vir 120 gaste in die eetkamer plek is.
Die foto is in ’n westelike rigting geneem in Pretoriusstraat. In die voorgrond is Union Club, wat in 1882 geopen is. Die Fountain Hotel kan verder af in die straat gesien word met sy stoep en balkon op die tweede vloer. Aan die regterkant van die foto kan ’n mens sien dat die bouwerk aan die Ou Raadsaal nog nie voltooi is nie.
Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.