MAGDALENA RETIEF – ’N GEDENKWAARDIGE, TRAGIESE VOORTREKKERVROU
Retiefstraat, in die sentrale deel van Potchefstroom, is vernoem na Magdalena Retief, vrou van die Voortrekkerleier, Piet Retief. Haar huis was op die noordoostelike hoek van Retief- en Bergstraat (later Van Riebeeck, nou Peter Mokaba).
In 1994, kort nadat ’n gedenkteken vir Magdalena Retief in die tuin van die Gereformeerde Kerk, Potchefstroom-Noord (nou Die Bult) onthul is, het ek ’n artikel oor haar geskryf. Dit is gepubliseer in Konteks, die tydskrif van die Hervormde Kerk. Daardie artikel vorm die kern van wat hier volg.
Die geskiedenis van Piet Retief is goed bekend by die meeste Afrikaners. Hy was een van die Voortrekkerleiers en is dood op 6 Februarie 1838 by Umgungundlovu.
Die storie van sy vrou, Magdalena, is by die meeste onbekend, maar meer aangrypend omdat dit die tipiese lewe van ’n vrou was wat die ontbering van die Groot Trek moes deurmaak.
Magdalena Retief is aan ’n wyer gehoor bekendgestel met die historiese roman van Jeanette Ferreira, Bloedlelie, wat in 2019 verskyn het. Die boek is hoog aangeskryf.

Die vrou in die middel op hierdie foto is heel waarskynlik Magdalena Retief, weduwee van die Voortrekkerleier, Piet Retief. Magdalena Retief is waarskynlik in 1855 oorlede en in die Voortrekkerbegraafplaas op Die Bult begrawe. Dié foto is in die Potchefstroom Museum se argief, saam met ander foto’s uit die vroeë jare van Potchefstroom, bewaar. Niemand weet verseker wie die mense op die foto is nie. Johan Wolfaardt, vakkundige beampte by die museum, sê dat hulle onlangs dié ou foto’s weer onder die vergrootglas geplaas het en dat hy redelik seker is dat dié vrou Magdalena Retief is. Die foto dateer uit die tydperk toe Magdalena geleef het en die kleredrag pas ook by die periode. Daar is ook gebruik gemaak van tegnieke wat deur die polisie gebruik word, in die identifisering van mense op foto’s. Daar bestaan foto’s van Magdalena Retief se suster en die trekke van ooreenkoms tussen haar en die vrou op die foto is opvallend. Daar bestaan ook bekende foto’s van haar dogter Debora en daar is ook trekke van ooreenkoms tussen Debora en die vrou wat hy meen Magdalena is. Die jong vrou links in beeld toon ook merkwaardige trekke van ooreenkoms met Debora.
Die gedenkteken wat in Julie 1994 onthul is vir hierdie eerbiedwaardige vrou, is deur die plaaslike tak van die Stigting Simon van der Stel daargestel. Magdalena Retief het die laaste jare van haar lewe in Potchefstroom gewoon en is in die eerste begraafplaas van die dorp begrawe. Dit was net noord van die hoek van Borcherd- en Molenstraat op Die Bult aan die westekant van die straat, deels onder die sypaadjie. (’n Artikel oor hierdie begraafplaas is in my boek, Stories van Potchefstroom.)

Die Magdalena Retief-gedenkteken in die tuin van die Gereformeerde Kerk, Die Bult. Die gedenkteken is in Julie 1994 onthul.
Magdalena Retief is begrawe in die begraafplaas wat in die omgewing was. Toe die noordelike burgerregerwe op die Bult in die laat 1890’s opgemeet is, is petisies ingedien om die begraafplaas af te baken. Dit is geïgnoreer en erwe is bo-oor die begraafplaas uitgelê. ’n Poging is in 1919 aangewend om die liggame op te grawe en van die beendere is begrawe in die Konsentrasiekampkerkhof in Bailliepark. Opgrawings het skielik tot stilstand gekom toe die weduwee van een van die mense wat daar begrawe is, daar opgedaag het en die werkers verjaag het. Sy het hulle daarvan beskuldig dat hulle die gestorwenes onteer. Die laaste insident was in die laat 1980’s, vroeë 1990’s, toe ’n nuwe huis gebou is en beendere gevind is toe die fondasies gegrawe is.
Tydens die onthulling van die gedenkteken het die bekende Potchefstroomse geskiedkundige, prof. Gert van den Bergh, ’n kort biografie van Magdalena Retief gegee.
Prof. Van den Bergh het gesê dat sy in haar eie reg nie ’n leier was nie. Sy het geen spesifieke prestasies behaal nie, het nie die openbare aandag getrek nie en het nie meer of minder gely as enige ander vrou van die Groot Trek nie. Dit is eintlik haar gewoonheid wat haar gedenkwaardig maak. Sy was ’n gewone mens, ’n tipiese Voortrekkervrou en -moeder. Die meeste moderne vroue sal geskok wees oor hierdie vrou se veelbewoë lewe en sal na alle waarskynlikheid nie die tipiese dinge wat hulle voorouers moes beleef, glo nie.
Magdalena de Wet is in 1782 gebore en het waarskynlik in die Stellenbosch-distrik grootgeword. Sy was net sestien toe sy met haar eerste man, Jan Greyling, getroud is. Die egpaar het nege kinders gehad.
Magdalena was 28 jaar oud toe hy tydens ’n militêre ekspedisie na die oosgrens van die Kaapkolonie gesterf het. Sy was swanger met hulle laaste kind. Sy was ’n weduwee vir meer as twee jaar toe sy Piet Retief ontmoet het, wat in die Graaff-Reinet-distrik gewoon het.
Uit haar eerste man se boedel het sy omtrent 900 skaap, 300 bokke, 20 trekosse, 50 teelbeeste, vier waperde, ’n ryperd, ses teelperde en ’n bedrag geld geërf. “Alhoewel nie ryk nie, was sy welaf, verseker beter as Piet Retief, wat pas ’n ernstige saketerugslag beleef het,” het prof. Van den Bergh gesê. Hulle is in 1814 getroud.
“In die enigste brief van Piet aan sy vrou, verwys hy na haar as ‘Waarde en geliefde vrou’ en uit ander getuienis uit die Groot Trek weet ons dat sy hom in voor- en teëspoed getrou en daadwerklik bygestaan het in die lief en leed van die trekomstandighede sowel as in die intieme, daaglikse, huislike lewe. Dit val dan ook op dat na die moord op Retief en ook van haar seuns wat saam met hom na Dingaan was, dit sy is wat die leed van die laers versinnebeeld en dat dit na haar is wat ander vrouens en moeders gaan vir raad en vertroosting. Sy het dit reeds moeilik gevind om die Kaapkolonie te verlaat waar sy ’n man en vier kinders begrawe het.”
Magdalena was 56 jaar oud toe haar man gesterf het en sy het vir twee jaar uitgehou voor sy in 1840 die Voortrekker Volksraad genader het vir ’n pensioen “weens haar armoede en hoë ouderdom”. Die Volksraad, wat op sigself nie ’n groot reserwe aan fondse gehad het nie, het aan haar ’n eiendom in Pietermaritzburg toegeken, waar sy en haar twee weduweedogters gewoon het. In die vroeë 1840’s het sy die versoek herhaal, maar het geen antwoord ontvang nie en het besluit om na Potchefstroom te verhuis. Dit was kort voor Brittanje Natal geannekseer het.
Sy het heelwaarskynlik na Potchefstroom verhuis saam met Andries Pretorius en het hier ook ’n eiendom, sowel as ’n plaas ontvang, soos dit die gebruik was in die geval van ’n weduwee. Hier het die Volksraad weer eens kennis geneem van die “droewige omstandighede” van die “beklagenswaardige oude vrouw” en het sy ’n klein pensioen van die regering ontvang.
Volgens prof. Van den Bergh was sy blykbaar die eerste persoon wat ’n pensioen van die regering ontvang het. Om haar pensioen aan te vul, het sy blykbaar ook die eerste tuisnywerheid in Potchefstroom bedryf deur beskuit en brood te bak vir mans wat op kommando gaan. Sy het ook fyngebak gemaak, wat aan die inwoners van Potchefstroom verkoop is.
Haar uiterste armoede blyk uit ’n staaltjie wat oor hierdie tyd vertel is. Sy het met iemand by die muur van haar eiendom staan en gesels en het daardie dag niks gehad om te eet nie. Net toe het ’n bossie wortels met die leiwatervoor afgedryf gekom. Sy het die wortels met ’n gebed van danksegging uit die water gehaal.

Hierdie foto van die huis van Magdalena Retief het in die jaarboek van die Korps Veritas Vincet verskyn, ’n studenteorganisasie aan die PUK in 1919. Dit het gestaan op die hoek van Retiefstraat (vernoem na Magdalena en nie haar man nie) en Bergstraat (voorheen Van Riebeeck, nou Peter Mokaba). Volgens Geoffrey Jenkins in A century of history, is die huis in 1926 gesloop en die huis wat tans daar staan, is deur Mercia Luke gebou.
’n Nederlander wat haar in hierdie jare besoek het, sê dat sy ’n waardige dame was en het spesifiek kennis geneem van hoe netjies haar huis was, ten spyte van die feit dat sy te arm was om hom iets te ete te kon aanbied.
Vyftien jaar voor haar dood, het haar familie in die Kaapkolonie aan haar geskryf en gevra dat sy hulle oor haar omstandighede inlig.
Sy skryf terug en sê dat sy nege kinders by Jan Greyling gehad het, waarvan drie as babas dood is. ’n Dogter is oorlede terwyl sy geboorte gegee het en ’n tweede as gevolg van hartkloppings. Twee van haar seuns, een by Greyling en een by Retief, het saam met Retief by Umgungundlovu gesterf. Van die ses kinders wat sy by Retief gehad het, is twee as babas dood.
Wat betref die oorblywende Retief-kinders, sê sy dat die vrou van Jacobus Francois dood is. Die eggenoot en kinders van Debora Jacoba is ook dood en so ook die kinders van Magdalena Margareta.
Sy skryf in haar brief: “… mijn rampte is bijna te zwaar om UEd daarvan een behoorlike melding te doen.”
Die gedenkteken ter ere van Magdalena Retief is ’n groot rots wat regop op ’n basis van gedresseerde klip geplaas is. Die rots is ’n simbool van haar sterk karakter en die gedresseerde klip is gevind in die begraafplaas waar sy begrawe is.
Dit is nie die eerste gedenkteken vir Magdalena Retief wat in hierdie omgewing opgerig is nie. In September 1974 is ’n klein gegraveerde rots op die sypaadjie geplaas waar die begraafplaas in werklikheid was. Dit was regoor die toring van die kerk aan die westekant van Molenstraat. Die eienaars van die eiendom op wie se sypaadjie dit was, was glad nie hiervoor te vinde nie. Hulle het gemeen het dat hulle ’n grafsteen op hulle sypaadjie het. Teen Januarie 1975 is dit verwyder en word in die Potchefstroom Museum bewaar.
Hierdie artikel het oorspronklik in Engels op Lennie Gouws se webblad (lenniegouws.co.za) verskyn as deel van ’n reeks oor die herkoms van die straatname van Potchefstroom.
