VOLKSARGITEKTUUR 20: OORSPRONG VAN DIE SUID-AFRIKAANSE WIGVORMIGE HARTBEES- OF DAKHUIS
Wigvormige dakhuise het in al die stamlande voorgekom, terwyl die eerste huis aan die Kaap, wat deur Jan van Riebeeck en sy gesin bewoon is, ook ’n wigvormige dakhuis was.
’n Huis wat slegs uit ’n dak bestaan, staan onder meer in Nederlands en Duits as dakhuizen, tenten en Dach-hutten bekend. Wigvormige dakhuise kon direk op die grond of op ’n lae muur geplaas word. In sommige gevalle is die vloer in die grond ingegrawe en staan dan in Nederlands as ’n kelderhut en in Duits as ’n grubenhaus bekend. Op watter stadium die term hartbeeshuis op wigvormige dakhuise aan die Kaap van toepassing gemaak is, is nie seker nie.
Drie basiese dakkaptipes het by dakhuise voorgekom, naamlik die gaffelsuilkonstruksie (Figg. 1a, 2), die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie (Figg. 1b, 3) en die spardak (Figg. 1c, 4-6). Hoewel die ouderdomme van die drie tipes nie met sekerheid bepaal kan word nie, is navorsers grootliks eensgesind oor die relatiewe ouderdom daarvan. Die gaffelsuilkonstruksie is die oudste, gevolg deur die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie en laastens die spardak. Al drie tipes is van prehistoriese oorsprong en het nog tot in die 20ste eeu voorgekom.
’n Aantal rotstekeninge in ’n grot by Font de Gaume, Dordogne, Frankryk, beeld waarskynlik Magdaleense (20 000 tot 12 800 voor die hede) hutte met ’n gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie uit. Daar is telkens ’n sentrale paal met skuins-geplaaste kapsparre aan beide kante wat nie tot onder strek nie. ’n Verklaring hiervoor is dat die vloer in die grond ingegrawe is, óf dat die sparre op ’n lae grondwal gerus het.
Die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie bestaan uit ’n dubbelkonstruksie, naamlik drakappe en ’n dakgording, wat as ondersteuning dien vir die daksparre, waarop die dekmateriaal vasgemaak is. By die Steentydperk-terrein van Katrineholm-Mogetorp in Södermanland, Swede, is skuins paalgate binne ’n reghoekige tweevertrekhuis met lae klipmure aangetref. Die paalgate is hoogswaarskynlik ’n aanduiding dat die wigvormige dakraamwerk uit ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie bestaan het. Na ’n ontleding van los voorwerpe en stuifmeel wat daar aangetref is, is vasgestel dat die huis uit die vroeë Neolitiese periode van ca. 7 000 tot 6 000 v.C. dateer.
Die spardak bestaan uit slegs twee elemente, naamlik kapsparre wat in pare onder die nok deur ’n hanebalk verbind word. Die konstruksie word deur die afwesigheid van ’n nokpaal, drakappe en kaplatte gekenmerk, en kan gevolglik as ’n “enkel” dakkonstruksie beskryf word, aangesien die dakbedekking direk op die kapsparre rus. Uiteenlopende teorieë word oor die ouderdom van die spardak gehuldig. AD Lacaille is van mening dat die “Paneel van die hut” in die La Mouthe grot naby Les Eyzies, Dordogne, Frankryk, wat uit die Laat Magdaleense tydperk (ca. 10 000 jaar voor die hede) dateer, ’n spardak uitbeeld (Fig. 4).
Besluit
Suid-Afrikaanse wigvormige dakhuise verteenwoordig ’n direkte voortsetting van die millennia-oue Wes-Europese dakhuistradisie, waarvan die vorm en konstruksie ten spyte van geografiese verskille min of geensins verander het nie. Wigvormige dakhuise het in die 17de eeu tydens volksplanting aan die Kaap onder meer in Nederland, Vlaandere, Duitsland en Frankryk voorgekom.