Verspreiding van gemeenskappe in die huidige KwaZulu-Natal teen die aanvang van die Groot Trek
Die bewoning van die huidige KwaZulu-Natal is sedert die tweede dekade van die 19de eeu ingrypend beïnvloed deur die vestiging van die Zoeloekoninkryk. Daardie verwikkeling was breedweg gesproke die uitkoms van die opkoms van ongeveer 1700 af van sterk gemeenskappe in die noorde van die huidige KwaZulu-Natal en hulle stryd met mekaar om oppermag. In dieselfde tydperk het mielies, hoewel dit nie inheems aan Afrika is nie, onder inheemse gemeenskappe van Suider-Afrika versprei en ’n hoër bevolkingsdigtheid moontlik gemaak.
Teen die tweede dekade van die 19de eeu was die Ndwandwes en die Mthetwas, waarvan Dingiswayo die hoofman was, die twee kragtigste Noordelike Ngunimagsblokke. ’n Stryd om oppergesag het tussen hulle gedreig. Een van die belangrikste persoonlikhede wat by hierdie konflik betrokke was, was Shaka (c. 1787-1828), ’n seun van Senzangakhona, die hoofman van die Zoeloes, wat ’n Mthetwastam was. Shaka het mettertyd die hoof van die hele Mthetwakrygsmag geword. Ná die dood van Senzangakhona in ongeveer 1816 het Shaka boonop die hoofmanskap van die Zoeloes oorgeneem. In ongeveer 1818 het Shaka, ná die dood van Dingiswayo, die hele Mthetwagemeenskap by sy Zoeloestam ingelyf. Kort hierna het Shaka die Ndwandwes die stryd aangesê en verstrooi. Sommige Ndwandwes het ter wille van oorlewing noordwaarts gevlug en ’n spoor van verwoesting agtergelaat. Shaka het vervolgens die res van die Ndwandwestam by die Zoeloestam ingelyf. Daarna het hy in die loop van ’n reeks suksesvolle veldtogte in die volgende sewe jaar sy ontluikende koninkryk nog verder uitgebrei. Daardie ryk het gestrek oor die hele streek tussen die Phongolarivier in die noorde, die voetheuwels van die Drakensberg in die weste, die kus van die Indiese Oseaan in die ooste en die Mzimkhulurivier in die suide. In hierdie proses het die Zoeloes verskeie kragtige opponente gekonfronteer. Daardie opponente se keuse was beperk: hulle moes óf wegvlug óf toegee aan onderwerping deur die Zoeloes. Talle van die kleiner kapteinskappe het ingegee sonder om weerstand te bied, waarna hulle hul volle lojaliteit oorgedra het aan hul nuwe heerser, Shaka. Hulle krygers is daarna by die Zoeloekrygsmag ingelyf.
Shaka is in 1828 deur twee van sy halfbroers, Dingaan en Mhlangana, vermoor. Dingaan het die nuwe Zoeloekoning geword en spoedig sy stempel afgedruk. Een van sy bepalende stappe was om die setel van koninklike gesag terug te skuif van KwaDukuza, wat Shaka se hoofvesting was, na die tradisionele woongebied van die Zoeloes in die eMakhosinivallei in die noorde. Daar het hy in 1829 sy nuwe hoofvesting, Mgungundhlovu, laat bou.
Net ’n klein persentasie van Dingaan se onderdane was egte Zoeloes – die meerderheid was lede van ander stamme wat deur sy voorganger by die Zoeloekoninkryk ingelyf is. Dingaan het nogtans na sy bewindsaanvaarding ’n kragtige Zoeloestaat opgebou. Teen die einde van die winter van 1837, net voordat die eerste Voortrekkers in die gebied ingetrek het, was die huidige KwaZulu-Natal egter ’n verdeelde landstreek. Dingaan het direk regeer oor die gebied noord van die Thukelarivier. Dit was dan ook waar sy onderdane gevestig was. Die landstreek suid van die Thukelarivier was ook onder Dingaan se heerskappy, maar daar het geen direkte onderdane van hom daar gewoon nie. Dit was sy cordon sanitaire, wat doelbewus onbevolk gelaat is om die koninkryk teen moontlike militêre aanslae uit die suide te beskerm. Dit was egter nie totaal onbewoon nie. Die streek direk onderkant die Drakensberg was relatief yl bewoon deur enkele groepies Boesmans asook klein Ngunisprekende gemeenskappe soos die Hlubimense wat agtergebly het nadat hoofman Mpangazita vroeër met die meerderheid van die stam die Drakensberg na die binneland oorgesteek het. Verder suidoos, langs die kus noord van die Mzimvuburivier, het daar insgelyks klein Ngunisprekende gemeenskappe wydverspreid gewoon. Hierdie gemeenskappe was aan Dingaan skatpligtig, wat beteken dat hulle sy oppergesag erken het. In die omgewing van Port Natal (die latere hawestad Durban) het daar na raming ’n maksimum van drieduisend Zoeloes van alle ouderdomme gewoon, asook, van 1824 af, ’n klompie Britse handelaars wat oor die verloop van tyd in aantal gewissel het. Dit was die situasie toe die Voortrekkers in 1837 die landstreek betree het.
Die FAK en die Rapportryers bedank dr. Jackie Grobler vir die historiese inligting.
.
