VOLKSARGITEKTUUR 11: HOE HET DIE VOORTREKKERS ’N BOOTVORMIGE HARTBEESHUIS GEBOU? DEEL VII: MEUBILERING

Die meubels in ’n tydelike pioniershuis het slegs bestaan uit dít wat op die wa gelaai kon word as daar getrek moes word. Bell het in ’n skildery getiteld Interieur van die tent van ’n Trekboer in Griekwaland (1835), die karige besittings van ’n pionier afgebeeld (Fig. 1).

Figuur 1. Die meubels bestaan uit ’n stoel, klaptafel en ’n klapstoel (C. Bell, Interieur van die tent van ’n Trekboer in Griekwaland, skildery, 1835.
(Uit: J.C. Pretorius (red.), Op trek: die daaglikse lewe tydens die Groot Trek (Pretoria, 1988), p. 202.)

Tregardt het op 22 Maart 1837 in sy dagboek geskryf: “Ik had die dag niets te doen als de hartbeeshuis te late pleisteren, en Pieta heb de katel … op gezit. [1]

Backhouse berig oor die hartbeeshuis van die boer Salomon en sy vrou Adriana Catharina Nortje [2] by wie hy in die Transorangia naby die Sand- en Modderrivier in 1839 oornag het: “Their house presented no attractions in regard to cleanliness; but it was the abode of hospitality, and in some measure, a shelter from the cold.” Die meubels het uit ’n lae bed, twee wakiste wat as ’n tafel gedien het, twee klapstoele, ’n stoel, en ’n konfoor, vir die vrou wat sonder skoene was, ’n paar yster kookpotte waarvan een met ’n gat in die sy in die middel van die vertrek gestaan het en wat ’n klein hout vuurtjie binne-in bevat het, bestaan. Daar was ook ’n ketel, ’n geweer, ’n paar kleiner items en ’n stapel velle waarop die kinders geslaap het. Buite was onder meer ’n rietskerm wat as ’n kookplek gedien het. [3]

In kontras met Backhouse se beskrywing, het Aucamp oor die meubilering van ’n bootvormige hartbeeshuis in die Stormberge in die Noordoos-Kaapland geskryf:

Sos hy [die vloer] droog is, kom die vrouens aan die kant maak. Nou word dit gesmeer en die huis raad ingedraa en die kooie wort spierwit oorgetrek, en wit doekies oor die tafeltjies.
Niemand wat dit bie gesien het nie, kan hom voorstel hoe deftig so ’n huis kan lyk nie. [4]

Soos Aucamp, het Spoelstra die netheid van die interieurs van die hartbeeshuise bevestig: “… hulle het hulle meubeltjies mooi daarin gerangskik en alles skoon en sindelik gehou.” [5] Volgens Spoelstra het die meubels uit stoele, tafels, rusbanke, wakiste en katels, bestaan: “… alles alleen eiehandige boermaaksel.” [6] In ’n spesifieke geval het ’n paar geskuurde kookpotte wat uit die kookhuis ingebring is, in die een hoek van die huis gestaan. [7]

In Erich Mayer se skets van die binnekant van ’n bootvormige hartbeeshuis noord van Brits (1927) (Fig. 2), word die huis deur middel van ’n horisontale paal met ’n gordyn in ’n slaap- en woonkamer verdeel. In die woonkamer teen die gordyn staan ’n riempiesbank met ’n stoel regs daarvan. Dit wil voorkom asof die stoel by ’n klaptafel staan wat deur die rand van die tekening afgesny word. Die dakmuur wat tot op ’n hoogte van ongeveer 0.9 of 1.2 meter (3 of 4 voet) gepleister is, het as pakplek vir ’n aantal kleiner voorwerpe gedien. [8]

Figuur 2. ’n Hartbeeshuis van binne gesien. Let op die gepleisterde muur (links) wat as pakplek vir kleiner items dien en die gordyn (agter) wat die huis in twee vertrekke verdeel. Die rusbank is ’n uiters eenvoudige meubelstuk wat deur die inwoners self vervaardig is (Erich Mayer, Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord-oos van Brits, tekening, 1927).
(Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 312.)

Voetnotas:

[1] L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux) (Pretoria, 1982), p. 23.

[2] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 419; C.C. de Villiers, Geslagregisters van die ou Kaapse families II (Kaapstad 1966), p. 656.

[3] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa, pp. 419-420.

[4] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ‘n vertolking van ‘n streek (Kaapstad, 1971), p. 103.

[5] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 73.

[6] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 73.

[7] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 72.

[8] Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 312, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noordoos van Brits (hardbieshuis), E. Mayer, 1927.