1914-REBELLIE – GRAF VAN GR ERASMUS

Die Rebellie van 1914 ontstaan nadat die Unie besluit om hulle steun aan Brittanje gedurende die Eerste Wêreldoorlog te gee. Manne soos Manie Maritz, Jan Kemp en hul manskappe het geweier om hul steun aan die Britte te verleen na die lang Anglo-Boereoorlog waar Brittanje die Afrikaner probeer uitwis het. Hulle kom in opstand teen die Unie en rebelleer.

Toe die prominente Boereleiers soos MT Steyn, Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Christiaan Beyers nie daarin slaag om Louis Botha en Jan Smuts met verskeie protesaksie van hul plan te laat afsien om Duits-Suidwes-Afrika binne te val nie, besluit Kemp om self na Maritz, wat reeds by Vanrooisvlei gerebelleer het, deur te breek. Sy krygsraad steun sy besluit en op 2 November 1914 begin sy epiese tog met 720 man vanaf Schweizer-Reneke na Duits-Suidwes-Afrika – ’n afstand van oor die 700 km met baie swak toegeruste manskappe. Siener van Rensburg was ook onder die 720 man op hierdie tog en het ’n beduidende rol gespeel om hulle te waarsku teen regeringsmagte wat van oraloor op hulle instroom in ’n poging om te verhoed om by Maritz aan te sluit. Kemp het nie wapens en perde vir al sy manne nie. Selfs die paar perde wat hulle het, vrek vanweë die geweldige hitte en tekort aan water.

Op 12 November 1914 bereik hulle Witsand en word Kemp se kommando aangeval deur regeringsmagte onder kolonel JA van Zyl en kaptein JP Frylinck. Die aanval word afgeweer maar ten koste van ’n hele paar rebelle se lewens. Om 16:00 die middag van 17 November vertrek hulle vanaf Witsand en bereik Kheis se Drif om 17:00 die middag van 18 November. Geweldig uitgeput, die meeste manskappe te voet en baie … baie dors. Toe hulle die laaste bult oorgaan, merk hulle die regeringstroepe daar lê en slaap. Die rebelle wil by die water uitkom en weereens volg ’n hewige skietgeveg waarin twee rebelle gewond en een gedood is (GR Erasmus).

Volgens Lokkie van Zyl se manuskrip “Plek van groot spore” het GR Erasmus op die aand van 18 November 1914 daar by Keisdrif gesneuwel toe hy noodlottig deur ’n vyandelike koeël getref is terwyl hy water by die rivier gaan drink het.

Soos uit Lokkie van Zyl se boek: “In sy dagboek skryf Barend J. van der Merwe: ‘Daar is klein Erasmus die aand doodgeskiet. Hulle het hom soos hy oor die klippe gelê het in die mond geskiet en agter by sy nek uit. Jaap Malan het hom op sy oskar gelaai en ons het hom die volgende dag eers begrawe. My bajonet het nog sy graffie gemaak.’ Hulle begrawe die enigste gesneuwelde nl. G.R. Erasmus langs die pad. Die ernstig gewonde R. Colyn word in die motorkar vervoer” (Erkenning MCE van Schoor).

Die graf van GR Erasmus (1914-rebel) wat tydens die voorval by Kheis gesneuwel het.

Ludick van Rensburg se pa, Oom Daantjie, is in 1906 gebore en sy oupa het vir die legendariese grond- en geldmagnaat Charles Newberry geboer. Hulle huis het aan die noordekant van die rivier naby Kheis se drif gestaan en was basies in die vuur van die vegtende groepe.

Oom Daantjie het vertel dat van die Unietroepe agter hul huis geskuil het en vir hulle gesê het om nie voor die vensters te staan nie.

Na die geveg het die Engelse ’n “katel” by die van Rensburgs geleen om hul gewondes en dooies te dra.

Volgens oom Daantjie is die gewone troepe sommer daar begrawe en glad nie diep genoeg nie, want dit het so gestink dat die familie na Sanddraai getrek het en eers in 1916 teruggetrek het. Die offisiere is by die begraafplaas by Charles Newberry se huis begrawe en die gewondes is in die nuutgeboude stalle vir sy stoetperde verpleeg en die wat agterna gesterf het, is by die offisiere begrawe.

Die grafte van Unietroepe en ook ’n gedenkteken vir die troepe wat gesneuwel het op Charles Newberry se plaas naby Kheisdrif.

Daar was egter tot nou toe nog nooit enige gedenkteken vir die graf van GR Erasmus, die jong man wat in die fleur van sy lewe, die grootste offer denkbaar gebring het, opgerig nie. Met die hulp van Ludick van Rensburg se aanduidings: “As jy die ou grondpad oor die ou brug na Griekwastad neem, tot by die Ou Gariep-pad se T-aansluiting, stap dan skuins regs van die T-aansluiting in die rigting van ’n ‘ruggie’, daar sal jy ’n klomp klippe kry. Dis die graf!” Te danke aan die aanwysings kon Wollie Burger (Groblershoop-gemeenskapslid) hierdie rebel se graf jare later weer opspoor.

Koördinate van rebel GR Erasmus se graf, 1914

28°50’20.05″S

22° 0’47.55″E