GEBOORTEPLEK VAN GENL. LOUIS BOTHA, DIST. GREYTOWN

Twee-en-sewentig km noordoos van Pietermaritzburg is die dorp Greytown geleë. Sowat vyf km buite die dorp, suid van die spoorwegoorgang en oos van die hoofpad vanaf Pietermaritzburg, staan ’n gedenksteen. Dit is in 1938 tydens die Simboliese Ossewatrek hier opgerig en onthul. Dit dui die plek aan waar die huis gestaan het waarin die bekende genl. Louis Botha, Kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (1900–1902), Eerste Minister van Transvaal (1906–1910) en die Eerste Premier van die Unie van Suid-Afrika (1910–1919) gebore is.

Die generaal se ouers het (volgens skriftelike verklaring deur sy oudste suster) op die plaas Onrust (tans Glenavon), 14 km van Greytown gewoon, waar al die kinders behalwe Louis gebore is. Hy is op 27 September 1862 gebore op die plasie Honingfontein wat ’n onderdeel was van die plaas Hartebeestvlakte en wat destyds aan C.H. Heine behoort het.

Die terrein waarop die huis gestaan het, is in 1928 deur ’n bekende Indiërinwoner van Greytown, M. E. Lakhi, gekoop en aan die munisipaliteit van Greytown geskenk wat dit aan die Historiese Monumentekommissie oorgedra het om dit vir die nageslag te bewaar.

(Geproklameer 1939)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 248-249.