
BEDANKINGSWOORD GERIG AAN MNR. HAROLD MACMILLAN, EERSTE MINISTER VAN DIE VERENIGDE KONINKRYK, 3 FEBRUARIE 1960
In die 1950′s het die gety vinnig teen Europese besetting van gebiede in Afrika en Asië gedraai. Blanke Suid-Afrikaners, veral Engelse, het veilig gevoel in die “wete” dat die magtige Britse Ryk hulle nooit in die steek sou laat nie. Die Britse premier, Harold Macmillan, het in 1960 ’n toer na al sy kolonies in Afrika gebring en dit in Suid-Afrika afgesluit. Hier het hy die beroemde “Winds of Change”-toespraak gehou, waarin hy gewaarsku het dat Brittanje nie in die pad van Afrika se bevryding sou staan nie. Dit was ook ’waarskuwing aan Suid-Afrika om sy binnelandse beleid te wysig na gelyke regte in een stelsel. Dr Verwoerd se antwoord was dat Suid-Afrika se beleid in lyn met die “winde” was, nie in weerstand daarteen nie. Maar sy groot aanspraak was dat geregtigheid ook aan blankes in Afrika verskuldig was, nie net aan swartmense nie. Die vertaalde teks volg hieronder:
Op 5 Januarie 1960 het die Britse Eerste Minister, vergesel van sy eggenote, lady Dorothy, Londen verlaat op ’n uitgebreide reis deur Afrika. Op 27 Januarie het die geselskap ter afsluiting van hulle reis vir ’n kort besoek aan Suid-Afrika op die lughawe Jan Smuts aangekom. Tydens sy verblyf in Pretoria, het die Britse Eerste Minister o.a. Meadowlands besoek waar hy deur duisende naturelle geesdriftig verwelkom is. Ook kon ’n vlugtige besoek aan Pietersburg en Noord-Transvaal by sy reisprogram ingepas word. Met uitroepe van “Pula” (reën) is hy ook in hierdie geweste verwelkom en met ’n luiperdvel deur hoofman Frank Maserumule oor sy skouers gehang, op simboliese wyse tot hoofman van al die stamme van Noord-Transvaal bevestig. Dit was by dieselfde geleentheid dat hoofman Chuene aan hom gesê het: “U sien nou self – ons leef nie in kettings nie!”
Op 2 Februarie het die Britse Premier en sy geselskap op die D.F. Malan-lughawe neergestryk waar hy deur die Eerste Minister persoonlik verwelkom is. Die dag daarna het ’n historiese gebeurtenis opgelewer toe die Eerste Minister van die Verenigde Koninkryk ’n gesamentlike vergadering van die twee Huise van die Parlement in die parlementêre eetsaal toegespreek het. Dit was by hierdie geleentheid wat hy sy bekende “winde-van-verandering”-toespraak gehou het – ’n toespraak waarop dr. Verwoerd in ’n bedankingswoord geantwoord het sonder dat ’n afskrif van mnr. Macmillan se toespraak – soos gebruiklik – vooruit aan hom beskikbaar gestel is.
Geagte Eerste Minister, u het aan my ’n aansienlike taak gestel. Ons het genoeg vraagstukke in Suid-Afrika sonder dat u kom om daaraan toe te voeg deur so ’n belangrike verklaring te doen en van my te verwag om u in ’n paar kort woorde te bedank.
Soos u wel deeglik weet, is daar twee maniere waarop ’n mens ’n mosie van dank kan benader. Die eerste is om feitlik elke mededeling wat u gedoen het, te herhaal en te beaam. Dit veronderstel natuurlik dat ’n mens alles wat u gesê het, kan onderskryf, wat ek nie in alle opsigte kan doen nie, maar dit veronderstel ook ’n ietwat vervelende herhaling wat ek nie aan u wil opdring nie. ’n Tweede moontlike metode is om kommentaar te lewer op elke punt wat u aan ons voorgelê het. Dit sou nog erger wees. Dit sou ’n woordestryd tussen u en my beteken by hierdie geleentheid wat sekerlik nie daartoe gepas is nie. Dus sal ek dit ook nie aan u opdring nie.
Al wat ek wil doen, is om u baie hartlik te bedank vir u koms na Suid-Afrika en die voorlegging aan ons hier van u sienswyse – filosofie, soos u dit sien – soos daardie filosofie veral van toepassing mag wees op die gebiede waarvoor u verantwoordelik is. Ek is bly dat u reguit gepraat het. Ons is ’n volk wat in staat is om met genoeë te luister na wat andere te sê het selfs al verskil hulle van ons. Ek dink dat dit ’n eienskap van beskawing is dat ’n mens in staat behoort te wees om sake met groot openhartigheid met vriende te bespreek en ten spyte van verskille, groot of klein, selfs daarna nog vriende te bly en te kan saamwerk in alles wat origens van onderlinge belang is.
Ek mag sê dat ons u uitkyk op die wêreldbeeld en die beeld van Afrika in daardie wêreld kan verstaan. Ek vind ook geen fout met die hoofdoelwitte wat u beoog nie. Suid-Afrika het dieselfde oogmerke: vrede, waartoe u ’n ontsaglike bydrae gelewer het en waarvoor ek u ook vandag graag wil bedank; die voortbestaan van Westerse idees, van Westerse beskawing; die inwerp van ’n mens se gewig in die skaal aan die kant van die Westerse volke in hierdie moontlik toenemende verdeling wat tans in die wêreld bestaan – daarin is ons met u. Die sien van Afrika as ’n moontlike ewewigsfaktor tussen die twee wêreldgroepe en die hoop om die verstand van die mens in Afrika in die bogemelde rigting te ontwikkel – dit kan ook van die grootste waarde wees in ’n mens se soektog na welwillendheid tussen alle mense en na vrede en voorspoed op aarde. Dit is bloot ’n kwessie van hoe om dit ten beste te volbring. Hoe kan Afrika gewin word? Daar stem ons soms nie ooreen nie.
Soos ek kan aflei, glo u dat die beleid wat ons vir Suid-Afrika nie net raadsaam ag nie maar wat, na ons glo en indien reg verstaan, ’n uitwerking op Afrika en op die wêreld behoort te hê, nie tot voordeel strek vir daardie selfde ideale waarna u strewe en ons strewe nie! Indien ons beleidsrigtings reg verstaan was, glo ons egter dat daar ingesien sou word dat wat ons probeer doen nie aan die nuwe rigting in Afrika vreemd is nie maar volkome in ooreenstemming daarmee is. Ons matig ons dit nooit aan om die toepassing van ander beleidsrigtings in die gebiede waarvoor u verantwoordelik is, te kritiseer nie, maar wanneer ons by ’n geleentheid soos die huidige, waar ons heeltemal openhartig is, krities daarna kyk, sien ons, anders as u, dat daardie beleidsrigtings groot gevare kan inhou. Juis die doel wat u beoog, kan deur hulle verydel word.
Die neiging in Afrika dat volke onafhanklik word en, terselfdertyd, die behoefte om aan almal reg te laat geskied, beteken nie net om regverdig teenoor die swartman van Afrika te wees nie maar ook om regverdig teenoor die witman van Afrika te wees. Ons noem onsself Europeërs maar in werklikheid verteenwoordig ons die blankes van Afrika. Hulle is die mense, nie net in die Unie nie maar dwarsdeur die merendeel van Afrika, wat beskawing hier gebring het, wat die huidige ontwikkeling van swart nasionalisme moontlik gemaak het deur aan die naturelle opvoeding te bring, deur hulle die Westerse lewenswyse te toon, deur nywerheid en ontwikkeling na Afrika te bring, deur hulle te besiel met die ideale wat Westerse beskawing vir homself ontwikkel het. Die witman wat na Afrika gekom het, miskien om handel te dryf en in sommige gevalle om die Evangelie te bring, het gekom om te bly en veral ons hier in die suidelikste deel van Afrika het so ’n aandeel hier dat dit ons enigste vaderland geword het. Ons het nêrens elders om heen te gaan nie. Ons het ’n land beset wat kaal was. Die Bantoes het ook na hierdie land toe gekom en sekere dele vir hulself beset. Dit is in ooreenstemming met die denkrigting van Afrika om aan hulle daar die volste regte toe te staan wat ook ons, net soos u, toegee dat alle mense behoort te hê. Ons glo in die verskaffing van daardie regte vir daardie mense in die volste mate in daardie deel van Suid-Afrika wat hul voorvaders vir hulself gevind en beset het. Maar ons glo ook in ewewigtigheid. Ons glo daarin om presies daardie selfde geleentheid binne die bereik van die witman te laat in die gebiede wat hy beset het, die witman wat dit alles moontlik gemaak het. Ons beskou onsself as ’n deel van die Westerse wêreld, ’n ware blanke staat in Afrika, nieteenstaande die moontlikheid daarvan om aan die Swartman in ons midde ’n volle toekoms toe te ken. Ons beskou onsself as onontbeerlik vir die blanke wêreld. As daar in die toekoms ’n verdeling moet wees, hoe kan Suid-Afrika ten beste sy rol speel? Dit moet sowel met die blanke volke van die wêreld saamwerk asook, terselfdertyd met die swart state van Afrika vriende maak op so ’n wyse dat hulle krag sal verskaf aan diegene wat stry vir die beskawing waarin ons glo. Ons is die skakel. Ons is wit, maar ons is in Afrika. Ons het verbindings met beide en dit lê op ons ’n besondere plig en ons besef dit.
Ek wil nie graag verder op hierdie saak ingaan nie, maar verseker u graag dat ons in die Christelike filosofie wat u onderskryf ’n filosofie vind wat ons ook wil volg. As ons metodes verskillend is, laat ons probeer om mekaar te verstaan en mag ons ten minste in die wêreld daarbuite daardie vertroue in ons opregtheid vind wat die grondslag van alle welwillendheid en ware begrip moet wees.
Graag bedank ek u daarvoor dat u na Suid-Afrika gekom het, nie om u aan ons beleid te verbind, nie om óf die middelaar óf die regter te wees in ons probleme of tussen die verskeie rassegroepe wat ons in hierdie land het nie. Ons dank u dat u ons kom besoek het eenvoudig omdat dit toon dat u ons vriend wil wees soos ons u vriend wil wees. Dit toon ook heel duidelik dat daar tans tussen ons en Groot-Brittanje die beste samewerking bestaan en in die toekoms behoort te bestaan en, hoop ek, sal bestaan oor die baie aangeleenthede waarin ons kan saamwerk. U het die ekonomiese betrekkinge genoem wat tussen ons twee lande bestaan. Ons weet dat hulle baie goed is; ons weet dat hulle baie ver strek. Ons, die lede van die huidige Regering, sou die laaste wees om in die geringste daaraan te wil afdoen. Ons wil graag ons voorspoed en u s’n deur goeie samewerking verhoog, en ek kan waarlik die wyse woorde onderskryf wat u geuiter het toe u gesê het: Niks kan daarby gebaat word om mekaar ekonomies, op politieke of teoretiese gebied, te probeer benadeel nie. Daar het ons ten minste ’n terrein van bedrywigheid waarop ons nie net eenders dink nie, maar waarin ons eweseer belang stel: die ekonomiese wêreld, die voorspoed van Suid-Afrika, die voorspoed van Groot-Brittanje, die voorspoed van Afrika. Ek verbind myself en my Regering tot die volste samewerking in die strewe na daardie voorspoed en geluk vir almal.
As u deur hierheen te kom niks meer gedoen het nie as om dit moontlik te maak dat die beginsel oral deurdring dat niemand iets goeds kan doen deur te probeer om iemand van wie se sienswyse hy verskil, seer te maak nie, maar dat slegs die goeie daarvan kan kom om aan andere goed te doen, dan sal u reis so ver suidwaarts, wel deeglik beloon wees.
Ek dank u uit die grond van my hart vir u teenwoordigheid in Suid-Afrika. Namens die Parlement van Suid-Afrika wens ek u ’n voorspoedige terugreis toe. Mag u in Groot-Brittanje minder probleme vind as dié waarmee ons, ongelukkig, hier te doen kry.