INGRID JONKER (1933-1965)
Sommige mense word eers legendes lank nadat hulle reeds oorlede is, omdat hul werk die toets van die tyd deurstaan het en geslagte nadat dit verskyn het, steeds toepaslik is.
Een daarvan is die legendariese digteres Ingrid Jonker, wie se gedig, “Die kind”, deur oudpresident Nelson Mandela in die Suid-Afrikaanse parlement voorgedra is.
Ingrid is op 19 September 1933 op ’n plaas naby Douglas in die Noord-Kaap gebore. Sy was die dogter van die Nasionale Party-politikus Abraham H Jonker en Beatrice Cilliers. Haar ouers se huwelik het nog voor haar geboorte verbrokkel; gevolglik het haar pa nooit aanvaar dat Ingrid sy kind was nie en sy, haar ma en haar suster het tot in 1937 in Douglas gewoon waarna hulle na Durbanville naby Kaapstad verhuis het. Sy het al kinderverse begin skryf toe sy ’n leerder aan Laerskool Die Strand was.
Ingrid se ma is op 6 Augustus 1944 oorlede en Ingrid, haar ouma en haar suster het in armoede in ’n losieshuis gewoon. Teen die einde van 1944 het haar pa haar kom haal, maar omdat die huis in Rondebosch in Kaapstad te klein vir die hele familie was, het Ingrid en haar suster privaat in Oranjezicht geloseer. Toe die gesin later na Plumstead verhuis het, het Ingrid haar skoolopleiding in Engels aan die Wynberg Girls High School voortgesit. Teen die einde van 1951 het sy matriek voltooi, met ’n onderskeiding in Afrikaans.
In Oktober 1955 besoek sy Johannesburg vir die eerste keer saam met die digter Pieter Venter en in Junie 1956 verskyn haar eerste digbundel, Ontvlugting. Pieter en Ingrid is op 15 Desember 1956 getroud en in April 1957 verhuis hulle na ’n woonstel in Seepunt. Hul dogter, Simoné, is op 1 Desember 1957 gebore.
In hierdie tyd raak sy bevriend met skrywers soos Jan Rabie, Breyten Breytenbach, Uys Krige en PJ Philander. Onder hul invloed maak sy kennis met werk van kontemporêre digters van Frankryk, Nederland, die VSA, Engeland en Suid-Amerika. Dit verryk en verdiep haar digkuns. In Mei 1959 word Pieter na Johannesburg verplaas. Sy ontmoet vir Bartho Smit, wat later haar digbundel Rook en oker sou uitgee.
Ingrid verlaat Pieter in Januarie 1960 en sy en Simoné keer terug na Kaapstad. Twee jaar later is sy en Pieter amptelik geskei. Daarna knoop sy verskeie verhoudings aan, onder meer met André P Brink en die Engelse skrywer Jack Cope, maar nie een van hulle was bereid om met haar te trou nie. In 1961 ondergaan sy ’n aborsie nadat sy uitgevind het dat sy Cope se kind verwag. In Julie daardie jaar word sy vir die eerste keer in ’n psigiatriese inrigting in Kaapstad opgeneem. Sy ontmoet vir André P Brink in April 1963 en hulle knoop ’n verhouding aan. In 1964 wen haar digbundel Rook en Oker die A.P.B-prys en sy gebruik hierdie prysgeld, asook ’n toelaag van die Anglo American Corporation om op die skip Windsor Castle na Engeland te vertrek. Aan boord van die skip ontmoet sy vir Laurens van der Post, met wie sy gereeld kontak sou hê. In dieselfde jaar besoek sy en Brink die Spaanse stad Barcelona, maar hul verhouding verbrokkel en sy word weens depressie in die St. Anne-hospitaal in die Franse hoofstad Parys opgeneem.
Later in die jaar hervat sy en Brink hul verhouding, maar in 1965 gaan hulle finaal uitmekaar. Sy ontmoet die jong Vlaamse skilder Herman van Nazareth, en hy word een van haar laaste minnaars. Haar gesondheid en geestestoestand verswak tot so ’n mate dat sy onder mediese toesig leef. Op 16 Julie 1965 hoor sy van Brink se verlowing aan Salomi Louw.
Op Maandag 19 Julie 1965 loop sy by Drieankerbaai in Kaapstad by die see in en haar lyk word gevind nadat sy doelbewus verdrink. Op Donderdag 22 Julie 1965 het Ingrid se begrafnisdiens plaasgevind wat deur haar pa gereël is. Aangesien Ingrid en haar pa al die jare ’n moeilike verhouding gehad het omdat hy haar altyd verwerp het, word haar skrywersvriende weggejaag. Hulle reël ’n aparte geleentheid waartydens haar gedigte voorgelees is. Benewens ’n huldeblyk deur Uys Krige het Jan Rabie ook die Ingrid Jonker-prys ingestel.
Verskeie kunstenaars het Ingrid se werk deur die jare getoonset. Een van haar eerste gedigte wat ’n trefferliedjie geword het nadat dit getoonset is, was “Toemaar die donker man”, wat Laurika Rauch op haar eerste album, Debuut, ingesluit het. Later het Laurika ook haar gedigte “Kabouterliefde” en “Begin somer” getoonset. In die 1980’s het Anneli van Rooyen se toonsetting van “Bitterbessie dagbreek” verskyn. Niemand het egter meer gedoen as Chris Chameleon om Ingrid se werk aan ’n nuwe geslag bloot te stel nie. In 2005 het die eerste van sy twee albums met toonsettings van Ingrid se gedigte, naamlik Ek herhaal jou, verskyn. Hierop verskyn toonsettings van “Die onverkrygbare”, wat ook in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit is, “Jy’t my gekierang”, “My pop val stukkend”, “Lied van die lappop” en “Korreltjie sand”, om ’n paar te noem. In 2011 het hy dit opgevolg met As jy weer skryf, waarop toonsettings van onder meer “Afskeid”, “Kabouterliefde” en “Waterval van mos en son” voorgekom het.
Dit is dalk nou al meer as vyftig jaar nadat Ingrid oorlede is, maar omdat sy haar tyd so ver vooruit was, is haar werk nog net so toepaslik soos destyds. Indien nie méér nie.
deur Daantjie Badenhorst