FREDERIK BURGERS (1907-1967)
Frederik Burgers word veral onthou vir sy verbintenis met Al Debbo. Hy het ’n ietwat potsierlike kort en fris voorkoms gehad, terwyl Debbo lank en maer was. Dié twee is intertyd as Suid-Afrika se eie “Laurel en Hardy” beskryf.
Dié twee grapjasse se jarelange verbintenis op die silwerdoek sluit in: Kom saam, vanaand, 1949, Hier’s ons weer, 1950, Alles sal regkom, 1951, Dis Lekker om te Lewe, 1957 en Fratse in die vloot, 1958.
Beskeie agtergrond
Frederik Louis Benjamin Burgers is in 1907 in Johannesburg gebore en was ’n mynwerker, vermaakkunstenaar, radio- en rolprentpersoonlikheid en orrelis.
Hy het op 21-jarige leeftyd as mynopmeter by Crown Mines begin werk en na ’n dienstydperk van 39 jaar by die mynmaatskappy afgetree, skaars ses maande voor sy dood.
As vyftienjarige het hy sy vader, wat ook ’n verhoogkunstenaar was, agter die gordyne met die beligting gehelp. Toe sy vader een aand siek word, moes hy eensklaps sy plek op die verhoog inneem.
Dit was egter vir hom nie ’n moeilike taak nie, aangesien hy die rol reeds uit sy kop geken het. Tussendeur moes hy nog die beligting ook behartig. Ten spyte daarvan was sy optrede so geslaagd dat daardie aand as die begin van sy akteursloopbaan beskou kan word.
SAUK
Hy was jare lank betrokke by die SAUK as komediant saam met De Wet Marais, en nog later saam met Al Debbo. Hy het gou bekend geword as grapmaker en was besonder gewild in die program Bog met Blou Maandag, waaraan hy deelgeneem het tot kort voor sy dood.
Hy het die land deurkruis as verhoogkunstenaar en in meer as 20 vollengte rolprente opgetree. Sy eerste rol was in 1946 in Die Wildsboudjie. Later was hy die hoofspeler in onder andere Piet Se Tante (1959) en En die Vonke Spat (1961).
Maar Frederik Burgers word veral onthou vir sy spel in vroeë rolprente soos Kom saam vanaand (1949) en Piet se tante (1959), en sy komedies saam met Al Debbo.
Burgers was toegewyd as kunstenaar en het ’n wye belangstelling in enige onderwerp onder die son gehad. Hy was ’n ywerige leser en was bedrewe in motorherstelwerk, houtwerk en fotografie.
Daarbenewens was hy briljant met syfers en besonder musikaal. Hy het klavier gespeel en Sondae as orrelis in sy tuisgemeente, die Gereformeerde kerk in Turffontein, opgetree.
Tydens ’n vlug vanaf Johannesburg na Durban op 16 Julie 1967 moes die vliegtuig noodgedwonge omdraai. Burgers het egter aan ’n hartaanval beswyk voordat die vliegtuig kon land.
Frederik Burgers was twee keer getroud en het drie kinders gehad.
deur Christof Greyling