
NASIONALE PARTY SE KLEURBELEID, 1948
Die Nasionale Party het in 1914 tot stand gekom om Afrikanerbelange te bevorder en Suid-Afrika eerste te stel. Die party het in 1924 aan bewind gekom, maar die ekonomiese krisis vanaf 1929 het hulle gedwing om koalisie met die Suid-Afrikaans Party van Smuts te sluit. ’n Groep onder dr. DF Malan wou dit nie aanvaar nie en het die republikeinse “Gesuiwerde” Nasionale Party gestig. Die verkiesing van 1948 was die eerste geleentheid om naby ’n oorwinning te kom en die party moes hom oor elke deel van die landsbestuur verantwoord. Mnr. Paul Sauer het ’n kommissie gelei om ’n “naturelle”-beleid te formuleer. Rasseskeiding is destyds deur alle partye voorgestaan, maar die NP sou dit meer doelgerig toepas. So is die woord “apartheid” gebore. As mens dit in konteks beskou, het dit gevestigde gedagtes herbevestig. ’n Opsomming daarvan het in die koerant Die Transvaler verskyn:
Houding ten opsigte van Naturel, Kleurling en Indiër
Opsomming van kommissie se verslag
Dr. D.F. Malan, Hoofleier van die Nasionale Party, het ’n kort opsomming van die kleurbeleid van die Party aan die pers oorhandig vir publikasie.
Die eerste deel, wat vandag verskyn, is ’n algemene oorsig van die beleid ten opsigte van naturelle, kleurlinge en Indiërs.
Die tweede deel, wat later apart gepubliseer word, handel meer bepaald oor die beleid van die Nasionale Party teenoor die kleurling.
Die volledige verslag van die H.N.P.-Kommissie oor kleursake is in die hande van die Partyleiding en hierdie kort opsommings is gegrond op die volledige verslag.
Die opsomming lui:
Ons het, wat betref beleid teenoor die nie-blanke bevolkingsdele, twee rigtinge in Suid-Afrika. Aan die een kant is daar die beleid van gelykstelling wat voorstaan gelyke regte vir alle beskaafde en ontwikkelende mense, afgesien van ras of kleur, binne dieselfde staatstruktuur en die geleidelike toekenning van die stemreg aan die nie-blankes namate hulle bevoeg word om van die demokratiese regte gebruik te maak. Aan die ander kant het ons die beleid van apartheid wat gegroei het uit die ervaring van die gevestigde blanke bevolking van die land, en gegrond is op die Christelike beginsels van reg en billikheid. Dit beoog die handhawing en beskerming van die blanke bevolking van ons land as ’n suiwer blanke ras, die handhawing en beskerming van die inheemse rasse-groepe as aparte volksgemeenskappe met die moontlikhede om in eie gebiede te ontwikkel tot selfversorgende volkseenhede en die aankweking van nasionale trots, selfrespek en wedersydse agting by die verskillende rasse van die land.
Ons kan alleen in een van twee rigtings beweeg: Of ons moet die weg van gelykstelling opgaan wat op die duur nasionale selfmoord vir die blanke ras sal beteken, of ons moet op die weg van apartheid beweeg waardeur elke ras se karakter en toekoms beskerm en veilig gemaak word met volle geleenthede van ontwikkeling en selfhandhawing binne sy eie gebied, sonder dat die belange van een in botsing kom met die belange van die ander en sonder dat die een die bestaan en ontwikkeling van die ander as ’n ondermyning of bedreiging vir homself aanvoel.
Algemene grondslag
Die Party aanvaar as hoogste taak en roeping van die staat die bevordering van die welvaart van Suid-Afrika en die geluk en heil van sy bevolking, blank en nie-blank, en beskou dat hierdie doel die beste verseker kan word deur die handhawing en beskerming van die blanke ras en aanvaar dit as fondamentele grondslag van sy beleid. Die Party onderneem derhalwe om die blanke ras behoorlik en doeltreffend te beskerm teen enige beleid, leerstelling of aanslag wat sy voortbestaan ondermyn of in gevaar stel. Tegelyk verwerp die Party enige beleid van onderdrukking en uitbuiting van die nie-blankes deur die blankes as strydig met die Christelike grondslag van ons volkslewe en onversoenbaar met sy beleid.
Die Party glo dat ’n besliste beleid van apartheid tussen die blanke ras en die nie-blanke rassegroepe en die toepassing van die apartheidsbeginsel ook ten opsigte van die nie-blanke rassegroepe die enigste grondslag is waarop die karakter en toekoms van elke ras beskerm en veilig gemaak kan word en waardeur elke ras gelei kan word om te ontwikkel ooreenkomstig eie volksaard, aanleg en roeping. Alle huwelike tussen blankes en nie-blankes sal verbied word.
In hul eie gebiede sal die nie-blanke rassegroepe volle geleentheid van ontwikkeling kry op elke gebied en sal hulle eie inrigtings en maatskaplike dienste ontwikkel waardeur die kragte van die progressiewe nie-blankes tot eie volksopbou ingespan kan word. Die landsbeleid moet so opgestel word dat dit die ideaal van uiteindelike algehele apartheid op ’n natuurlike wyse sal bevorder.
’n Permanente raadgewende liggaam van deskundiges oor nie-blanke-aangeleenthede sal in die lewe geroep word. Die Staat sal volle toesig oor die vorming van die jeug uitoefen. Die Party sal nie inmenging van buite en afbrekende propaganda na buite oor die rassevraagstukke van Suid-Afrika duld nie.
Die Party wil dat alle nie-blankes op ’n kragtige wyse gelei sal word om die Christelike godsdiens te maak die grondslag van hul lewe en sal die kerke in hierdie taak met alle moontlike hulp bystaan. Kerke en genootskappe wat die beleid van apartheid ondermyn en volksvreemde beskouinge propageer, sal hierin teengegaan word.
Beleid teenoor Kleurlinge
Plek van die Kleurlinge
Die kleurlinge neem ’n middelposisie tussen die blankes en die naturelle in. ’n Beleid van apartheid tussen blankes en kleurlinge en tussen naturelle en kleurlinge sal toegepas word op maatskaplike, residensiële, industriële en politieke gebied. Geen huwelike tussen blankes en kleurling sal toegelaat word nie Die kleurlinge sal op terreine waar hulle reeds gevestig is teen onbillike konkurrensie van die naturel beskerm word.
Politieke verteenwoordiging
Die kleurlinge sal in die Senaat verteenwoordig word deur ’n blanke verteenwoordiger wat op grond van sy kennis van kleurlingaangeleenthede deur die Regering benoem sal word.
Die huidige ongesonde stelsel wat toelaat die kleurling in Kaapland, saam met blankes as kieser geregistreer word en saam met blankes vir dieselfde kandidate stem, sal afgeskaf word en die kleurlinge sal deur drie blanke lede in die Volksraad verteenwoordig word. Hulle sal gekies word deur die Verteenwoordigend Kleurlingraad. Hierdie lede sal nie kan stem oor (1) kwessies van vertroue, (2) oorlogsverklaring en (3) verandering van politieke regte van nie-blankes nie. ’n Staatsdepartement van Kleurlingsake sal in die lewe geroep word.
In die Provinsiale Raad van Kaapland sal hulle deur drie blankes, gekies deur die Verteenwoordigende Kleurling-raad, verteenwoordig word.
Vir Kaapland sal ’n Verteenwoordigende Kleurling-raad in die lewe geroep word wat sal bestaan uit verteenwoordigers gekies deur die kleurlinge op ’n kiesafdelingsbasis met die huidige kwalifikasies vir stemreg, die hoof van die Departement van Kleurlingsake en verteenwoordigers deur die Regering benoem.
In hul eie gebiede sal die kleurlinge hulle eie rade met eie publieke dienste hê wat deur hulleself behartig sal word binne die raamwerk van die bestaande rade van hoër gesag.
Maatskaplike en welsynsdienste
Spesiale aandag sal gegee word aan die verskaffing van maatskaplike, mediese en welsynsdienste waarin die kragte van die kleurlinge self ingespan kan word en waar hulle geleer sal word om sover moontlik selfversorgend te word.
’n Stelsel van onderwys sal ontwerp word wat die vrugbaarste sal wees vir die kleurling en sy gemeenskap.
Beleid teenoor Naturelle
Algemene stelling
Die beleid sal beoog om sover moontlik die vernaamste etniese groepe en subgroepe van die Bantoe in hul eie onderskeie gebiede saam te trek waar elke groep kan ontwikkel tot selfversorgende eenhede.
Naturellegrond
Die beginsel van gebiedsegregasie tussen blankes en naturelle word in die algemeen aanvaar. Verdere grond onder die Wet van 1936 sal alleen op ’n oordeelkundige wyse en na deeglike ondersoek toegeken word, terwyl ’n kragtige beleid vir die herwinning van die grond en ’n veldtog teen roofbou gevoer sal word waarin die kragte van die naturel self ingespan sal word.
’n Liggaam van deskundiges vir die oordeelkundige gebruik van die grond in die naturellegebiede sal in die lewe geroep word.
Naturellereserwes
Die naturellereserwes moet die ware vaderland van die naturel word. Daar moet sy onderwysinrigtings staan en daar moet die betere dienste vir die naturel beskikbaar gestel word in teenstelling met die huidige beleid waar dit in die stedelike lokasies beskikbaar is. Prestige en aansien moet op alle terreine aan die naturelle in die reserwes gegee word, sodat hulle toonaangewend sal wees en as mondstukke van die Bantoe kan optree.
’n Groter verskeidenheid van ekonomiese bedrywighede sal geleidelik tot stand gebring word om groter produktiwiteit en stabiliteit aan die reserwes te bewerkstellig en vir hierdie doel sal plannekomitees in die lewe geroep word.
Naturelle in die stede
Die Party besef die gevaar van die toestroming van naturelle na die stede en onderneem om die blanke karakter van ons stede te bewaar en op ’n kragtige en doeltreffende wyse te sorg vir die veiligheid van persone sowel as eiendomme en die vreedsame lewe van die bewoners.
Alle naturelle moet in aparte woonbuurtes geplaas word en saamdromming in ons stedelike gebiede moet teengegaan word en die naturel in ons stedelike gebiede moet beskou word as in “besoeker” wat nooit op enige politieke regte of gelyke maatskaplike regte met die blanke in sy gebiede sal kan aanspraak maak nie. Die ontstamde getal naturelle moet bevries word. Daarna sal die koms van die naturelle na die stede en hul gereelde vertrek deur die staat op ’n landswye basis onder beheer geneem word in samewerking met die stedelike besture. Die naturellegebiede moet onder ’n doeltreffende uitstromingsbeheer geplaas word. Alle oortollige naturelle in ons stede moet teruggestuur word na die platteland of naturellereserwes vanwaar hulle gekom het.
Naturelle van die platteland en die gebiede sal in die toekoms alleen toegelaat word om as tydelike werkers na die blanke stede en dorpe te gaan en sal gereeld na verloop van hul dienskontrak na hul tuiste terug moet gaan.
’n Vereenvoudigde stelsel van identifikasie en doeltreffende kontrole sal toegepas word.
Blanke werkers
Die belange en werkgeleenthede van die blanke werker in die blanke gebiede sal beveilig en beskerm word. Die beginsel van apartheid sal in fabrieke, bedrywe en werksplekke sover prakties moontlik deurgevoer word.
Die Party is teen die organisasie van die naturelle in vakbonde en staan voor ’n stelsel waardeur die staat as voog, hul belange sal behartig.
Arbeid
’n Nasionale stelsel van arbeidsreëling en arbeidskontrole sal in die lewe geroep word met ’n sentrale arbeidsburo en ’n doeltreffende netwerk oor die hele land om vraag en aanbod so mobiel moontlik te laat fungeer en om die grootskaalse verkwisting van arbeid uit te skakel.
’n Behoorlike opname van die mannekrag en arbeidsbehoeftes sal gemaak word en ’n doeltreffende stelsel van verdeling van arbeid tussen die landbou, industrieë, myne en stede sal gemaak word. Deskundige ondersoek sal ingestel word na alle aspekte van arbeid en na die stelsel van trekarbeid.
Naturelle-onderwys
Die onderwysplan moet streng Christelik-Nasionaal wees en moet rekening hou met die behoeftes en ontwikkelingspeil van die massa naturelle. Dit moet karakter bou en die naturel vas anker in sy volkseiendomlike. Die staat moet deeglik toesig daaroor hou. Dit moet ressorteer onder ’n aparte afdeling onder die Departement van Naturellesake.
Die finansiering van naturelle-onderwys moet bereken word op die grondslag van sy kultuurpeil, sy ekonomiese drakrag en behoeftes en moet meer in verhouding tot sy bydrae tot die staatsinkomste wees as wat tans die geval is. Die naturel moet uiteindelik self sorg vir die uitgawes en beheer van sy onderwys onder toesig van die blankes.
Maatskaplike en welsynsdienste
Die naturel moet gelei word om sy eie maatskaplike, mediese en welsynsdienste in sy reserwes op te bou, waartoe sy eie kragte ingespan sal word.
Politieke verteenwoordiging
Bo en behalwe drie blanke Senatore wat die Regering volgens die grondwet benoem weens hul besondere kennis van naturellesake sal die naturelle in die Senaat verteenwoordig word deur vier blanke Senatore gekies deur die verskillende naturellerade en hierdie sewe Senatore sal ’n staande permanente komitee oor Naturellesake vorm.
Die Naturelleverteenwoordigers sal nie kan stem oor (1) kwessies van vertroue in ’n regering (2) oorlogverklaring (3) verandering van politieke regte van nie-blankes nie.
Die verteenwoordiging van naturelle in die Volksraad en Provinsiale Raad sal afgeskaf word.
Die Naturellesakekommissie sal vervang word deur ’n Kommissie van deskundiges oor Naturellesake. ’n Doeltreffende etnologiese instituut sal opgerig word.
Eie stelsel van bestuur
Die Party staan voor ’n eie stelsel van plaaslike bestuur min of meer op die grondlag van die Boenga-stelsel, waarby die naturellehoofde volledig ingeskakel word en wat tegelyk geleentheid bied aan die ontwikkelde naturel om hom vir eie volkdiens in te span. So ’n raad sal vir elke reserwe in die lewe geroep word wat kan ontwikkel tot aparte sentrale rade vir die verskillende etniese groepe en sub-groepe.
Aanvanklik sal hierdie rade onder leiding van blanke amptenare staan en sal hul beperkte wetgewende en administratiewe magte hê, maar namate verantwoordelikheid aan die dag gelê word om hulleself te bestuur in hulle eie gebiede, sal hul meer verantwoordelikheid kry, altyd egter onder toesig van die Uniestaat as voog. Die Naturelleraad sal afgeskaf word. In die stedelike lokasies sal rade gevorm word wat egter nooit tot selfstandige liggame kan ontwikkel nie. Onder hierdie stelsel kan die naturel uiteindelik uiting kry vir sy politieke aspirasies in die reserwes, instede van politieke regte in die blanke gebiede soos die Verenigde Party dit wil hê.
Administrasie
Die Departement van Naturellesake moet onmiddellik hervorm word ten einde hom aan sy dubbele roeping van opvoedende leiding en doelbewuste administrasie te laat beantwoord.
Alle naturellebelange en aangeleenthede moet onder die Departement van Naturellesake ressorteer met sub-departemente vir al die belangrikste afdelings.
Beleid teenoor Indiërs
Die Party huldig die beskouing dat die Indiërs ’n vreemde en uitheemse element is wat nie assimileerbaar is nie. Hulle kan nooit eie aan ons land word nie en hulle moet dus as ’n immigrantegemeenskap behandel word.
Die Party aanvaar as grondslag van sy beleid die repatriasie van soveel Indiërs as wat moontlik is, en stel voor ’n deeglike ondersoek na die uitvoerbaarheid van so ’n beleid op groot skaal. In samewerking met Indië en/of ander lande. Met die oog op die erns van die vraagstuk moet Suid-Afrika gewillig wees, indien nodig om groot finansiële opofferings vir die bereiking van hierdie doel te maak.
Geen Indiër-immigrante sal in die land toegelaat word nie.
Solank as wat Indiërs nog in die land is, sal ’n besliste beleid van apartheid tussen blankes en Indiërs op alle terreine toegepas word sowel as tussen die Indiërs en ander inheemse nie-blanke groepe sover moontlik.
Die Wet op Grondbesit van Asiate en stemreg aan die Indiërs van 1946 sal dadelik in hersiening geneem word en –
(a) Geen verteenwoordiging sal aan Indiërs gegee word in die wetgewende liggame van die land nie.
(b) Indiërs sal gevestig word in aparte gebiede en hulle sat nie toegelaat word om in blanke gebiede te woon of vaste eiendomme te besit nie.
(c) Blankes sal nie toegelaat word om in Indiër-gebiede te woon nie, handel te drywe of vaste eiendomme te besit nie.
(d) Sover moontlik sal die beleid van apartheid deurgevoer word ten opsigte van die Indiërs en die inheemse rasse.
(e) Behoorlike vergoeding sal uitbetaal word vir eiendomme wat in die blanke of Indiërgebiede onteien word.
Fasiliteite om handel te drywe buite eie gebiede en veral in blanke gebiede sal drasties ingekort word.
Geleidelik sat Indiër-handelaars in naturelle-gebiede of lokasies moet verdwyn. Hierdie reg moet vir die naturelle self verseker word.
lnter-provinsiale beweging van Indiërs moet doeltreffend aan bande gelê word.
Die Vrystaat moet sy beskerming teen Indiërs behou.
Kaapland moet behoorlik teen die indringing van Indiërs beskerm word, veral wat betref besit van vaste eiendom en die handel.
Gesinstoelae aan Indiërs moet afgeskaf word.
Die Party sal drasties optree teen Indiërs wat die nie-blanke rasse teen die blankes opstook.
H.N.P.-BeIeid t.o.v. Kleurlinge
Apartheid waarborg ’n goeie verhouding
Volksregistrasie moet gehou word
Die beleid van die Nasionale Party ten opsigte van kleurlinge is vir publikasie vandag
vrygestel. Hieronder volg ’n opsomming daarvan:
Die kleurlingbevolking van Suid-Afrika tel 900,000 daarom sal enige regering, wat werklik Nasionaal is, wel deeglik rekening moet hou met die belange van die kleurling op ekonomiese, maatskaplike en politieke gebied.
Die Nasionale Party se beleid van apartheid waarborg ’n goeie verhouding tussen blankes en kleurlinge.
Ekonomiese, sosiale en politieke wrywing tussen die blanke en die kleurling moet uitgeskakel word.
Die blanke man moet sy posisie van voogdyskap bly behou. Die kleurling andersyds moet geleentheid kry om geestelik sowel as stoflik te ontwikkel.
Apartheid
(a) Die Nasionale Party is bereid om die kleurling se ontwikkeling te bevorder, maar dan op grondslag van sekere beginsels, waardeur apartheid op maatskaplike, politieke en sover doenlik industriële gebied tussen blanke en kleurling moet verseker word.
(b) Daar moet ook sover prakties moontlik apartheid wees tussen kleurlinge, Indiërs en naturelle.
(c) Veral moet die kleurling beskerm word teen onbillike kompetisie van die naturel en die kleurling moet weens sy aanvaarding van die Europese lewenswyse beskou word as ’n bevoorregte.
Volksregistrasie
Ten einde apartheid te kan toepas sal deur middel van ’n volksregistrasie bepaal word wie tot die blanke groep, die kleurlinggroep; die naturellegroep en die Indiërs behoort.
Staatsdepartement vir Kleurlingsake
’n Staatsdepartement vir kleurlingsake moet in die lewe geroep word met onderafdelings soos byvoorbeeld vir volkswelsyn. In so departement kan kleurlinge ook as beamptes aangestel word.
Verteenwoordigende Raad: ’n Verteenwoordigende kleurlingraad moet in die lewe geroep word met kleurlinge as lede, verkies op ’n kiesafdelingsgrondslag. Die kiesers sal nog sekere kwalifikasie moet hê.
Op die raad sal ook dien die hoof van die departement van kleurlingsake en ander persone deur die Regering benoem.
Verteenwoordiging in die Parlement: Die verteenwoordigende kleurlingraad sal drie blanke persone kies om die stemgeregtigde kleurlinge in die Volksraad te verteenwoordig. Hulle sal die gewone regte van lede hê, behalwe dat hulle nie sal kan stem of deelneem aan debatte wat handel oor die kwessie van vertroue in die Regering of oor dié van verklaring van oorlog nie en ook nie oor die verandering van politieke regte nie. Kleurlinge sal nie langer vir dieselfde kandidate as blanke kiesers stem nie.
Die kleurlinge sal in die Senaat verteenwoordig word deur ’n blanke verteenwoordiger wat op grond van sy kennis van kleurlingaangeleenthede deur die Regering benoem sal word.
Provinsiale Rade
In Kaapland sal ’n verteenwoordigende kleurlingraad ook drie blankes aanwys as lede van die Provinsiale Raad. Kleurlinge sal nie verder regstreeks stem vir of sitting hê in die Provinsiale Raad nie.
Ook wat plaaslike rade betref, sal daar op die grondslag van apartheid verteenwoordiging verleen word.
Aparte woongebiede
(a) Aparte woonbuurtes vir blankes en kleurlinge moet met geduld en trapsgewyse tot stand gebring word.
(b) Daar moet ook aparte woonbuurtes vir kleurlinge en naturelle geskep word.
(c) By die vasstelling van aparte gebiede moet die staat geldelike verliese dra deur kompensasie of koop van eiendomme.
(d) Die Staat moet toesien dat woonbuurtskeiding algemeen deurgevoer word.
Dis die Staat se plig om toe te sien dat behoorlike behuisingsgeriewe aan blankes verskaf word. Maar ook die behuisingstoestande van die kleurling moet behoorlik verbeter word in sowel die stede as op die platteland moet sub-ekonomiese sowel as ekonomiese uitgevoer word.
Handel en bestuur
(a) Die toekenning van handelslisensies in kleurlinggebiede moet onder strenge beheer geplaas word, ten einde uitbuiting te voorkom.
(b) Binne die kleurlinggebiede moet die handel sover doenlik, en waar wenslik op
koöperatiewe grondslag, in die hande van kleurlinge gelaat word.
Maatskaplike reëlings
(a) Gemengde huwelike tussen blankes en kleurlinge moet verbied word.
(b) Kleurlinge moet opgelei werd as sosiale werkers, en verpleegsters vir hospitaal- en distriksverpleging, vir diens onder hul eie mense.
(c) In stedelike gebiede behoort spesiale opleiding gegee te word vir huisbediendes en kinderoppassers.
(d) Behoorlike gesondheidsdienste moet verstrek word onder ’n sentrale gesondheidsdiens ook aan die kleurlinge.
(e) Aparte parke en ontspanningsoorde vir kleurlinge veral by strande moet tot stand gebring word.
Reisgeriewe
In die verkeerswese soos op treine moet apartheid streng toegepas word tussen blankes en kleurlinge.
Wat lang ritte op treine betref, behoort kleurlinge en naturelle sover doenlik geskei te word. Voorsiening behoort gemaak te word vir beter aparte dienste aan kleurlinge op treine.
Onderwys
(a) ’n Behoorlike stelsel van plaasonderwys moet ingevoer word ten einde kleurlinge te bekwaam vir aanpassing by die arbeid op plase.
(b) Die Onderwys van die kleurling moet aanpas by sy aard en karakter en hom voorberei om in sekere uitgesoekte bedrywe bekwaam te word as vakman.
(c) ’n Universitêre inrigting vir die Hoër onderwys van kleurlinge moet in die lewe geroep word, waar kleurlinge aparte opleiding in professionele rigtings kan ontvang vir diens onder hul eie mense.
Die Kommunisme onder kleurlinge moet beveg en uitgeroei word.
Dit kan geskied deur die skepping van beter lewenstoestande en strenge wetlike maatreëls.
As die beginsel van apartheid tussen blankes en kleurlinge eers eenmaal deur albei rasse aanvaar en uitgevoer word, sal rassevrede baie gouer ’n werklikheid word.
Die Nasionale Party glo in apartheid en rassevrede.
Bron: Die Transvaler, 29 en 30 Maart 1948.