NICO DIEDERICHS (1903-1978)
Dr. Nico Diederichs was ’n Suid-Afrikaanse politikus en minister wat Suid-Afrika se derde voltydse staatspresident geword het.
Nicolaas Johannes Diederichs is op 17 November 1903 op Ladybrand in die Vrystaat gebore en het op Boshof gematrikuleer. Daarna het hy aan die Grey Universiteitskollege in Bloemfontein gestudeer en sy BA- en MA-graad in filosofie en politieke wetenskap met lof behaal. Daarna het hy verder aan die universiteite van München en Keulen in Duitsland en die Universiteit van Leiden in Nederland gaan studeer; by laasgenoemde universiteit het hy sy doktorsgraad in lettere en filosofie behaal.
Hy was van 1938 tot 1942 voorsitter van die Broederbond en na die Ekonomiese Volkskongres van 1939 is hy verkies as voorsitter van die Reddingsdaadbond, wat na die ekonomiese opheffing van die Afrikaner gestreef het. Hy het eers in die ouderdom van 45 jaar tot die politiek toegetree toe hy tot Nasionale Party- (NP-) parlementslid vir die kiesafdeling Randfontein verkies is. Toe dr. Hendrik Verwoerd in 1958 tot Suid-Afrika se eerste minister verkies is, het Diederichs die portefeulje van ekonomiese sake behartig, terwyl hy van 1961 tot 1964 ook minister van mynwese was. Op 8 April 1964 moes hy ’n betoging teen apartheid by ’n wêreldhandelskonferensie in die Switserse stad Genève trotseer, en altesaam tagtig afvaardigings het die konferensie verlaat toe hy ’n spreekbeurt gekry het.
In 1967 is hy as minister van finansies aangestel, en in hierdie tyd was hy die eerste kanselier van die nuutgestigte Randse Afrikaanse Universiteit. Hy was van 1948 tot 1958 parlementslid van die Randfontein-kiesafdeling, en het Losberg van 1958 tot 1974 verteenwoordig. Sy laaste kiesafdeling was Overvaal, wat hy van 1974 tot 1975 verteenwoordig het.
Toe mnr. Jim Fouché se ampstermyn as staatspresident in April 1975 verstryk het, is dr. Diederichs in sy plek tot derde voltydse staatspresident verkies. Hy het hierdie amp beklee totdat hy op 21 Augustus 1978 in die ouderdom van 74 jaar aan ’n hartaanval oorlede is.
deur Daantjie Badenhorst