DIE OSSEWA

Die ossewa is een van die bekendste simbole in die Afrikaner se kultuur. Baie kultuurorganisasies het ’n ossewa of ’n wawiel as deel van hul organisasie se simboliek. Enersyds was die wawiel sterk genoeg om dit te dra wat vir die Voortrekkers kosbaar was, maar andersyds ook sterk genoeg om nuwe spore oor berge, vlaktes en deur riviere te trap. Die ossewa was vir die Voortrekkers ’n huis, maar ook beskerming in die veld. Talle idiomatiese uitdrukkings in Afrikaans hou verband met ’n ossewa. Die foto hiernaas is van die tweede oudste ossewa in die land wat ook ten tye van die Groot Trek gebruik was. Die ossewa kan in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg besigtig word.