VOLKSARGITEKTUUR 12: HOE HET DIE VOORTREKKERS ’N WIGVORMIGE HARTBEESHUIS GEBOU? DEEL I: DIE RAAMWERK VAN DIE KAPSTYLHUIS

Soos in Europa het daar in Suid-Afrika drie basiese dakraamtipes by wigvormige dakhuise voorgekom, naamlik die gaffelsuilkonstruksie, die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie en die kapstylhuis (sparkapkonstruksie) (Fig. 1c). Slegs laasgenoemde konstruksie het as ’n kapstylhuis bekend gestaan. [1]

Figuur 1. a Die gaffelsuilkonstruksie, b die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie en c die kapstylhuis (spardak).
(Tekening: H. Raath)

Die kapstylhuise by Groenland, naby Kranskop in Natal was van 3,1 tot 3,7 meter (10 tot 12 voet) breed en 6,16 tot 9,1 meter (20 tot 30 voet) lank. [2]

Volgens GH van Rooyen se skets in Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, het die dak uit ses kappe bestaan [3] (Fig. 2). Die huis is ongeveer 6,1 meter (20 voet) lank en die kappe 1,2 meter (4 voet) uitmekaar gespasieer. ’n Huis van 9,1 meter (30 voet) lank, sou dus uit agt of nege kappe bestaan het. [4]

Figuur 2. Die kapstylhuise by Groenland, naby Kranskop in Natal.
(Uit: G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II (Bloemfontein, 1940), pp. 178-180.)

Omdat ’n kapstylhuis direk op die grond gebou is, het die grond die uitwaartse druk van die kapstyle wat in die grond ingeplant was, teengewerk. In die geval van ’n gewone muurhuis, het ’n bindbalk die funksie verrig.

Die kapstyle (sparre) is bo paarsgewys met ’n pen-en-gat verbind. Na voltooiing van die kappe is die dwarslatte met rieme aan die kapstyle vasgemaak, waarna die hanebalke aangebring is. [5] Daar is van ’n bykomende versterking, naamlik windlatte, gebruik gemaak wat die huis teen sterk wind bestand gemaak het, vandaar die naam. ’n Windlat is ’n lat wat aan die binnekant van die kappe diagonaal vanaf die eerste kapstylvoet by die voorgewel oor die kapstyle tot by die laaste kapstylkop by die agtergewel strek. ’n Tweede windlat het aan die ander sy van die huis vanaf die kapstylvoet by die agterste gewel diagonaal tot by die kapstylkop van die voorste gewel, gestrek [6] (Fig. 2). Die windlatte is, soos die dwarslatte, waarskynlik met rieme aan die kapstyle vasgemaak.

Kapstylhuise met geronde ente kom in Puntjie, distrik Riversdal voor, waarvan die dakkonstruksie uit agt of meer pare eweredig gespasieerde kapstyle bestaan. [7] Aanvanklik is daar van die blomstele van die garingboom (Agave americana) gebruik gemaak. [8] Tans word bloekompale uit die omgewing vir die doel gebruik. [9]

Die raamwerk verskil van dié van die huise in Groenland, Natal, in dié opsig dat die geronde ente elk uit vier radiale style bestaan wat bo by die nok bymekaar kom (Fig. 3). In Walton se Cape Cottages verskyn ’n foto van die dakraamwerk van ’n kapstylhuis by Puntjie waarvan die raamwerk van die geronde ente uit ’n sentrale styl bestaan wat van die grond na die nok van die laaste kap strek, met twee kortstyle aan beide kante hiervan [10] (Fig. 4). Of albei tipes konstruksie gelykertyd voorgekom het, en of die een die ander opgevolg het, is nie duidelik nie.

Figuur 3. Walton se tekening van die raamwerk van ’n kapstylhuis by Puntjie.
(Uit: Lantern 11(1), Julie-September 1961, p. 8.)

 

Figuur 4. Die dakkonstruksie van ’n kookhut by Puntjie.
(Uit: J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995), p. 63.)

Dwarslatte van spaansriet (Arundo donax), wat in welige bosse groei, is horisontaal aan die kapstyle met biesietou (Cyperus textilis) vasgebind.  [11] Die raamwerk is nou voltooi en kan die dakbedekking ’n aanvang neem.

Voetnotas:

[1] J. Walton, Homes of the early South African stock farmers, Africana Notes and News (8)2, March 1951, pp. 52-53.

[2] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II (Bloemfontein, 1940), pp. 178-180.

[3] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, p. 179.

[4] J. Walton, Homes of the early South African stock farmers, Africana Notes and News (8)2, March 1951, p. 9.

[5] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, pp. 178-179.

[6] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, p. 179; J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 9.

[7] Puntjie, distrik Riversdal: kapstylhuise, besoek 1990-10-12; J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995), p. 61; J. Walton, Homes of the early South African stock farmers, Africana Notes and News (8)2, March 1951, pp. 8-9.

[8] Mondelinge mededeling (aan mej. R. Marais): mnr. Sullivan, Stanford, 1982; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[9] E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 61; Puntjie, distrik Riversdal: kapstylhuise, besoek 1990-10-12; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[10] J. Walton, Cape cottages, pp. 61 & 63.

[11] E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 60; Mondelinge mededeling (aan mej. R. Marais): mnr. Sullivan, Stanford, 1982; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.