1 APRIL
GEBEURE
1572 – Slag by Den Briel
In die 80-jarige Oorlog (1568 tot 1648) tussen Nederland en Spanje het die Watergeuse onder leiding van Jan Coppelstock ’n verrassende oorwinning oor die Spaanse vloot onder Alva behaal by die Slag van Den Briel. Dit het ’n jubelkreet deur Nederland laat weergalm: “Die eerste dag van April, verloor Alva sy bril.” (Den Briel.) Hierdie “gekkedag” word vandag nog in Nederland herdenk.
1803 – Van Jaarsveld-opstand vrygelaat
Al die gevangenis van die sogenaamde “Van Jaarsveld-opstand” word uit die Kasteel vrygelaat. Die Van Jaarsveld-opstand het sy oorsprong in Graaff-Reinet gehad. Burgers van die omgewing was nie gediend met die landdros nie en wou van hom ontslae raak. Van Jaarsveld, leier van die opstand, was op ’n klag van vervalsing in hegtenis geneem. Enkele Burgers het probeer om Van Jaarsveld te bevry en so was dit dan die begin van die Van Jaarsveld-opstand. Lede van die opstand, asook diegene wat Van Jaarsveld wou bevry, was gedwing om oor te gee. Na die groep se inhegtenisname was hul sowat 15 maande lank in die Kasteel onder haglike omstandighede aangehou. Van Jaarsveld het in die Kasteel te sterwe gekom. Diegene wat saam met hom was, is op hierdie dag vrygelaat.
1841 – Daniel Lindley as eerste leraar
Eerw. Daniel Lindley word as eerste leraar van die NG gemeente Pietermaritzburg bevestig.
1876 – Die begin van die Graaff-Reinetse Onderwyskollege
In sy wese was die stigting van die “Midland Ladies’ Seminary” op 1 April 1876 die voorloper van onderwysersopleiding op Graaff-Reinet, weliswaar was die opleiding op losse voet, maar sedert 1894 was sake veel planmatiger, nadat die “Seminary” ’n afsonderlike “Training Department” gestig het. Die kollege het egter sy huidige beslag gekry toe sentralisasie die totstandkoming van die Graaff-Reinetse Opleidingskool met ingang 1917 genoodsaak het. Die afgelope sewe dekades speel die kollege ’n leidende rol in die plaaslike kultuurlewe van die Afrikaner; trouens, die Afrikaanse Kultuurvereniging is juis een van die eerste verenigings wat spontaan by die studente ontstaan het. Reeds in 1923 bied die vereniging ’n geslaagde opvoering van CJ Langenhoven se Die Hoop van Suid-Afrika aan, en ook op die gebied van sang en musiek word pragtig gepresteer.
1873 – Die Kerkblad
Die amptelike tydskrif van die Gereformeerde Kerk, Die Kerkblad, verskyn op 1 April 1873 vir die eerste keer as De Maandbode met ds. Jan Lion-Cachet as redakteur.
1902 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Boschmankop
Die geveg by Boschmankop, sowat 29 km suid van Springs vind plaas. ’n Britse mag onder bevel van kol. Lawley loods ’n verrassingsaanval op die magte van genls. Viljoen en Alberts. Kol. Lawley het ’n mag van 312 man en die weg is aangedui deur 40 “National Scouts”. Viljoen en Alberts se magte word wel onverhoeds gevang, maar herstel gou van die skrik. Hul loods ’n verwoede berede teenaanval en skiet uit die saal dat die aarde dreun. Aan Britse kant val 77 man waarvan een ’n “National Scout” is. Aan Republikeinse kant val 33 man waarvan die meeste gewond was.
1902 – Anglo-Boereoorlog: Blokhuise
Generaals Maritz, Van Deventer en Bouwer val enkele blokhuise by Springbok aan. Generaal Van Deventer slaag daarin om een blokhuis te beset, en kort na hom ook genl. Maritz. Die derde blokhuis kon egter nie ingeneem word nie.
1913 – Suid-Afrikaanse Polisie kom tot stand
1917 – Stigting van die Teologiese Fakulteit aan die Transvaalse Universiteitskollege
’n Groot ideaal van die Nederduitsch Hervormde Kerk is op die dag verwesenlik toe hy sy eie predikante aan die Teologiese Fakulteit aan die destydse Transvaalse Universiteitskollege (vandag die Universiteit van Pretoria) kon begin oplei.
1922 – Suid-Afrikaanse Seediens
Suid-Afrika se eerste staandemag-vloot kom tot stand en staan bekend as die Suid-Afrikaanse Seediens.
1971 – Perskor (Perskorporasie van Suid-Afrika) kom tot stand
Voortrekkerpers Beperk en Afrikaanse Pers (1962) Beperk het op 1 April 1971 saamgesmelt en die Perskorporasie van Suid-Afrika gevorm, wat in Johannesburg Die Transvaler en Die Vaderland en in Pretoria Hoofstad en Oggendblad uitgee, benewens streekblaaie en tydskrifte. In daardie opsig het dit ’n magtige organisasie geword wat uit Afrikaner-ideale verrys het.
1976 – Richardsbaai-hawe
Die hawe aan die Natalse noordkus, Richardsbaai, word in gebruik geneem.
1990 – Transnet gestig
GEBOORTES
1859 – Gideon Retief (GR) von Wielligh, skrywer († 9 Augustus 1932)
Gideon Retief von Wielligh is op 1 April 1859 in die distrik Paarl gebore. Hy ontvang sy eerste skoolonderrig van ’n Hollandse matroos, Jan Balt. Op 11-jarige ouderdom gaan hy saam met sy vader op ’n tog na Boesmanland. Daarna studeer hy aan die Paarlse Gimnasium waar hy op 18-jarige leeftyd sy landmeterseksamen aflê. In 1884 word hy aangestel as landmeter-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Op ouderdom sestien word hy lid van die Genootskap van Regte Afrikaners en van 1876 af lewer hy bydraes tot die 𝘋𝘪𝘦 𝘈𝘧𝘳𝘪𝘬𝘢𝘢𝘯𝘴𝘦 𝘗𝘢𝘵𝘳𝘪𝘰𝘵. Hy is een van die getrouste medewerkers van 𝘖𝘯𝘴 𝘒𝘭𝘺𝘯𝘵𝘫𝘪 en 𝘖𝘯𝘴 𝘛𝘢𝘢𝘭.
Von Wielligh neem ’n besondere plek in in ons letterkunde, want hy oorspan die Eerste en die Tweede Tydperk. Sy sketse verskyn veral gedurende die Eerste Tydperk, terwyl sy romans gedurende die Tweede Tydperk die lig sien. Sy benadering verander egter nie – hy bly die Patriot-skrywer wat op geselstoon wil vermaak, stig en onderrig.
Sy boeke is druk gelees, veral deur die minderbevoorregtes tot wie hy hom gerig het. Sy bekendste boeke is 𝘉𝘰𝘦𝘴𝘮𝘢𝘯𝘴𝘵𝘰𝘳𝘪𝘦𝘴 (1919-21), 𝘋𝘪𝘦𝘳𝘦𝘴𝘵𝘰𝘳𝘪𝘦𝘴 (1922), 𝘎𝘩𝘸𝘦𝘯𝘯𝘪𝘦 𝘉𝘢𝘳𝘯𝘷𝘦𝘭𝘥 (1922), 𝘑𝘢𝘬𝘰𝘣 𝘗𝘭𝘢𝘵𝘫𝘪𝘦 (1918), 𝘕𝘪𝘮𝘳𝘰𝘥 𝘚𝘦𝘦𝘭𝘪𝘯𝘨 (1921) en 𝘋𝘪𝘦 𝘷𝘳𝘰𝘶𝘦𝘯𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘝𝘳𝘪𝘯𝘥𝘦𝘯𝘣𝘶𝘳𝘨 (1924).
STERFTES
1908 – Alida Margaretha Jacoba Badenhorst (Tant Alie van Transvaal), Afrikaanse patriot en skryfster († 15 Desember 1867)
1915 – Catharina Felicia van Rees, skryfster van die Volkslied van die Zuid-Afrikaansche Republiek (* 22 Augustus 1831)
Catharina Felicia van Rees is op 22 Augustus 1831 op Zutphen gebore. Omstreeks 1855 was sy lid van ’n kring musiserende jong mense van Utrecht, waartoe ook die Kaapse teologiese student Thomas Francois Burgers destyds behoort het. Hul liefde vir musiek het tot ’n lewenslange vriendskap gelei. Sy was nie net ’n begaafde komponiste nie, maar ook die outeur van ’n groot aantal artikels en boeke. Haar bekendste werk as komponiste is “De Transvaalsche Volkslied”, in 1875 in Bonn geskrywe en getoonset op versoek van Staatspresident Burgers. Op 14 Oktober het sy die volkslied aan hom oorhandig, waarna dit op 7 Januarie 1876 op Arnhem in die openbaar gespeel en later in dieselfde jaar deur die Transvaalse Volksraad as Volkslied aanvaar is. Van toe af het dit naas die Vierkleur – ’n besondere plek in die lewe van die Boerevolk verower en ook in Westerse lande bekendheid verwerf, soms in vertaalde vorm.
1940 – Frederickus Jacobus Rompel, joernalis en parlementêre verslaggewer van De Volksstem in die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR) (* 7 Januarie 1871)
Fredericus Jacobus Leonardus Rompel, ’n gebore Nederlander, het in 1895 na Suid-Afrika gekom en parlementêre verslaggewer van De Volkstem geword voordat hy in 1900 as oorlogskorrespondent in Bloemfontein gevang is. Na sy vrylating keer hy terug na Nederland en beywer hom vurig vir die saak van die Boere. In 1912 keer hy terug na Suid-Afrika, sluit by dieselfde koerantredaksie aan, word oorgeplaas na Die Burger en skryf onder andere die volgende werke: Uit den Tweede Vrijheidsoorlog, Marthinus Theunis Steyn en Van alle kante. Hy is op 1 April 1940 in Kaapstad oorlede.
1958 – Prof. Gabriël Gideon (Gawie) Cillié, opvoedkundige en kultuurleier (* 10 September 1870)
Prof. Gabriël Gideon (Gawie) Cillié was ‘n astrofisikus, orrelis, koordirigent, komponis van Afrikaanse gewyde musiek, eertydse voorsitter van die FAK en voorsitter van die konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch. Hy het waarskynlik die grootste enkele bydrae gelewer ter bevordering van die kerkmusiek in Suid-Afrika. Sy bydrae as vertaler, verwerker, komponis en koordirigent het gelei tot ‘n hersiening en uitbreiding van Afrikaanse liturgiese musiekbronne.
2012 – Milla Louw, Afrikaanse aktrise en stemafrigter (* 5 Oktober 1922)
Milla Louw was ’n aktrise en stemafrigter wat van die grootste name in die plaaslike bedryf opgelei het. Sy het onder andere akteurs soos Marius Weyers, Wilna Snyman en Ivan Zimmermann afgerig.
2013 – Karen Muir, swemwêreldrekordhouer (* 16 September 1952)
Karen Muir was ’n swemmer. In 1965 word sy die jongste persoon ooit om ’n wêreldrekord in ’n sportitem op te stel.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.