
23 AUGUSTUS
GEBEURE
1661 – Toekenning van plase beperk
Die Here XVII beveel Jan van Riebeeck om die toekenning van plase aan die Kaap te beperk tot beamptes wat wou boer, om die aantal Vryburgers so min as moontlik te hou.
1765 – Eerste erediens
Die eerste erediens word in die ou Groote Kerk in Kaapstad gehou. Die kerk is in 1678 gebou. Willem Adriaan van der Stel het die hoeksteen vir die kerk gelê. Dit is in 1841 deur die huidige gebou vervang.
1820 – South African Bible Society gestig
Die South African Bible Society, voorloper van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika word onder die leierskap van Rufane Donkin gestig.
1833 – Slawerny afgeskaf
Slawerny word in die Britse kolonies, insluitend die Kaapkolonie afgeskaf.
1837 – Louis Trichardt se reis begin
Die Voortrekkerleier Louis Trichardt begin op sy epiese reis vanaf die Soutpansberg na Delagoabaai.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Ottoshoop, Geluk, ZAR
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Ingogo, Newcastle, Natal; Buiskoppas, Warmbad
1934 – Ooreenkoms van eenwording
Die kongres van die Suid-Afrikaanse Party aanvaar die voorgestelde ooreenkoms vir eenwording tussen genl. Hertzog en genl. Smuts.
1955 – Die Operavereniging van Suid-Afrika gestig
OPSA het eers afsonderlik en later as vennoot in die Suid-Afrikaanse-Operafederasie daarvoor gesorg dat opera in Afrikaans in Johannesburg en elders in Transvaal tot sy reg kom, sodat onder meer die Johannesburgse Stadskouburg met ’n Afrikaanse opera geopen is. Na die stigting van TRUK is dit in 1962 ontbind.
2004 – Die SS Mendi sink
Die SS Mendi, ’n 4000-ton stoomskip, het die Kaapstadse hawe op 16 Januarie 1917 verlaat op pad na La Havre in Frankryk met lede van die Vyfde Bataljon van die South African Native Labour Contingent (SANLC). Daar was altesaam 805 swart manskappe, 22 wit offisiere en 33 bemanningslede aan boord. Gedurende die oggend van 21 Februarie 1917 het die SS Darro, ’n 11 000-ton passasierskip, suid van die Isle of Wright, met die SS Mendi gebots. Die SS Mendi het binne twintig minute gesink. Seshonderd en sewe swart manskappe, nege wit offisiere en ál 33 bemanningslede het in die Engelse kanaal verdrink. Die kaptein van die SS Darro is later gedissiplineer omdat hy nalatig was. Daar word ook beweer dat hy nie die drenkelinge aan boord geneem het nie. Die SANLC, almal vrywilligers, het tussen 1916 en 1918 nie-gevegspligte verrig. Hierdie ramp word beskou as Suid-Afrika se tweede grootste tragedie gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Op 23 Augustus 2004 het ’n vlootkorvet, die nuwe SS Mendi en die HMS Nottingham van die Britse Vloot, op die ongeluksplek ’n kransleggingseremonie gehou.
GEBOORTES
1894 – Andries Albertus (AA) Pienaar, Afrikaanse skrywer wat onder die skuilnaam Sangiro gepubliseer het († 30 April 1979)
Andries Albertus Pienaar, wat op Broederstroom in die Pretoriase distrik gebore is, gebruik as skuilnaam sy naam onder die Bantoes, Sangiro, wat hasie beteken. In sy dertiende jaar vertrek die Pienaar gesin na Duits-Oos-Afrika, en tot 1913 help Sangiro met die boerdery op sy vader se plaas, Broedersrus, aan die voet van die Meruberg en besoek ‘n skooltjie op ‘n naburige plaas. In 1913 keer hy terug na Suid-Afrika vir vêrdere opleiding aan die Volkskool op Heidelberg (waar hy later ‘n onderwysbetrekking aanvaar) en die Universiteit van Stellenbosch. As student besoek hy so ouers na ses jaar, en die ondervindings wat hy op die besoek opdoen, vorm die materiaal vir: Uit oerwoud en vlakte (1921). Simba (1944) skryf hy na aanleiding van twee rolprent ekspedisies na Tanganjika vir die vervaardiging van twee films Kilimandjaro (1924) en Shaitani (1928). Hy was ook regisseur vir twee ander rolprente: Die Bou van ‘n Nasie en Die Lig van ‘n Eeu. Laasgenoemde is ‘n dokumentêre film oor die Hollandse Kerk in Suid-Afrika. Hy het H.A. Aschenborn se Die Adelaar e.a. Afrikaanse Verhale vertaal. Ander gepubliseerde werke van Sangiro is Op Safari (1925), Diamantkoors (1926), Trekvoëls (1939), en En die Oranje vloei verby (1951). Dit is dikwels teen Sangiro se bekendste werk Uit oerwoud en vlakte ingebring dat dit oorwegend ‘n vertaling uit die Duits van Afrikanische Tierwelt I, Novellen und Erzählungen van Von Schellendorf is. Prof. Dekker het volledig hierop ingegaan en in Afrikaanse Literatuurgeskiedenis tot die slotsom gekom dat Sangiro baie aan sy Duitse bron te danke het, maar nooit Uit oerwoud en vlakte kon laat verskyn het “sonder sy intieme kennis van die Oos-Afrikaanse dierelewe en natuur” nie. Dikwels gaan Sangiro sy eie koers ten goed: “Die sketse het artistiek suiwerder geword as die Duitse, deur die hegter samehang en deur sy gevoelige humor.” Sangiro is op 30 April 1979 op Bloemhof oorlede.
1928 – Dulcie van den Bergh, aktrise († 8 November 1997)
Dulcie van den Bergh was ’n Suid-Afrikaanse aktrise. Gebore as Dulcie Smit. Sy was bekend vir haar TV-rolle as Stienie in Agter Elke Man en die ouma in Orkney Snork Nie. Sy het ook in verskeie rolprente gespeel en was veral ’n bekende stem op Afrikaanse radio.
STERFTES
1936 – Sir Thomas Cullinan, delwer en stigter van die Premier-diamantmaatskappy (* 12 Februarie 1862)
Sir Thomas Cullinan was ’n Suid-Afrikaanse nyweraar en eienaar van die Premier-diamantmyn naby Cullinan. Cullinan is in die Oos-Kaap gebore. Hy tree toe tot die boubedryf en neem ook deel aan die oorloë in die 1870’s. Hy gaan later na die Barberton-omgewing. Hy verhuis daarna na die Witwatersrand en tree toe tot die mynwese. Hy raak betrokke in steen- en teëlproduksie en stig een van die grootste fabrieke in Suid-Afrika by Olifantsfontein in 1896. Hy neem deel aan die Anglo-Boereoorlog en na die oorlog het hy die reg verkry om op die eiendom van Willem Prinsloo te prospekteer. Hy stig die Premier-myn hier in 1902. In sy later jare spits hy hom toe op nywerheidsondernemings. Hy was die een van die pioniers in Suid-Afrika in die produksie van erdewerke en soortgelyke ware. Die Cullinan-diamant en die dorpie Cullinan is na hom vernoem.
1959 – Regter Frederik Edward Traugott (Fritz) Krause, aanklaer in die ZAR, wat later genl. Christiaan de Wet tydens sy rebellieverhoor verdedig het (* 29 April 1868)
1966 – Irma Stern, kunsskilder (* 21 Oktober 1894)
Irma Stern was een van die belangrikste en mees dinamiese Suid-Afrikaanse kunstenaars en ofskoon haar kuns nie aanleiding gegee het tot die ontstaan van ’n bepaalde skool of ’n groot aantal navolgers nie, is haar invloed wel te bespeur, veral in die vroeëre werk van Alexis Preller. Sy was ’n stimulerende invloed in die ontwikkeling van die skilderkuns en kunswaardering in Suid-Afrika en die grootste eksponent van die ekspressionisme in hierdie land.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.