
28 AUGUSTUS
GEBEURE
1842 – Waterloo, Engelse handelskip, strand
Minstens 189 mense het op 28 Augustus 1842 in Tafelbaai verdrink toe die Engelse handelskip, Waterloo, tydens ’n stormsterk noordwestewind gestrand het. Die skip was reeds drie maande op see op ’n sewende vaart met 219 gevangenes, 30 soldate, 5 vroue en 13 kinders op pad na Australië toe die kaptein, Henry Ager, deur die skeepsgeneesheer oorreed is om vars voorrade in die Kaap te kry, omdat baie gevangenes skeurbuik onder lede gehad het. Hy het op die 24ste anker gegooi en aan wal gegaan. Twee dae later het die wind opgesteek wat gepaard gegaan het met swaar reën. Die hoofmas het gebreek en die aand van die 27ste het die Waterloo losgebreek van sy ankers. Die skip is daarna op die strand gedryf en binne ure deur die storm verwoes. Die gevangenes wat oorleef het, is in Oktober op die Cape Packet na Hobart in Australië geneem.
1879 – Cetshwayo gevange geneem
Cetshwayo, laaste van die groot Zoeloe-konings, word gevange geneem deur die Britte aan die einde van die Zoeloe-oorloë.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Presidente Steyn en Kruger beweeg na Nelspruit.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Kruger kry verlof
Op ’n gesamentlike vergadering van die Uitvoerende Rade van beide Republieke stel president MT Steyn voor dat die 74-jarige president Paul Kruger ses maande verlof kry om die republieke se saak in Europa te bevorder.
1902 – Koloniale kommissie van ondersoek word afgekondig
Doktor Leander Starr Jameson kondig die voorgestelde koloniale kommissie van ondersoek na die krygswet in Kaapstad aan.
1945 – Agricura Laboratoria Beperk gestig
Agricura Laboratoria Beperk wat op inisiatief van doktor HO Mönnig gestig is, produseer aanvanklik veemiddels, maar onderneem later ook die vervaardiging van plantinsekmiddels, wat langs hierdie weg ’n wesenlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse landboubedryf lewer.
GEBOORTES
1799 – Susanne Catharina Smit, vrou van Erasmus Smit († 27 Julie 1863)
Susanna Catharina Maritz is op 28 Augustus 1799 in Uitenhage gebore. Teen haar sin is sy op 13-jarige leeftyd met Erasmus Smit in die huwelik bevestig. Twee seuns is uit die huwelik gebore, te wete Salomon en Hermanus Samuel George. Op die Groot Trek het sy belangrike opvoedkundige werk verrig: sy het die Voortrekkerdogters in brei- en naaldwerk onderrig en vir vele kinders letteronderwys gegee. As aktiewe, moedige en diep godsdienstige persoon van rysige gestalte, het sy die Voortrekkervrou versinnebeeld: daagliks is kos gekook, brood in miershope gebak, klere gemaak, wasgoed in riviere en stroompies gewas en soms ook skape geslag en bewerk. Sy het besondere deursettingsvermoë, heldemoed en onverskrokkenheid aan die dag gelê. Susanna was ’n belangrike kampvegter vir die regte van die Voortrekkers en het by die vrouedeputasie se konfrontasie met advokaat Henry Cloete, Britse Kommissaris in Natal, gesê dat hulle eerder kaalvoet oor die Drakensberge sou terugkeer as om te kapituleer. Sedert 1839 het sy en haar man op Pietermaritzburg ’n armoedige bestaan gevoer. Haar dagboek bestaan uit boekies dubbelgevoude foliopapier in die middel met gare aanmekaar geheg, en dek die jare 1842-58. Sy het haar sieklike man getrou versorg en is ’n week vóór hom oorlede. Sy was ’n suster van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz.
1875 – Maria Elizabeth Rothman (MER), skrywer en joernalis († 7 September 1975)
Maria Elisabeth Rothman is op Swellendam gebore. As MER het sy een van die mees geliefde en gewaardeerde skryfsters van die Afrikaanse letterkunde geword. MER was een van die eerste vroue wat in Suid-Afrika ’n BA-graad verwerf het. In 1922 word sy aangestel as die eerste vroueredaktrise van Die Burger. Weens haar daadwerklike belangstelling in maatskaplike werk is sy in 1928 benoem tot die organiserende sekretaresse van die ACVV. In 1938 word ’n Carnegiebeurs aan haar toegeken en het sy ’n studiereis onderneem na die VSA. Ook verskeie Europese lande het sy besoek.
In 1950 ontvang sy twee ere-doktorsgrade: een van die Universiteit van Stellenbosch vir haar maatskaplike dienste en een van die Universiteit van Kaapstad vir haar letterkundige werk. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1953 die Hertzogprys vir prosa aan haar toegeken, en in 1961 die Scheepersprys vir jeuglektuur. In 1965 het die FAK sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens aan haar toegeken. Sedert 1929 het MER in haar geboortedorp, Swellendam, gewoon, waar sy op 7 September 1975 oorlede is, kort nadat die eerbewyse ingestroom het ter geleentheid van haar honderdste verjaardag.
Sy het haar eers op ’n betreklik laat ouderdom op letterkundige werk begin toelê. Sy word bekend in 1920 met ’n jeugboek Kinders van die Voortrek, wat in 1960 opnuut uitgegee is as Die Tweeling trek saam. Daarna het sy nog ’n hele aantal jeugboeke gepubliseer, twee romans, drie bundels, vertellings en verskeie versamelings van joernalistieke sketse. Haar literêre roem dank sy veral aan haar kortverhale, versamel in Onweershoogte en ander verhale (1927), Drie vertellings (1944) en Die Gewers (1950). MER se literêre werk word gekenmerk deur ’n eenvoudige en natuurlike taalgebruik, dikwels verrassende beeldspraak, ’n tere en tog beginselvaste lewenswysheid en ’n intense belangstelling vir die mens en vir menslike verhoudings. Uit haar werk blyk ’n diepgaande kennis van en liefde vir haar land se verlede, mense, tradisies en natuur. Haar laaste publikasie het in 1972 verskyn onder die titel My beskeie deel – ’n Outobiografiese vertelling.
Na haar dood het Alba Bouwer, en Anna Rothman (MER se dogter) asook Rykie van Reenen ’n interessante versameling van haar briewe uitgegee met die passende titel M.E.R., ’n kosbare erfenis (1977).
1890 – George Carey Hobson, skrywer († 14 November 1945)
GC Hobson en SB Hobson was twee Engelssprekende broers wat hulle dierverhale in Afrikaans skryf en die Hertzogprys daarmee verower. Hul was die eerste nie-Afrikaanssprekende skrywers wat die Hertzogprys kon wen.
STERFTES
1961 – Wilhelm Johannes Verwoerd, vader van Hendrik Frensch Verwoerd (* 23 April 1874)
Toe Wilhelmus Johannes Verwoerd op 23 April 1874 in Nieuwer-Amstel, Noord-Holland, Nederland, gebore is, was sy vader, Leendert Verwoerd, 30 en sy moeder, Hendrika Johanna Lucretia van Rijnbach, was 29. Hy trou op 21 September 1898 met Anje Strik in Ouderkerk aan de Amstel, Noord-Holland, Nederland.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook
