
25 AUGUSTUS
GEBEURE
1685 – Kommandeur Simon van der Stel vertrek op sy lang reis na Namakwaland
1900 – Anglo-Boereoorlog: Ontmoeting met Paul Kruger
President MT Steyn kom by Waterval-Onder aan om president Paul Kruger te ontmoet.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Kalkfontein, Zeerust, ZAR
1998 – Pypbom ontplof
’n Pypbom ontplof in die restaurant Planet Hollywood in die Kaapstadse Victoria & Alfred Waterfront. Twee mense sterf en 26 is beseer.
GEBOORTES
1840 – Elizabeth Jane Dijkman, skrywer van die eerste Suid-Afrikaanse kookboek († 5 Mei 1908)
Elizabeth Jane Dijkman (gebore Eckley) is in Londen gebore, maar het aan die Kaap heeltemal verafrikaans na haar huwelik met die sendeling Hendrik Dijkman. Hulle het hulle in 1880 in die Paarl gevestig, waar Dijkman by die drukkers van Die Afrikaanse Patriot gewerk het. Elizabeth het jare lank reeds resepte en rate vir siektes versamel en het besluit om haar kennis van die kookkuns ook tot die beskikking van die Afrikaanse vrou te stel. Haar kookboek, Di Suid-Afrikaanse kook, koek- en resepteboek, wat in 1891 deur die drukkers van Die Afrikaanse Patriot gepubliseer is, was die eerste Suid-Afrikaanse kookboek. Dit het voorsien in ‘n groot behoefte, sodat die kookboek binne twee jaar drie uitgawes en uiteindelik altesame 18 uitgawes beleef het. Geskryf in die taal van Die Patriot en met die spelling van daardie tyd, is die boek van groot kultuurhistoriese betekenis. Dit is ook ’n voorbeeld van die vrou se bydrae in hierdie gedenkwaardige jare toe die Afrikaner van sy eie taal bewus geword het. Sy is op 5 Mei 1908 op Wepener oorlede.
1909 – Prof. Samuel Pauw, tweede rektor van Unisa († 14 Oktober 1974)
Hy verwerf die grade BSc, MA (Sosiologie) en DPhil in 1946 met ’n proefskrif oor Die beroepsarbeid van die Afrikaner in die stad. Sedert 1931 is hy aan die onderwys verbonde, aanvanklik as onderwyser in Springs en Germiston en sedert 1940 as lektor en professor in Pretoria en Stellenbosch in Sosiologie en Maatskaplike Werk. Op 1 April 1956 word hy rektor van die Universiteit van Suid-Afrika en beklee die pos tot met sy uittrede op 31 Maart 1972. Hy is op 14 Oktober 1974 oorlede.
1936 – Johan van der Merwe, kommissaris van Suid-Afrikaanse Polisie (†27 Augustus 2022)
STERFTES
1908 – Jan Hendrik Hofmeyr, teoloog en predikant (* 3 Februarie 1835)
1995 – Rona Rupert, kinderboekskrywer (* 7 Februarie 1934)
2022 – Victor Edouard d’Assonville († 18 Augustus 1927)
Prof. Victor d’Assonville was ’n Suid-Afrikaanse teoloog, skrywer, historikus en professor aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO).
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.