
27 AUGUSTUS
GEBEURE
1818 – Cradock in die Oos-Kaap gestig
Die dorp Cradock is in die Oos-Kaap gestig. Een van Cradock se bekendste besienswaardighede is die Schreiner Huis-museum waar Olive Schreiner die skrywer van die boek The Story of an African Farm, as jong meisie gewoon het. Die huis is een van die oudste wonings wat nog in Cradock staan en bevat onder andere Schreiner se persoonlike boekversameling.
1855 – Pres. JN Boshoff ingehuldig
In ’n eenvoudige inhuldiging voor die Vrystaatse Volksraad het Jacobus Nicolaas Boshoff – tweede president van die Oranje-Vrystaat – beloof om die republikeinse grondwet te eerbiedig en die onafhanklikheid van die staat te beskerm.
1860 – Heidelberg (Transvaal) aangelê
Heidelberg was aanvanklik bekend as Suikerbosrand en was veral deur AG Visser besing. Gedurende 1861 het ene H Ueckermann op ’n grondpad-kruising tussen Kaapstad en Pretoria, asook Durban na Potchefstroom, ’n negosiewinkel begin. Op die 4de Julie 1864 is ’n versoek deur die kerkraad in Pretoria ontvang om daar ’n kerk te bou. Die versoek is toegestaan en op die 17de Oktober is die hoeksteen op die plaas Langlaagte gelê. Die plaas Langlaagte was die eiendom van O.A. Strydom en S.J. Venter. Op die 27ste Augustus 1860 is ’n amptelike versoek tot die Volksraad gerig om ’n dorp te stig en was dit toegestaan. Heidelberg is vernoem na die geboortedorp van Ueckermann en sy broers wat die eerste winkel daar begin het.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Bergendal
1933 – Die eerste volledige Bybel in Afrikaans in gebruik geneem
Die vertaling van die Bybel in Afrikaans lê ten grondslag van die Eerste en die Tweede Taalbeweging van ongeveer 1872 en 1902. Al die ander bedrywighede van die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners van 1875 en daarna het eweneens die Bybel in Afrikaans as motief en beginsel ondersteun. In 1884 het ds. SJ du Toit formeel met die vertaling begin. In 1912 het ds. WJ Conradie se Kinderbybel die lig gesien. ’n Proefuitgawe van die Evangelies en die Psalms het in 1920 verskyn.
In 1923 het ’n groep van die eindvertalers die taak grootliks heeltyds aangepak – drr. JD du Toit (Totius), JD Kestell en HCM Fourie. Hulle proefuitgawe is in 1929 met geesdrif ontvang. En toe, in 1933, het die Bybel volledig in Afrikaans verskyn. Die eerste besending van 10 000 Bybels is in Mei 1933 in Kaapstad afgelaai. Intussen het verdere besendings van 10 000 Bybels elk aangekom. In elke gemeente is feesgevier. Die Bybel was in ons eie taal, in Afrikaans, beskikbaar!
Op ’n sentrale byeenkoms in Bloemfontein het 5 000 mense in die Marksaal vergader. Elders het ’n soortgelyke getal kinders en jong mense byeengekom. Die ontvangs was veral geseënd omdat die Bybel in ’n tyd van politieke onbestendigheid, ekonomiese agteruitgang en ’n teisterende droogte verskyn het. Die Afrikaner het later deeglik besef dat God in sy genade op die regte tydstip die Woord in Afrikaans besorg het toe alle ander aardse sekerhede rondom die Afrikaner begin tuimel het. Geen wonder nie dat 150 000 eksemplare in 1933 alleen versprei is.
1954 – Sasolburg geproklameer
Sasolburg in die noordelike Vrystaat was ’n miernes van bedrywighede met agtduisend inwoners, toe die dorp op 27 Augustus 1954 geproklameer is. Aanvanklik is ’n ligging langs die Vaalrivier oorweeg, maar mis in die winter en muskiete in die somer het aanleiding gegee dat die dorp verder weg beplan is. Sasolburg het eintlik reeds in 1952 ontstaan as huisvesting vir Sasol se personeel. Daar is eers van ’n pont gebruik gemaak om die Vaalrivier te kruis, wat later deur die Baddrifbrug vervang is. Daar was geen winkels nie en voorrade moes in Vereeniging of Vanderbijlpark aangekoop word tot die eerste winkel in 1953 geopen is. Daar was ook nie elektrisiteit nie en drinkwater was skaars – badwater nog skaarser. Die eerste immigrante was uit Denemarke en dit word vertel van een wat gesê het: “I arrived at ze place at night and saw nuzzing. Next morning there was still nuzzing to be seen but I could see it better”.
1962 – Die Johannesburgse Stadskouburg geopen met opera in Afrikaans
Sedert die Stadsraad van Johannesburg in 1929 gemoeid geraak het met die aanbied van operas – Faust van Gounod was die eerste – het die belangstelling van die gemeenskap met elke jaarlikse seisoen toegeneem. Toe daar besluit is om die Burgersentrum in Braamfontein te bou, is daar ook wyslik besluit om ’n kompleks vir uitvoerende kunste as deel van daardie sentrum op te rig. Die Stadskouburg is die eerste deel van ’n drieledige kompleks. ’n Konsertsaal en ’n dramateater moet bygevoeg word.
Deur die jare heen het die Afrikaner se belangstelling in die stad Johannesburg se aksie uitvoerende kunste toegeneem. Daarom was die amptelike ingebruikneming van die Stadskouburg (1 120 sitplekke) op 27 Augustus 1962 vir die Afrikaner ’n belangrike mylpaal in die merkwaardige kulturele aktiwiteit van ’n stad wat in daardie stadium ’n bietjie meer as ’n driekwart eeu gelede ’n stowwerige rumoerige mynkamp was. Afrikaans en die Afrikaner het ’n integrerende deel van die inwydingsfees uitgemaak. Mnr. Eben Cuyler, ’n Johannesburger, was een van die stadsvaders wat hom beywer het vir die bou van ’n stadskouburg. Die eerste aanbieding was die opera Die Verhale van Hoffman deur Jacques Offenbach, wat in Afrikaans opgevoer is. Die Stadsvaders het ’n jong Johannesburgse Afrikaner, mnr. Michal Grobbelaar, as direkteur van die Stadskouburg aangestel – die eerste teater in sy soort in Suid-Afrika wat geheel en al op ’n beroepsgrondslag beheer en bestuur word.
Toe die voorgordyn vir die eerste keer opgetrek is op 28 Augustus 1962, was dit in teenwoordigheid van die Republiek se eerste Staatspresident adv. CR Swart, en sy gade, en die Eerste Minister, dr. HF Verwoerd, en mev. Verwoerd. Die dirigent vir die opvoering was ook ’n Johannesburgse Afrikaner, dr. Anton Hartman. Ons land se voorste sopraan, Mimi Coertse, is van die Staatsopera in Wenen, Oostenryk, gebring om die hoofrol te sing. Die manlike hoofrolle is deur Gé Korsten en Hans van Heerden vertolk. Die Johannesburgse Afrikaanse Toneelkomitee, onder voorsitterskap van mnr. Siegfried Kuschke, was verantwoordelik vir die Afrikaanse drama-aanbieding van die inwydingsfees, Die Besoek van die Ou Dame deur Durrenmatt, wat deur Bartho Smit vertaal is. Anna Neethling-Pohl en dr. Jan Schutte het die hoofrolle vertolk. Die heer Fred Engelen het die spelleiding gedoen, terwyl Kobus Esterhuysen vir ’n baie verbeeldingryke dekor-stel gesorg het.
1966 – Die Transvaalse Koorraad gestig
Hierdie liggaam het sy ontstaan in die eerste plek te danke aan die suksesvolle optrede van die Republiekfeeskoor in 1966 by die Sentrale Fees by die Voortrekkermonument. Die geesdrif van die persone wat deelgeneem het, het diegene wat die leiding op hulle geneem het, laat besef dat die geleentheid nog nie verby is om ons volk tot ’n singende volk te inspireer nie. Die Koorraad het dus opgetree as ’n koördinerende liggaam vir die verskillende kore en aanverwante verenigings en het daadwerklik bygedra tot die bevordering van sang in die algemeen deur die reël van plaaslike koorfeeste en ook koorfeeste op provinsiale of streeksbasis.
1969 – Dr. Christiaan Barnard plant die eerste keer kunsmatige slagare suksesvol oor
1980 – Bergendalmonument onthul
GEBOORTES
1878 – Jopie Fourie, ’n Boerekryger en rebelleleier († 20 Desember 1914)
Jopie Fourie was ’n Boerekryger in die Anglo-Boereoorlog. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was hy ‘n offisier in die Suid-Afrikaanse Burgermag. Sonder om te bedank, het hy by die rebellie aangesluit. Hy is gevang, verhoor, ter dood veroordeel en gefusilleer.
1893 – Genl. Daniël Hermanus (Dan) Pienaar, militêre bevelvoerder († 19 Desember 1942)
Dan Pienaar CB DSO was ’n Suid-Afrikaanse generaal-majoor en ’n militêre leier in die Tweede Wêreldoorlog.
1924 – Ds. Vidius Nel, predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk († 31 Maart 2007)
1947 – Fred Mouton, spotprenttekenaar († 4 Mei 2022)
STERFTES
1919 – Louis Botha, Boeregeneraal en eerste minister van die Unie van Suid-Afrika (* 27 September 1862)
Louis Botha, een van 13 kinders wat na sy geboorte op hierdie dag, op die plaas Hartebeesvlakte naby Greytown in Natal gewoon het, het slegs 57 jaar oud geword. Treffend in voorkoms, met sy donker hare en potblou oë, was hy ’n vooruitstrewende boer, ywerige politikus, een van ons grootste generaals, staatsman en volksleier. As jong man het Botha in die Transvaalse politieke lewe betrokke geraak en in Pretoria, asook op sy spogplaas Waterval naby Vryheid, gewoon. Hy het gedurig sy kennis van boerdery aangevul en sou ’n baie welgestelde man word. In die Volksraad van die ZAR was hy ondersteuner van genl. Piet Joubert. Dié ou man was baie lief vir die skrander Louis en dit was Joubert se begeerte dat Botha hom na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sou opvolg as kommandant-generaal van Transvaal, iets wat toe ook so gebeur het. Voordat dit egter geskied het, was hy ’n veldkornet, ’n vrederegter, en het hy ’n rol gespeel in die Nuwe Republiek wat later by Transvaal ingelyf is. Hy het ook die getroue vriendskap van die invloedryke Lucas Meyer gewen, hy was kontrakteur, maar bowenal aktiewe Volksraadslid, boer en krygsman. Natal was sy wêreld, en die Natallers het nog lank na sy dood sy nagedagtenis vereer. Teen 1900 was genl. Louis Botha een van die beroemdste mense in die wêreld, die held van Colenso en Spioenkop. Hy was ’n natuurlike strateeg, maar het ook heelwat van sy vriend genl. De la Rey geleer. Met pres. Kruger se vertrek na Europa was Botha die wesenlike leier van Transvaal, een van ’n luisterryke driemanskap saam met genls. De la Rey en De Wet. Dit was ook hulle wat saam Europa toe gegaan het om geld in te samel vir hul geteisterde volk.
Sy eerste politieke party het dan ook Het Volk geheet. Botha was instrumenteel saam met Jan Smuts, om selfregering vir Transvaal en die Vrystaat te verkry, en Botha het outomaties Eerste Minister van Transvaal geword. Hy, Smuts en ander lede het toe begin werk vir die federasie of unifikasie van die kolonies en protektorate wat Suid-Afrika uitgemaak het. In 1910 het ’n Unie tot stand gekom en genl. Louis Botha is, tot wêreldwye verbasing, verkies tot Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika – ‘n Boer! Baie het gewonder waarom daar ooit oorlog was. Botha was dus die eerste premier wat in Cecil Rhodes se herehuis, Groote Schuur ingetrek het. Botha se politieke party het destyds die Suid-Afrikaanse Party geheet. Hy en Smuts het geglo aan ’n beleid wat as konsiliasie tussen die volksgroepe geformuleer is. Hulle geneentheid jeens Engeland het egter geleidelik baie van hul mense begin vervreem en in genls. Hertzog en De Wet sou hul gedugte teenstanders kry. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Botha en sy party besluit om Brittanje by te staan en Duitswes-Afrika en Oos-Afrika, beide Duitse kolonies, te verower. Hierdie besluit onder Smuts was Botha se grootste oordeelsfout en die gevolg was ’n tragiese Rebellie. Botha het Duitswes sonder moeite verower, maar sy gesondheid was aan die versleg en hy het tydelik op die agtergrond getree. Nadat hy die Vredeskonferensie in Europa bygewoon en na Suid-Afrika teruggekeer het, het Botha sy politieke bedrywighede hervat, net om skielik op 27 Augustus 1919 op Standerton te sterf. Die hele volk, selfs sy vyande, was geskok, en geleidelik het een na die ander standbeeld van hierdie man verrys. Te midde van sy oordeelsfout om saam met genl. Smuts en Brittanje teen Duitsland te veg, het hy ’n sleutelfiguur in ons wordingsgeskiedenis geword.
1948 – Jozua Francois Naudé, onderwyser en predikant (* 20 Maart 1873)
Jozua Francois Naudé is in Middelburg, Kaap, gebore. Na sy opleiding as onderwyser in Kaapstad, gee hy onderwys aan die Goeie Hoopskool in Germiston. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is hy veldprediker, veral by genl. Beyers, op wie hy ’n sterk invloed uitoefen. Sy oorlogservarings en belangrike foto’s publiseer hy daarna in sy boek Vechten en Vluchten. Na die oorlog word hy predikant van die NG Kerk en staan in die volgende gemeentes: Roodepoort, Piet Retief en Graaff-Reinet. As skriba van die Transvaalse Sinode, skryf hy die eerste notule in Afrikaans. Hy was ook lid van die Kommissie vir die Afrikaanse Bybelvertaling en het hom van harte aan die bevordering van Afrikaans gewy. As onvermoeide kampvegter vir moedertaalonderwys, het hy in 1918 ’n reuse-aandeel in die stigting van die eerste Afrikaanse laerskool in Transvaal, op Roodepoort, wat vandag sy naam dra, en op Graaff-Reinet het hy die eerste Afrikaansmediumskool in Kaapland, nl. Die Hoër Volkskool (Junie 1920) gestig. Hy was ook die eerste predikant wat Afrikaans van die Kansel in Graaff-Reinet se kerk gebruik het. As kerkman, volksman en onderwysman, was hy ’n baanbreker. Hy is op 27 Augustus 1948 op Graaff-Reinet oorlede.
1997 – Nicolaas Georg (Klaas) Steytler, skrywer en voormalige redakteur van Die Huisgenoot (* 20 April 1922)
Klaas Steytler was ’n skrywer, wat veral misdaad- en speurverhale geskryf het. Hy debuteer onder die naam NG Steytler, maar verskeie van sy werke verskyn onder die skuilnaam Jan Harmse.
2022 – Johan Velde van der Merwe, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie (*25 Augustus 1936)
Generaal Johan van der Merwe was ’n Suid-Afrikaanse polisiebeampte. Hy het senior poste in die Veiligheidstak beklee en was Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie van 1990 tot 1995.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook