30 AUGUSTUS

GEBEURE

1900 – Anglo-Boereoorlog: Krygsgevangenes vrygelaat

Genl. Ben Viljoen laat ongeveer 2 000 Britse krygsgevangenes vry van die kamp by Nooitgedacht.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Beset Waterval-Boven en Waterval-Onder

Die Britte onder generaal French beset Waterval-Boven en Waterval-Onder in Oos-Transvaal.

1904 – Die Kondervatorium van die Universiteit van Stellenbosch kry beslag

Die voorneme om ’n Konservatorium tot stand te bring kan amptelik terug herlei word na ’n besluit op 30 Augustus 1904 en klasse het die volgende jaar daar begin. Dit maak hierdie Konservatorium die oudste van sy soort in Suid-Afrika.

1933 – Familiebybel in Afrikaans verskyn

Die Familiebybel in die vorm van die State-Vertaling het ’n baie belangrike rol by huisgodsdiens in die Afrikaanse gesinsverband gespeel; hiermee in gedagte is besluit om met die verskyning van die revisie van die Afrikaanse Vertaling, ’n Familiebybel in Afrikaans vir Afrikaanse gesinne beskikbaar te stel.

1963 – Kenneth Abrahams sal teruggestuur word

Suid-Afrika se eerste minister, dr. HF Verwoerd, het op 30 Augustus 1963 in ’n verklaring voor die Kaapstadse hooggeregshof gesê dat die Namibiese aktivis, dr. Kenneth Abrahams wat in Betsjoeanaland (Botswana) deur Suid-Afrikaanse magte ontvoer is, teruggestuur sal word. Drie ander SWAPO-lede, insluitende Hannes Beukes wat op 11 Augustus saam met Abrahams ontvoer is, sou ook teruggestuur word. Dit was een van die eerste oorgrensontvoerings wat Suid-Afrikaanse magte in buurlande uitgevoer het. Die VN het in September sy kommer oor Suid-Afrika se skending van grense uitgespreek.

 

GEBOORTES

1862 – Nicolaas Pieter Johannes (Siener) van Rensburg, toekomsvoorspeller († 11 Maart 1926)

Nicolaas Pieter Johannes (Niklaas of Siener) Janse van Rensburg was ’n Boer in die Zuid-Afrikaansche Republiek – ook bekend as Transvaal – en later ’n burger van Suid-Afrika wat deur sy volksgenote as ’n profeet van die Boere beskou is. Gevolglik het hy bekend gestaan as Siener van Rensburg. Sy akkurate voorspellings van toekomstige gebeure het bestaan uit patriotiese en godsdienstige beelde. Gedurende die Anglo-Boereoorlog het hy ’n goeie reputasie onder die Boere opgebou en ’n getroue kameraad en adviseur van genl. Koos de la Rey en pres. MT Steyn geword.

 

STERFTES

1971 – Prof. Theodorus Johannes Haarhoff, skrywer en letterkundige (* 30 April 1892)

Theodorus Johannes Haarhoff is op 30 April 1892 in die Paarl gebore waar hy sy skoolopleiding ontvang het. Hy is daarna na die SA Kollege in Kaapstad. Op grond van sy skitterende prestasie in die studie Honns. BA-studie is die Rhodes- en Porter-beurs aan hom toegeken. Hy het aan vier buitelandse universiteite gestudeer en twee doktorate in die klassieke tale – een aan Oxford en die ander in Amsterdam – verwerf. In 1919 word hy lektor in klassieke lettere aan die Universiteit van Kaapstad en in 1932 hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand. Danksy sy lesings in Afrikaans word dit ‘n vak in die toelatingseksamen van Oxford. Hy het twee digbundels en vyf prosawerke die lig laat sien. Prof. Haarhoff het ook C.M. van den Heever se Somer (Harvest Home) vertaal, en enkele werke in Engels geskryf, onder meer Afrikaans, Its Origin and Development.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/