1 DESEMBER

GEBEURE

1834 – Vrystelling van slawe

Slawerny aan die Kaap was anders as op die plantasies van Noord-Amerika en Wes-Indië. Slawe was deel van die huishouding; hulle het opleiding geniet, en die skandale van Wes-Indië was onbekend. Tog is owerheidsmaatreëls mettertyd ingestel om die behandeling, kleredrag en voedsel van slawe tot in die fynste besonderhede te bepaal. Hulle werkure was gevolglik beter as die merendeel fabrieks- en mynwerkers in Brittanje. Die slawe-eienaars staan geleidelik afskaffing voor, maar die Britse regering besluit tot onmiddellike vrystelling vanaf 1 Augustus 1834 in die res van die Ryk en vanaf 1 Desember aan die Kaap. Van die 39 021 slawe was 5731 kinders onder ses jaar, en ook 3276 bejaardes en siekes. Die orige 35 745 word teen £3 041 290 gewaardeer, maar Brittanje betaal slegs £1 247 401 skadevergoeding, boonop in staatseffekte en in Londen. Slawe-eienaars kry uiteindelik slegs 41% van die waardasie. Veral die manier van uitbetaling verwek groot wrewel, en daar word bankrotskap en ellende en armoede en ’n skaarste aan arbeiders voorspel. Uiteindelik was die teendeel die geval en die invloei van kompensasiegeld lei tot ’n verbetering van die Kolonie se ekonomie. Boonop verloor gewese slawe-eienaars nie hul arbeiders nie, want dié moes vier jaar lank by hul vorige eienaars ingeboek bly. Na die vier jaar bly die oorgrote meerderheid ook by hulle in diens. Selfs vrygestelde slawe wat deur Voortrekkers meegeneem is, weier om na die Kolonie terug te keer. Die vrystelling van slawe was ook nie ’n noemenswaardige oorsaak van die Groot Trek nie, want die grootste slawebesit was in die Wes-Kaap wat slegs 2% van die Trekkers opgelewer het.

1847 – Harry Smith as goewerneur aan die Kaap ingesweer

1848 – Die Mitchellspas wat die dorpe Ceres en Wellington in die Wes-Kaap verbind, geopen

1880 – Die spoorlyn tussen Durban en Pietermaritzburg voltooi

Die bou van die spoorlyn wat Durban en Pietermaritzburg verbind, is in 1880 voltooi, die twintigste herdenking van spoorweë in Suid-Afrika. Die lyn is gebou as gevolg van ’n toenemende behoefte aan vervoer, aangesien Natal sy stand moes hou in die vooruitgang van die handel en die algemene vooruitgang in Suid-Afrika. Die wetgewende raad van die Natalse Kolonie het in 1875 die bou van hierdie spoorlyn, insluitend sylyne na Isipingo en Verulam, goedgekeur. Sir Henry Bulwer, goewerneur van Natal, het op 1 Januarie 1876 die eerste sooi gedraai. Weens die bergagtige terrein tussen Durban en Pietermaritzburg het die bou van die lyn vier jaar geneem. ’n Militêre orkes het “See the conquering hero comes” gespeel toe die eerste trein Pietermaritzburg binnegestoom het.

1880 – Boodskappe oor volksvergadering

Op 1 en 2 Desember 1880 word boodskappe onder burgers van Transvaal versprei om hulself gereed te maak vir ’n volksvergadering by Paardekraal. Hulle is aangemoedig om voorbereid en gewapend na die vergadering te kom. Burgers wat nie op die oproep sou reageer nie, sou boonop as vyande van die stryd om die herstel van die Boererepubliek geag word. Een boodskap lê voorts klem daarop dat “indien u iets vir u vryheid wil doen, is dit nou die tyd.” In daardie stadium het gemoedere in Transvaal – wat sedert 1877 onder Britse beheer was – op ’n naaldpunt gerus en die toestand was “dreigende op bloed”. Enkele dae later het ’n grootskaalse volksvergadering by Paardekraal (in die teenswoordige Krugersdorp) plaasgevind waartydens die finale besluit geneem is om die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) te herstel en die Vierkleur is gehys. Tussen 8000 en 10 000 mense het die byeenkoms bygewoon. Die Eerste Vryheidsoorlog het kort hierna uitgebreek.

1914 – Rebellie: Genl. CR de Wet gevang

Na liggaam en siel moeg en hulle perde uitgeput en dors, het generaal CR de Wet en sy manskappe op 30 November 1914 op ’n waterryke plekkie tussen die sandduine afgekom – ’n ware paradys waar daar volop gras, water en koelte was. Ten tye hiervan, met die wete dat die rebellie weinig hoop op welslae het, was De Wet en sy klompie volgelinge op weg na Duitswes-Afrika, waar hulle met generaal Jan Kemp in aanraking wou kom. Hoewel De Wet steeds nie die vrede vertrou het nie, moes hulle noodgedwonge ’n dag lank daar uitrus. Met sonsopkoms die volgende oggend weerklink die opdrag: “Ons moet begin trek!” Maar, helaas, vanuit verskillende rigtings kom regeringsoldate op hulle af. Onversteurd oorhandig hy sy Mauserpistool aan kolonel JF Jordaan met die woorde: “Ek is bly dat dit ’n Afrikaner is wat my gevang het, want die eer – as dit n eer is – kom alleen ’n Afrikaner toe.” De Wet, vir die eerste keer ’n gevangene, is met eerbied behandel op die tog na die Fort in Johannesburg. Na liggaam was hy hulle gevangene, maar sy gees steeds onoorwinbaar en vry soos altyd. In die Fort is hy in eensaamheid opgesluit, waar hy weer ’n ernstige selfondersoek doen. Sy gewete is egter skoon, want hy en sy mense het teen ’n onreg protes aangeteken, ’n protes wat vir die toekomstige geslagte sou getuig dat sy volk nog ’n gewete het. Oor die Regering se besluit om oorlog te verklaar en Suidwes-Afrika binne te val, vertel hy later self: “Ek het gedink aan die vloek van God wat op die volk gaan rus as hy hom skuldig maak aan landrowing. Nadat ek eers begin optree het, het ek vrede gehad. Ek het geen knaende gewete gehad nie. Al het ek nie daarin geslaag om die goddelose inval op die gebied van ’n volk wat ons geen kwaad gedoen het nie, te keer nie, dan het ek tog probeer.” De Wet is in Bloemfontein verhoor en tot £2 000 boete en ses jaar gevangenisstraf gevonnis, waarop hy fier aan die regters wat die vonnis gevel het, gevra het: “Is that all?”

1948 – SA Buro vir Rasseaangeleenthede gestig

 

GEBOORTES

 

STERFTES

2007 – Elisabeth Fransoise (Elisabeth) Eybers, bekroonde digter en ontvanger van die Hertzogprys (* 26 Februarie 1915)

Elisabeth Eybers was ’n bekende Afrikaanse digteres en die eerste vrou wat die Hertzogprys vir poësie gewen het.

Haar pa was een van die eerste predikante in die NG Kerk wat in Afrikaans eerder as Nederlands gepreek het, en baie van haar eerste digbundels is geïnspireer deur die huisbesoeke wat sy saam met hom op Schweizer-Reneke afgelê het. In 1932 het sy aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg, waar CM van den Heever hoogleraar was, begin studeer. Sy was aktief betrokke by die Afrikaanse toneel wat die studente jaarliks opgevoer het. In 1934 het sy haar BA-graad met Duits en Afrikaans verwerf gevolg deur ’n BA-honneursgraad met lof in die volgende jaar met ’n verhandeling getiteld “Die ontwikkeling van individualisme in Afrikaanse liriek”. In 1937 is sy getroud met dr. Albert Wessels, die latere stigter van Toyota Suid-Afrika.

Nadat sy en dr. Wessels in 1961 geskei is, het sy na Nederland geëmigreer, maar steeds ’n lewendige belangstelling in ontwikkelings in Suid-Afrika getoon. Na haar emigrasie het haar digterskap ’n verruiming getoon aangesien sy vir gewone kommunikasie ’n ander taal moes aanleer, en ook aan ’n nuwe omgewing gewoond moes raak terwyl sy haar steeds vreemd gevoel het en aanvanklik gesukkel het om aan te pas. Dit het haar tematiek en woordgebruik verruim.

Sy het eredoktorsgrade van die Universiteit van die Witwatersrand, die Randse Afrikaanse Universiteit, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch ontvang en in 1999 het oudpresident Nelson Mandela die Orde van Voortreflike Diens aan haar toegeken. Die Hertzogprys vir poësie is in 1943 en 1971 aan haar toegeken.

Sy is op 1 Desember 2007 in die ouderdom van 92 jaar in die Nederlandse hoofstad Amsterdam oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/