11 JULIE

GEBEURE

1775 – Kaapkolonie se grens verskuif

Die Kaapkolonie se grens is op 11 Julie 1775 na die Vis- en Boesmanrivier verskuif toe die boere besluit het om verder van die VOC se regeringsbestel weg te trek. Die owerhede het in daardie stadium die Gamtoosrivier as die oostelike grens van die kolonie bestempel, maar die trekkers het dit oorgesteek. In ’n poging om botsing met die Xhosas te verhoed, het die Nederlanders vyf jaar later ingestem om die Groot-Visrivier die grens van die kolonie te maak. In 1795 het die swaar-belaste boere van die grensdistrikte, wat geen beskerming teen die Xhosa geniet het nie en onderwerp was aan streng reëls deur die owerhede in Kaapstad en in Europa, die amptenare van die VOC uitgedryf nadat onafhanklike regerings by Swellendam en Graaff-Reinet ingestel is.

1830 – Derde orrel vir Groote Kerk in Kaapstad

’n Derde orrel vir die Groote Kerk in Kaapstad is op 11 Julie 1830 ingewy. Toe gemeentesang vroeg in die 18de eeu groot mode in Nederland geword het, het die kerkraad in die Kaap ’n versoek vir ’n orrel aan die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (NOIK) gerig om een uit Holland te stuur, maar dit is geweier. Met die aankoms van ’n orrelbouer, Jan Poosen in 1735 in die Kaap, het die goewerneur, Jan de la Fontaine, hom opdrag gegee om ’n orrel vir sy dogter te bou, wat met sy terugkeer na Nederland deur die kerkraad vir 500 gulden gekoop is. Dié orrel is tot 1752 gebruik toe dit deur ’n nuwe een vervang is. Nog ’n orrel is in 1788 gekoop, maar was ook nie tot almal se tevredenheid nie. Uiteindelik het ’n welgestelde handelaar, Jan Hoets, ’n groot bedrag geld geskenk en ’n derde orrel kon van Bevington in Engeland aangekoop word. Dié orrel is in 1887 en 1923 herbou. Meer as 60 jaar gelede het die kerkraad besluit om die Hoets-orrel te vervang deur ’n nuwe een wat teen £17 500 deur Pelz en Zoon van Alkmaar, Nederland gebou is. Die nuwe orrel, met 75 registers en 4 manuale, is in 1957 deur dr. AJ van der Merwe ingewy.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Silkaatsnek

Die Slag van Silkaatsnek het op 11 Julie 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind by Silkaatsnek, digby die hedendaagse Hartbeespoortdam. Hier het die Boeremagte onder leiding van genl. Koos de la Rey ’n klinkende oorwinning oor die Britse magte, onder leiding van kmdt.HR Roberts, behaal.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Dwarsvlei, Witpoort en Onderstepoort, ZAR

1901 – Anglo-Boereoorlog: Vrystaatse Uitvoerende Raad word gevang

Die volledige Vrystaatse Uitvoerende Raad, behalwe die president wat ontsnap het met die hulp van Ruiter, word deur genl. Broadwood in Reitz gevang en na Heilbron as gevangenes gestuur.

1917 – Kongres van die Helpmekaar vind plaas op Middelburg, Kaap

Ná die Rebellie van 1914 moes die rebellieskuld en -boetes, wat in Transvaal en veral in die Vrystaat enorme bedrae beloop het, terugbetaal word. Aanvanklik het elke kommando sy eie skuld probeer betaal, maar selfs ná duisende onselfsugtige bydraes was die skuld nog meer as honderd duisend pond. By ’n bespreking tussen JH van Barneveld, dr. DF Malan en adv. HS van Zijl is daar besef dat ’n groot poging aangewend moet word om die agterstallige bedrae te verhaal. Die Helpmekaarvereniging, wat gestig is om rebelleskuld te help vereffen, het hierin ’n groot rol gespeel. Op 11 en 12 Julie 1917 is ’n Helpmekaarkongres op Middelburg in die Kaap onder voorsitterskap van adv. HS van Zijl gehou, waarop die toenmalige stand van geldsake blootgelê is. Die feite was skokkend. Al die geld wat reeds in Kaapland ingesamel is, was nie eers genoeg om die rente op die verskuldigde bedrae te betaal nie. Mnr. R van der Merwe, sekretaris van die Vrystaatse Helpmekaar, het die toestand in die Vrystaat uiteengesit en die kongres het deur die ongelooflike bedrae soos aangestip onder die volle besef gekom van die erns van die saak. Toe is daar besluit om ’n fonds te stig om so spoedig moontlik die rebelleskuld te help delg. Hierdie feite was vir die Afrikaner ’n ontnugtering aangesien die volk gemeen het dat die grootste werk reeds afgehandel was. Dit het die volk laat besef, soos De Burger ook bepleit het “dat er geen verslapping mag zijn, maar dat het veeleer noodzakelik is om meer dan ooit tevoren alle krachten in te spannen”. Self het die koerant ’n onmiskenbare bydrae gelewer tot die aansporing vir insameling van meer geld. Ook dr. DF Malan het na aanleiding van die kongres die Helpmekaarsaak met groot krag bepleit. Uit die ouditeursverslag van die Vrystaatse Hellpmekaarvereniging is vasgestel dat die totale tekort 104 250 pond beloop. De Burger het dit duidelik gestel dat “mensen die gereed zijn, zich op die manier zelf te helpen, zijn voorwaar de hulp van andere waardig”, verwysende na die groot somme geld wat reeds deur die rebelleprovinsies ingesamel is. Aangesien die kongres goed gepropageer is en artikels daaroor in die pers verskyn het, kon dit die Afrikaner laat besef dat: “Het werk van de Helpmekaar (niet) voorbij (zijn); het is pas begonnen.” De Burger se versugting dat die kongres te Middelburg “een aansporing tot nieuwe ijver en geestdrift” sou wees, is spoedig verwesenlik. Kort na afloop van die kongres het HC Wilcocks ’n versoek aan die Sentrale Bestuur van die Middelburgse Helpmekaartak gerig om op 10 November 1917 Helpmekaardag deur die Unie te vier. Uit die besieling van die Middelburg-kongres is Helpmekaardae oral in die land gehou, met uitstekende opbrengste. Hierdie kongres was ook die inspirasie vir mnr Japie de Villiers van die Paarl, wat met sy 500-pond fonds meegehelp het dat die rebelleskuld betaal en ’n oorskot vir volksake oorgehou kon word. Hy het aangebied om 500 pond aan die fonds te skenk indien nog 100 mense bereid sou wees om elk 100 pond by te dra. Dit het geweldige geesdrif vir die fonds ontlok. Die feit dat die kongres op Middelburg in die Kaapprovinsie gehou is, het die koloniale Afrikaners bewus gemaak van die politieke situasie en probleme in die Noorde. Dit het meegebring dat die historiese kloof wat sedert die Groot Trek tussen Noord en Suid ontstaan het, grootliks oorbrug is. Die Afrikaner het homself herontdek – hy het ’n samehorigheidsgevoel ontdek, gebore uit die nood van die volks- en landsgenote. Die Helpmekaarkongres op Middelburg het die Helpmekaarbeweging ’n nasionale beweging gemaak, ’n volkseie-saak waarop met dankbaarheid en trots teruggekyk kon word, want dit was ’n tyd waarin ons kon leer hoe ’n volk behoort saam te werk wanneer daar nood is.

 

GEBOORTES

1844 – Samuel (Sammy) Marks, nyweraar en finansier († 18 Februarie 1920)

1862 – Antonie Michael Prinsloo, Boeregeneraal († 1931)

1904 – Anna Wilhelmina (Anna) Rothmann, skrywer († 6 Oktober 2000)

Anna Wilhelmina Rothmann was ’n Afrikaanse skrywer en die dogter van MER. Sy het jeugboeke en een historiese boek geskryf, asook vertaalwerk na Afrikaans gedoen.

 

STERFTES

2007 – William Frederick (Bill) Flynn, akteur (* 13 Desember 1948)

Bill Flynn was ’n akteur. Hy het in meer as 140 toneelstukke, musiekblyspele, 42 films en talle TV-programme en duisende radio- en TV-advertensies gespeel. Hy was ook die hoofsanger van Vinnie and The Viscounts.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook